top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 6 : Beheer van die tong (1)


Jak 3:1 – “My broers (en susters), julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word.”


Vergelyk ook Matt 12:36-37 – “Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”


Jakobus vestig nou die aandag van sy lesers op moontlike leermeesters in hul midde of “dit kan ook verwys na die oormoedige gesindheid van gemeentelede wat slimmer wou wees as diegene wat wel in die posisie van leraars was en gemeen het dat hulle dit self beter sou kon doen” (Dr. EAC Pretorius). Dit was natuurlik heeltemal teenstrydig met sy waarskuwing in 1:19 om eerder goeie luisteraars te wil wees as as om haastig te wil praat en om dan terselfdertyd die woede te vermy.


Dit blyk dat verskeie leermeesters hulle skuldig gemaak het aan los praatjies wat ‘n verwoestende mag op die Christelike lewe gehad het. Verkeerde uitsprake het groot skade aangerig veral teenoor gewone gelowiges en daarom probeer Jakobus hulle waarsku om hul perspektiewe in orde te kry: “julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word.”


In die beginjare van die kerk het daar baie “leermeesters” ontstaan want dit het finansiële voordele ingehou. Om legimiteit te verkry het dit beteken om soveel moontlik volgelinge aan hul kant te kry al het dit beteken om ander leermeesters in onguns te bring deur onwaarhede van hulle te verkondig. Hierdie verkeerde manier van “selfverheffende praatlustigheid” het tot gevolg gehad dat baie onwaarhede die lig gesien het en gelowiges laat twyfel het.


‘n “Leermeester” wat gesag wil afdwing is iemand wat verantwoordelik optree en nie beterweterig is nie. Dit gaan oor nederigheid, gewillig om geleer te word en nie oor status nie. Wat ons sê, bind ons optrede byvoorbaat. Dit is iemand wat selfbeheersing aan die dag kan lê wat ‘n vloedgolf van moontlike probleme kan keer.


“‘n Goeie leermeester bring die woord in sy volle waarheid, praat nie suutjies daaroor nie en is nie terughoudend nie” (Elsje Büchner)


Gebed: Here, help ons om nie met onbedagsame woorde bo-oor ander se gevoelens loop nie. Help ons om nie onnadenkend te praat sodat ons skade met ons woorde aanrig nie. Skenk ons U sagtheid en maak ons sensitief vir ander se behoeftes. Amen.


 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page