top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 4 Mei 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (78)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (24)

(Matt. 21:1–22:46)


Die gelykenis van die bruilof (1)

(Luk. 14:15-24)


‘n Vreugdefees om nie te mis!


Matt. 22:1-6 – “Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat. Hy het gesê: ‘Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n koning wat vir sy seun ‘n bruilofsfees voorberei het. Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’ Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en ‘n ander een na sy werkplek toe gegaan. En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak.”


Na aanleiding van hulle vraag met watter gesag Jesus die mense in die tempel leer, en wie Hom hierdie gesag gegee het (Matt. 21:23), vertel Hy aan die Joodse leiers ‘n derde gelykenis om die verband tussen die koninkryk van God en mense aan te dui. Die gelykenis vertoon sterk ooreenkomste met die “boere en die wingerd” (21:33-46). In beide word twee groepe slawe sonder sukses gestuur. Hier probeer die koning selfs om gaste vir ‘n derde keer na die bruilof van sy seun uit te nooi. Hy was dus ernstig met sy uitnodigings en hou tot die feesvreugde aan hulle voor – “die maaltyd is reg, die beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed.” Ten spyte van die koning se ruimhartigheid om so baie te nooi, loop die genooides egter só oor van selfvoldaanheid oor hulle eie dingetjies, dat die bruilof van die koning se seun geen bekoring inhou nie.


Ter inligting moet ons net eers verstaan hoe die gebruike van bruilofsfeeste tydens Jesus se aardse tyd gewerk het. Die eerste uitnodiging wat deur die slawe versprei is, het nooit die tyd aangedui nie. Wanneer alles gereed was, is die slawe met ‘n tweede boodskap uitgestuur dat die fees nou gereed is en dit tyd is om te kom. Indien die genooides dan nie sou opdaag nie, was dit eintlik ‘n belediging vir die gasheer.


In hierdie gelykenis dui die Koning op God, en die bruilofsfees op die koninkryk van God wat in Jesus tot openbaring kom. Die onwilligheid van die genooides (Israel, in die besonder die leiers en ook die Jode van Jesus se tyd), illustreer verder hoedat die Joodse volk geleentheid gehad het om die waarheid van God se koninkryk te ken en daarin te deel. Met hulle kenmerkende hardkoppigheid het hulle hul tot die laaste toe verset teen geloofsoorgawe. Hulle wat op die boodskap van die evangelie met vreugde, en bywoning van die bruilof moes reageer, weier. Hulle stel hul aardse goed (besittings en arbeid), hoër as die werklikheids-idee van bruilofsgeluk en vreugde, saam met die hemelse Koning.


Natuurlik het hierdie gelykenis vandag betrekking op ál ons gelowiges in die wêreld. Die uitnodiging na die bruilofsfees van die Lam kom daagliks na ons toe. Dit is ‘n uitnodiging na ‘n fees van vreugde waar God die Koning, net die beste aan ons wil voorsit. Die vraag is hoe ons op die uitnodiging sal reageer? Sommige steur hulle gewoon nie aan die uitnodiging nie en gaan voort met hulle alledaagse belange asof dit belangriker is as die uitnodiging. Baie mense redeneer dat hulle eendag sal …! Ek meen, ons kan immers altyd láter bid of kerk toe gaan of jou lewe met God regmaak. Vandag se werk is belangrik en dit móét nou gedoen word. Wat nóú dringend is word dan eerste gestel bo wat wérklik belangrik is. Tragies dat die dinge wat ons weghou van die beste, dikwels die goeie is, dinge in die tyd van die oomblik dat ons heeltemal van die ewigheid vergeet!


Wanneer God ons uitnooi, moet ons besef die uitnodiging is na ‘n fees van vreugde. Indien ons Sy uitnodiging sou minag, mis ons die vreugde wat dit meebring om deel van Sy feestelikhede te wees. Die dinge wat mens doof maak vir God se uitnodiging is nie noodwendig altyd slegte dinge nie. In Jesus se gelykenis het “die een na sy stuk grond en ‘n ander een na sy werkplek toe gegaan.” Dit is heel moontlik dat ons so besig kan raak met ons eie sienlike dinge, dat ons die onsienlike dinge heeltemal mis kyk; so besig om te luister na die oorverdowende uitnodigings van hierdie wêreld, dat ons nie die sagte uitnodigings van die stem van die Here Jesus hoor nie. Die dinge van ons gewone lewe, ons daaglikse, is baie meer belangrik as die dinge van die ewige lewe.


Wanneer ek en jy besef dat daar geen werklike vreugde sónder God kan wees nie, dat Hy die bron van alle ware vreugde is, raak alles so eenvoudig. Dan kan ons die natuur om ons geniet en God raaksien in die kleur van helder blomme; Hom waarneem in die vrolike lag van ‘n kind; Sy teenwoordigheid voel wanneer die wind deur ons hare waai. Hierdie Godsvreugde het nog ‘n ander dimensie ook – om die blydskap en waardering op ‘n ander se gesig te sien wanneer ons hulle bly maak. Deur goed te doen aan ander, verwyder ons die gebrek aan vreugde uit ons eie lewensbestaan. Ware vreugde is altyd aansteeklik – die vreugde wat ons in die oë van ons naaste sien, wat weerklank vind in my en jou eie lewe. Hoe reageer ons elke dag op God se uitnodiging om aan die feesvreugde van die koninkryk te kom deelneem?


“Hy wat met vreugde méns is en in sy menswees sy geluk vind, is die mens wat in die hede van sy omstandighede die heerlikheid van die ewigheid indra” (Prof. Johan Heyns).


Gebed: Here, ek is só geneig om besig te raak met my eie plannetjies en eie sogenaamde belangrike dinge, dat ek soms vergeet dit het nie eintlik ewigheidswaarde nie. Gee tog dat ek nie U uitnodiging na die feesvreugde mis nie. Dankie dat ek wel kan bly wees, dankie vir dinge wat my bly maak: mense wat ek liefhet, kleinkinders, die natuur, mooi musiek, vriendskap, dankbaarheid – maar veral U, want sonder U is die lewe vreugdeloos. Help my om U vreugde met ander te deel, om hulle ook bly te maak soos wat U vir my doen. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page