E-Kerk - Gedagte vir Vandag
DIE BRIEF VAN JAKOBUS
Jak 1 :1 – “Van Jakobus, ‘n dienaar van God en die Here Jesus Christus. Aan die twaalf stamme wat oor die wêreld versprei is. Groete!”
BEPROEWINGS
Jak 1:2-4 – “My broers (en susters), julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”
Vergelyk ook 1 Pet 1:5 – “En omdat julle glo,word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tye geopenbaar te word.”
Jakobus was die broer van Jesus en het net soos sy ander broers, aanvanklik nie in Jesus geglo nie (Joh 7:5). Jakobus was later die stigter en leier van die kerk in Jerusalem. Sy brief is vol eggo’s van Jesus se woorde veral soos Matteus dit beskryf. Jakobus poog met hierdie brief om aan te dui dat gelowiges in Jesus Christus hul geloof, prakties in dankbaarheid moet uitleef.
Jakobus begin sy brief deur na homself te verwys as “dienaar van God en die Here Jesus Christus.” Die implikasie hiervan is dat hy in absolute gehoorsaamheid en nederigheid optree. Hy dink geensins aan sy regte of voorregte as mens nie maar eerder aan sy pligte teenoor God en Jesus Christus. Hy beskryf homself as ‘n dienaar, ‘n slaaf wat net na sy eienaar luister en dóén wat sy eienaar van hom verwag. Hy rig sy brief aan al die Joodse Christene wat kort ná die kerkstigting begin vervolg is en hulself buite Palestina bevind het. Hulle het gevlug na Sirië, Egipte, Griekeland, Rome en Klein Asië. Dit is ook gerig aan gelowiges in Babilon en die ware Israel wat Jesus as Messias aanvaar het en werklik in Hom geglo het.
Hy moedig almal aan om bly te wees oor “allerlei beproewings.” Hulle moes die positiewe in hul beproewings ontdek. In alle omstandighede gaan dit oor hul geloof. Geloof is ‘n doelbewuste keuse vir Christus as Verlosser en ook ‘n hartlike verbintenis met Hom, dan eers funksioneer geloof as ‘n lewendige verhouding met Jesus.
Jakobus was besorgd dat die gelowiges gaan afdwaal, daarom moedig hy hulle aan om met ‘n ander perspektief daarna te kyk. Geestelike volwassenheid ontwikkel wanneer uitdagings met vreugde aangepak word. Geloofsvolharding volg wanneer versoeking nie meer ‘n houvas op ‘n mens het nie.
Dit is teen die grein van ons menswees om “bly te wees wanneer allerlei beproewings oor ons kom.” Dit gaan egter nie oor die blydskap as sodanig nie, maar die positiewe gevolge daarvan. Christus het reeds alle beproewings weerstaan en oorwin. In alle omstandighede gaan dit oor ons geloof daarvan. Hoe word ons verhouding met God geraak wanneer dit sleg gaan met ons? Raak ons moedeloos? Twyfel ons in God se bestaan? Wend ons ons toe tot wêreldsdinge en bronne? Gee ons m.a.w. toe aan die druk van omstandighede?
Die antwoord: “die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.” Ons moet dus geestelik groei in geloof dat versoekings nie meer ‘n houvas op ons kan kry nie. Énige verhouding groei deur interaksie. In ons swaarkry ervaar ons die werklike betekenis van gemeenskap met God en namate ons in ons omgang met God volhard, raak ons ryper Christene.
Gebed: Here, ons verheug ons ook in ons swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het Sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. (Rom 5:3-5). Amen.