E-Kerk - Gedagte vir Vandag
Gevaarpunt 4 : Diskriminasie (3)
Jak 2:8-11 – “As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,’ dan doen julle reg. Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. As iemand die hele wet onderhou maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. God wat gesê het: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie,’ het ook gesê: ‘Jy mag nie moord pleeg nie.’ As jy nou nie egbreuk pleeg nie maar wel moord, is jy tog ‘n oortreder van die hele wet.”
Vergelyk ook Lev 19:15 – “Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste.”
Jakobus argumenteer verder deur die vereistes van die wet nader te trek. Dit is asof hy klaar hulle verskonings of verduidelikings kon hoor ten opsigte van hul liefde vir die ryke met sy goue ringe en deftige klere: “Die wet van God vereis mos naasteliefde.” Hulle pretensie van wetsvervulling word uitgedaag wanneer hy hul antwoord: “As dit dit is wat julle doen dan ‘doen julle reg.” Jakobus maak egter die deur in hul gesigte toe deur hulle te bevraagteken wanneer hy verwys na “die arm man wat met minagting behandel word” (v 6) – hoekom dan nie dieselfde naasteliefde betoon aan die eenvoudiges en weerloses nie? Hulle optrede is nié die uitvoering van die koninklike wet nie en hulle doen dus nie reg volgens die Skrif nie, indien sy argument waar is.
‘n Persoon moet nie aangeneem word volgens sy status of voorkoms nie maar deur nakoming van die koninklike liefdesgebod – om jou naaste lief te hê soos jouself en God bo alles! Deur partydig op te tree is nié nakoming van die wet nie en daarom is dit sonde. Dié verkeerdheid is geleë in die totale uitgangspunt. Jakobus maak dit baie duidelik wanneer hy aan die hand van twee ekstreme gevalle dit illustreer. Dan word beide die oordadige verering van rykes én die afstotende minagting van die armes die bewys van ’n skreiende gebrek aan geestelike waardes en norme en inderdaad as die teendeel van wat die liefdesgebod vereis.
Die wet van God is ’n eenheid en om te “struikel ten opsigte van een gebod” is ’n vergryp teen die hele wet, dit wil sê teen al die gebooie. Liefde beteken om vir ander lewensruimte te skep. Dit geld vir elke mens wat God oor ons pad stuur en nie net diegene op ons voorkeurlysie nie. Dan word naasteliefde selektief. “Ek was honger en dors en naak in die tronk ......(Matt 25:34-40), geld vir elkeen van ons naaste, want dit bewys ons werklike liefde vir God..
“Dit is immers dieselfde God wat al die gebooie beveel en al die naastes insluit in die gebod van die naasteliefde” (Prof Dirkie Smit).
Gebed: Onse Vader, ons wil saam met Paulus ten hemele roep: Dat ons liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling (Fil 1:9). Here, skenk ons die insig om ‘n fyn aanvoeling te ontwikkel sodat ons in elke situasie sal kan onderskei tussen ware liefde of ‘n skreiende gebrek aan geestelike waardes en norme. Laat hierdie onderskeiding ‘n onuitblusbare blydskap in ons meebring en ons vul met U vrede. Amen.