E-Kerk - Gedagte vir Vandag

HOOR EN DOEN (2)
Matt 7:21-23 – “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”
Vergelyk ook Efes 2:8-9 – “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.”
Vergun my om vandag se “GEDAGTE” met ‘n persoonlike belydenis te begin. Ek het vanoggend baie vroeg wakker geword met ‘n vrees oor Jesus se vermaning in vers 21. Ek is ook een van dié wat sê “Here, Here.” Ek beroep my op die feit dat ek gedoop is, lidmaat is van ‘n dinamiese gemeente, taamlik betrokke daar is en probeer om daagliks ‘n verteenwoordiger van Christus, my Saligmaker te wees. Ek probeer om selfs die regte dinge te sê en te doen, maar..... – “baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?” – ..... dan te besef dat dit nie noodwendig reg was nie. Wat my veral wakker laat lê het, is Jesus se verdoemende woorde – “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”
Terwyl ek so in die donker gelê en peins het, het Paulus se woorde van Efes 2:8-9 (hierbo), my in ‘n mate gerus gestel. In my enigheid het ek besef dat God se genade en geloof in Jesus as Saligmaker ‘n gawe van God is. Dit is ‘n geskenk van God wat ons nie kan koop of verdien nie. “Ons is op grond van Sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus” (Rom 3:24b).
Onwillekeurig het die laaste woorde van Jesus in vers 23: “julle wat die wet van God oortree,” my laat dink aan die Fariseërs se verdraaiing van die wet (Matt 5:20). God se wet is saamgevat as liefde vir Hom en liefde vir ons naaste en as ons dus anders as die Fariseërs wil wees, behoort ons dan ons geloof met dade te bewys. ‘n Waaragtige geloof in Christus moet dus uit sy aard vrugte dra – dade wat by ‘n geloof behoort wat God en ons naaste dien. Wat help dit iemand kom oor ons pad en sê hy is honger en ons stuur hom weg met die woorde dat ons vir hom sal bid. Die gebed van ”gee ons vandag ons dag se brood” het nog nie die probleem opgelos nie. Die probleem is nie afgehandel nie want daar is nie aan die persoon se behoefte voorsien nie. Dit help nie om groot geloofswoorde te praat wat uit ‘n leë hart uitkom nie.
Ons word nie gered deur ons goeie werke nie maar word gered om te werk. Dit is die gevolg van ‘n saligmakende geloof. Om gered te wees en as individu daaraan vas te klou, die Here te bedank dat Hy ons gered het en niks daaraan doen nie, beteken niks. Ons is gered met die doel om God te verheerlik deur dade van liefde. Alle Christene is “glo-mense” anders kan ons nie gered word nie. Maar alle Christene moet “doen-mense” word om ons dankbaarheid te toon dat ons gered is.
Jesus stuur ons nie uit om ons redding deur ons werke of dade te gaan verdien nie, Hy stuur ons uit om ons redding te gaan bewys: “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Efes 2:10). Ons werk vir die Here is nie vir ‘n beloning nie – ons het dit klaar ontvang.
Gebed: Here, ons skiet so ver tekort in ons pogings om ‘n behoorlike dissipel van U te kan wees. Ons praat die regte “kerktaal” van mense en engele, maar bly ‘n klinkende metaal en galmende simbaal. Ons geloof in U is sterk genoeg om “berge te versit” maar voel steeds dat ons eintlik niks is nie. Here, skenk ons die genade om ons lewe in ooreenstemming met U wil in te rig; om lief te kan hê soos U want sonder liefde, die Bergpreek soort liefde, is ons niks. Amen.