E-Kerk - Gedagte vir Vandag

Matt 5:13 – “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.”
Vergelyk ook Gal 6:7 – “Moenie julself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes.”
Wanneer sout verslaan het, het dit geen waarde meer nie en word dit “buitekant weggegooi.” Dit was die gebruik in vroeë sinagoges dat ‘n Jood wat afvallig geraak het van die kerk, nie sommer maar net kon terugkeer nie. As boetvaardige moes hy berou bewys deur voor die deur van die sinagoge te gaan lê sodat almal wat die sinagoge betree het, op hom moes trap. Nadat “die mense hom vertrap” het, is hy weer toegelaat tot die sinagoge.
Jesus waarsku teen die sout wat verslaan het. Wanneer ‘n dissipel van Jesus nie effektiewe sout vir die aarde is nie, is hy “niks meer werd nie” en dus nutteloos. Wanneer die dissipel se voorbeeld sy Christen-boodskap weerspreek, raak ander mense deurmekaar. Instede daarvan om die sout te wees om verrotting te voorkom, raak hy self verrot. Instede van verandering bring by mense om deel van God se huisgesin te word, verander hy soos die wêreld. Dan word hy wêreldgelykvormig in plaas van Christusgelykvormig.
As die sout nie souterig is nie, kan reiniging en voorkoming van verrotting ook nie volkome wees nie. Dit is dan wanneer die hemelse heerlikheid vervang word met die vullishoop van wêreldse geskiedenis. “Sout is ‘n goeie ding. Maar as sout verslaan het, waarmee sal dit weer sout gemaak word? Dit is nie eers bruikbaar vir die grond of vir die mishoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg” (Luk 14:34-35). "God laat nie met Hom spot nie. Wat 'n mens saai sal hy ook oes." Skrikwekkend!
“The saltless salt or the non-Christian Christian will not only be thrown out as useless trash in God’s sight, but will also be trampled underfoot by men” – Brian Schwertley.
Gebed: God van die heelal. Ons wil só graag deur ons voorbeeld U wil in die wêreld weerspieël. Ons gaan dit egter nie alleen regkry nie. Laat U Gees ons lei om sout vir die wêreld te wees, dié gesindheid van ‘n nederige dienaar. Help ons om effektiewe sout te wees vir ander en om nie deel te word van die verrotting nie.
Amen.