top of page

Gedagte vir Vandag

3 Mei 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (77)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (23)

(Matt. 21:1–22:46)


Die gelykenis van die boere en die wingerd (4)

(Mark. 12:1-12; Luk. 20:9-19)


In God se Raadsplan is Israel se verlies, ons wins!


Matt. 21:42-46 – “Toe sê Jesus vir hulle: ‘Julle het tog al in die Skrif gelees: Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Dit is deur die Here gedoen en is ‘n wonder in ons oë. Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ‘n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer. ‘Wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.’ Toe die priesterhoofde en die Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy op hulle sinspeel. Daarom wou hulle Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom as ‘n profeet beskou het.”


Nadat Jesus hierdie gelykenis klaar vertel het, was die Joodse leiers hoogs ontsteld, want “hulle het besef dat Hy op hulle sinspeel.” Dit was die laaste strooi – Hy moet dood! “Die klip wat deur die bouers afgekeur is”, het hulle tussen die oë getref, “good and solid!” Die verbondsvolk loop hulle, as gevolg van hulle meedoënlose leiers, te pletter teen Hom, en “wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.”


Dat Jesus juis die bedoelde Messias was, wou hulle nie insien nie. Daarom sou hulle deur die oordeel, waarna die profeet Jesaja eeue tevore verwys het, van God getref word: “Hy verwyder die doringheining van die wingerd en verbrand dit, breek sy muur af sodat die wingerd vertrap kan word, maak die wingerd tot niet sodat dit nie meer gesnoei of geskoffel kan word nie. Dit word ingeneem deur doringbosse en onkruid” (Jes. 5:5-6). (Lees gerus die hele Jes. 5). Met hierdie gelykenisse ontmasker Jesus die Joodse leiers se bose planne, maar toon ook aan dat God se raadsplan nie deur sondige mense gekeer of verander kan word nie.


Omdat die volk Jesus verwerp het, “neem God die koninkryk van hulle weg.” Dit beteken nie dat die Israeliete nie meer gered kan word nie, inteendeel, dit beteken net dat God sy spesiale verhouding met hulle verbreek het, dat hulle nie langer die uitverkore volk van God sou wees nie. Daar is nóg kans vir hulle om om te draai. God se genade hou nooit op nie. Na Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart, het ‘n nuwe geloofsgemeenskap o.a. op Paulus se sendingreise tot stand gekom wat Israel in God se raadsplan ingeneem het, en nou die nuwe “Israel” heet met Christen-gelowiges wie se oë gerig is op die nuwe Jerusalem (Gal. 4:26).


Wat hou die toekoms in vir die res van Israel, en wat beteken dit vir ons as gelowiges in Jesus Christus? “Het Israel se struikeling hulle finale val beteken?" (Rom. 11:11a). Paulus is oortuig dat hulle struikeling afgestuur het op ‘n besliste val, maar dit nooit God se bedoeling was dat Israel in die verderf moet beland nie. God vergewe, en het daarom die deur vir hulle laat oopstaan. Daar is nog hoop en kans vir omdraai, vir elkeen wat sy geloof in Jesus Christus bely!


Israel het die roeping gehad om die lig van God se openbaring na al die heidennasies rondom hulle uit te straal en só op te tree dat die heidene jaloers sou word, en dit onweerstaanbaar sou vind om hulle weg na God toe te vind (Jes. 55:5). Maar, die oorgrote meerderheid van Israel het gefaal in hulle doel en selfs die evangelie verwerp. Dankie tog! God het egter die Jode se verset gebruik, sodat die evangelie na die heidene en na ons toe kon versprei. Hy gebruik die begenadiging van die heidene óók as ‘n heilige doel, sodat Israel by die aanskouing van die genade waarin die heidene deel, jaloers sou word en die deur van genade wat God vir hulle oop gelos het, sou gebruik om hulle tot besinning te bring en self ook tot die verlossing gelei kan word, en “dan ook tot seën wees as die Jode se volle getal gelowig sou word” (Rom. 11:12b).


Hoe kan ons dit vandag toepas – is dit nog moontlik om mense in ‘n post-Christelike era, vanuit die rykdom van God se genade deur die voorbeeld van my en jou lewe, ongelowiges of selfs sogenaamde gelowiges, jaloers te kan maak? Die tendens het egter dikwels ‘n teenoorgestelde uitwerking: gelowiges raak jaloers op die klaarblyklike rykdom en sukses van die ongelowiges. Jaloesie is die mees hartstogtelike vorm van egoïsme, dit soek net eie oorwinning. Dit is daardie sogenaamde groenoogmonster wat aanhoudend knaag aan die hart en baie mense van die mooi en edel beroof.


Al hierdie dinge is selfverheffing en stel ‘n baie hoë premie op ‘n mens se eie werke en wyshede. Dit is ‘n duiwelse wysheid wat sy oorsprong in ‘n ongesonde hart het wat gevul is met twis, naywer, selfsug en eie belang. (Dan is daar diegene wat dit koppel aan sterk leiereienskappe? Dis verregaande en onbegryplik!!!). “Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, duiwels, want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade” (Jak. 3:15-16).


Jaloesie en selfsug is nie deel van wysheid nie, dit is ‘n ek-gesentreerde selfliefde – die self-drie-eenheid: Ek, my en myne, in plaas van die Almagtige Drie-eenheid. Ons gelowiges deel in Christus se heerlikheid en daarom het ongelowiges rede om jaloers te wees op ons. Ons het iets waarna elke mens heimlik smag: vryspraak deur God! Ons het God se genadegawe ontvang “en die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here” (Rom. 6:23b). ‘n Lewe sonder die drie-enige God is leeg en niksseggend! Is ons lewe van so aard dat ander sal sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle?” (Sag. 8:23b).


“Te veel Christene is jaloers op sondaars se plesier én op heiliges se blydskap omdat hulle nie een van die twee het nie” (Martin Luther).


Gebed: Here, vergewe my vir enige sweem van jaloesie of afguns wat my lewe kan binnesluip. Verbreek hierdie duiwelse siklus omdat dit veroorsaak dat ek my nie kan verbly in die geestelike oorwinnings van ander kinders van U nie. Maak vrede in my hart wanneer ander iets ontvang wat ek dink, eintlik my toekom. Maak my nederig, laat my in U heerlikheid deel want niks hier op aarde is regtig so belangrik dat ek my hart daaroor met bitterheid hoef te vul nie. Laat my die pad van liefde loop. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page