top of page

Gedagte vir Vandag

12 Okt 2020

Koos Espach


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN. (Matt. 13:54–16:20)

DIE SUURDEEG VAN DIE FARISEËRS EN DIE SADDUSEËRS (2).

(Mark. 8:14-21; Luk. 12:1)

DIE HEILIGE GEES IS ONS WAARHEIDSLERAAR!

Matt. 16:8-12 – “Jesus het geweet wat hulle praat, en Hy sê vir hulle: ‘Kleingelowiges! Hoekom praat julle met mekaar daaroor dat julle nie brood het nie? Verstaan julle nog nie en onthou julle nie die vyf brode vir die vyf duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? En die sewe brode vir die vier duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? Hoe is dit dan dat julle nie verstaan dat Ek nie met julle oor brood gepraat het nie? Ek het gesê: Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.' Toe het hulle verstaan dat Hy nie bedoel het dat hulle vir gewone suurdeeg op hulle hoede moet wees nie maar vir die leer van die Fariseërs en die Sadduseërs.”

Jesus ken die gedagtes van Sy dissipels en spreek hulle met ‘n mate van strengheid aan. Van die natuurlike hardheid van hart wat by die sondige mens te vinde is, is hulle nog nie bevry nie. Hulle wat soveel reeds beleef het, aan wie dit gegee is om die verborgenhede van die koninkryk te begryp, kon hulle steeds nie Jesus reg verstaan nie.

Net soos die keer in die skuit gedurende ‘n hewige storm (Matt. 8:26), noem Jesus hulle “kleingelowiges.” Daarmee bedoel Hy dat hulle nie genoeg rekening hou met Sy teenwoordigheid by hulle nie. Brood is die allerlaaste ding waaroor hulle hul moes bekommer. Hoe is dit moontlik dat hulle na twee broodvermeerderingswonders, stééds twyfel aan Sy vermoë om vir hulle te sorg. As hy eers vyf duisend en daarna weer vier duisend kon voed, en daar nog meer brood oorgebly het as wat Hy mee begin het, dan is twaalf mense se versorging mos niks!

Met die beeld van suurdeeg waarvan mens maar min nodig het om ‘n groot invloed op broodmeel te hê (Matt. 13:33), bedoel Jesus hiermee die negatiewe invloed van die leer van die Fariseërs en die Sadduseërs.” Die Fariseërs aan die een kant het baie streng vasgehou aan die wet en die profete. Die naam Fariseërs beteken ook afgeskeidenes. Hulle het hulle afgeskei, nie net van die heidene en sondaars nie, maar ook van mede-Jode wat hulle nie streng gehou het by die oorgelewerde gebruike nie. Uit hulle oogpunt moes jy jou verlossing verdién! Deur die nakoming van allerlei rituele, godsdiensreëls en verpligtinge, verdien jy dan punte by God en kom jy in Sy goeie boekie.

Aan die ander kant was die Sadduseërs wat net gehou het by die eerste vyf boeke van die Ou Testament en die profete geïgnoreer het. Hulle was die teologiese liberales wat allerlei kompromieë getref het tussen die Woord van God en die wêreld waarin hulle geleef het. Hulle het nie geglo in die opstanding van die dooies nie, ook nie in die bestaan van engele en geeste nie.

Die vraag is nou in watter mate is ek en jy in ons verhouding met Jesus soos die Fariseërs of die Sadduseërs? Probeer ons dalk ons verlossing verdien? Dink ons dalk dat wat Jesus ons leer in ons dag, sekere kompromieë benodig? Is Jesus die absolute Leier vir ons geloofslewe? Besef ons nog dat geestelike aanvoeling nie vanself kom nie, maar dat ons voortdurend moet bid dat die Heilige Gees daardie vermoë in ons sal wek?

Dit is nie maklik om altyd God se wil te ken nie, en daarom kan ons maklik “ingesuur” word met die “leer van die Fariseërs en Sadduseërs.” Deel van die geheim van ons geestelike groeiproses, is om nie die werk van die Heilige Gees te onderskat nie. Petrus skryf “ons moet sorg dat ons steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18a). Die Heilige Gees is ons Waarheidsleraar! Deur ons hele lewe heen wil die Gees ons al hoe dieper onderrig in die ondeurgrondelike waarhede van God. Ons moet ons daarom onophoudelik oopstel om deur die Gees beheer te word: “Toelaat dat ons lewe steeds deur die Gees van God beheers word …” (Gal. 5:16).

Waarom het ons die Heilige Gees nodig om ons geestelike aanvoeling te wek? Wanneer ons met die Bybel besig raak, betree ons die wêreld waarin God se wêreld vir ons oopgaan, en dáárdie waarheid, bring Sy Gees aan ons! Hy lei ons tot toenemende begrip van God se Woord en gehoorsaamheid daaraan. Hy lei ons tot kennis van ons sonde, tot berou, verlossing en heiligmaking. Hy leer ons die waarheid omtrent gebed en die onuitspreeklike krag daarvan. Hy leer ons ook die waarheid omtrent onsself en onderrig ons in die genade van God. Bowenal, openbaar Hy aan ons die bevrydende waarheid van Jesus Christus se lewe, sterwe en opstanding! Wie en wat beïnvloed jou hele lewe?


“In die Christelike lewe is daar nie so iets dat jy jou kan terugtrek en hoop dat God jou daar sal ontmoet en seën nie. Jy moet daagliks lewe en groei” (Alan Redpath).

Gebed: Dankie Hemelse Vader, dat U deur die werk van die Heilige Gees vir my te alle tye en op alle plekke, toeganklik is. Hemelse Leermeester, dankie dat U my verstand verhelder, my hart vernuwe en my lei op die pad van geestelike groei. Waarsku my asseblief teen die “suurdeeg” van valse leringe en die verraderlike eienskappe daarvan. Ek loof u Naam, Jesus my Verlosser, dat ek deur die Heilige Gees u pad kon kies. Hou my in genade op daardie pad! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page