E-Kerk - Gedagte vir die Dag

Matt 5:5 – “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”
Vergelyk ook Fil 2:6 – “Hy wat in die gestalte van God was, het Sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word."
Met respek gesê: Jesus is nie maar net liewe Jesus wat eeue gelede in Palestina met ‘n lang rok en sandale rondgeloop het om mense gesond te maak, te preek en wonders te doen nie. Hy is Here!! “Hy was in die gestalte van God.” Die Prins van die hemel het die Kind van die krip kom word, “gestalte van ‘n slaaf aangeneem en aan mense gelyk kom word,” en tog het Hy die beste voorbeeld van sagmoedigheid kom tentoonstel. Hy het in totale afhanklikheid van God geleef tydens Sy aardse bestaan.
As Prins van die hemel het Hy nie arrogant opgetree nie. Hy het saam met tollenaars geëet en met sondaars omgegaan want Hy het meer omgegee vir verlore siele as oor Homself. In stilte en onskuldig het Hy vervolging, bespotting, veragting en leuens teenoor Hom verdra. Daarom kon Hy sê: “Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed." (Matt 11:29)
Terwyl hierdie sagmoedige Christus hang aan ‘n kruis, uiter Hy met ‘n swak, sterwende stem: “Vader vergeef hulle.......”
Die voorbeeld van Jesus behoort elke Christen se norm te wees. Met Jesus word dit ‘n God-welgevallige lewenswyse. Sy taal is hooptaal – ewige taal!
Om saam met Jesus te loop kan gevaarlik wees. Om Sy voorbeeld van sagmoedigheid te volg is om ‘n kans te vat. Jy verloor jou naam daar, jy word herdoop na “softy”, jy word die “joke” van die dag. Indien dit nog nie met jou gebeur het nie, is jy nog nie naby genoeg aan Jesus nie.
Gebed: Here, hoe meer ons U hoor praat, hoe meer ontdek ons ons tekortkominge. Ons vra dat U koninkryk moet kom, maar die koninkryk lê nog by ons. Dit is onmoontlik om ‘n selfgesentreerde lewe in U koninkryk te handhaaf. Vergewe ons Here, ons weet nie wat ons doen nie. Dankie dat U volwaardig kom mens word het sodat ons U voorbeeld kan volg. Alleen kan ons dit egter nie doen nie, daarom pleit ons by U, o Gees, vir leiding.
Amen.