top of page

Gedagte vir Vandag

3 Maart 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (61)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (7).

(Matt. 21:1–22:46)


Die reiniging van die tempel (1)

(Mark. 11:15-19; Luk. 19:45-48; Joh. 2:13-22)


Die liefde vir God se “Huis van Gebed!”


Matt. 21:12-13 – “Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi en vir hulle gesê: ‘Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit ‘n rowersnes.”


Jesus se intog in Jerusalem terwyl die Paasfees naderkom, “het die hele stad in beroering gebring” (v. 10). Israel het verwag dat die Messias van die Olyfberg af na die stad sou kom en Hom by die tempel aan die volk bekend sou stel. Buitekant die hange van die Olyfberg wat op Jerusalem uitgekyk het, het die skare rondom Jesus versamel en geprys as “die Seun van Dawid en Hom geloof wat in die Naam van die Here kom” (v. 9) – die Messias is hier! Jesus en Sy dissipels wend hulle dan na die tempel, die belangrikste aanbiddingsplek, die plek waar die priesters, daagliks vir die volk se sondes, offers aan God moes bring. In die tempel behoort die Messiasverwagting by die godsdiens-leiers immers tot volwaardige uiting te kom.

Maar wat tref Jesus by die tempel aan? In plaas van priesters in stemmige gebedshouding, loop Jesus Hom vas in 'n onrustige gewerskaf waar paasfeesgangers koorsagtig besig is om geldelike transaksies te beklink. Volgens die Johannes-evangelie, vind Hy “op die tempelplein verkopers van beeste, skape en duiwe (armes se offergawe) en die geldwisselaars wat daar sit” (Joh. 2:14). Dit het die offerverpligtinge om die voorgeskrewe offers vir die volk wat van ver gereis het, baie vergemaklik. In plaas daarvan om met hul offerdiere te reis, kon hulle sommer daar op die tempelplein gekeurde diere koop. Met goeie rede was dit aanvaarbaar dat hierdie mense eintlik ‘n hulp vir die pelgrims was. Hulle het voorgegee dat hulle aan die feesgangers ’n diens lewer deur offerdiere te koop aan te bied, maar in werklikheid het die priesters 'n winsgewende bedryf in die huis van die Here op die been gebring. Hulle was besig om hulleself te verryk ten koste van die feesgangers, en ook om die tempel vir ’n onheilige doel te gebruik.


Die geldwissellaars was daar omdat mense nie sommer énige geld in die tempel kon aanbied nie. Geld byvoorbeeld met die kop van die keiser op, is nie in die tempel aanvaar nie. ‘n Ander rede was dat munte met onsuiwerhede ook nie as tempeloffer aanvaar is nie omdat niks wat onrein is, in die tempel toegelaat is nie. Die geldwisselaars het gesorg dat aanvaarbare munte met die regte metaalinhoud beskikbaar is, óók teen ‘n wins natuurlik. Beide die aktiwiteit van diere verkoop en geld omruil, het in die voorhof van die tempel plaasgevind. In albei transaksies is die pelgrims gruwelik uitgebuit!


Dit is dus begryplik dat daar groot bedrywigheid en heelwat lawaai in die tempel was toe Jesus daar aankom. Die gewyde atmosfeer was ru versteur deur die luidkeelse aanprysing van die koopware. Die tempel is van sy oorspronklike heiligheid gestroop. Johannes skryf “Jesus het met toutjies ‘n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en beeste” (Joh. 2:15). Matteus meld dat Jesus “die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi het.” Daar word egter nie gesê dat Jesus inderdaad die sweep gebruik het nie. Veeleer dien dit as teken van sy gesag, en met daardie simbool van gesag tree Hy op met die gesag van ’n koning.


Die duiweverkopers word beveel om hulle goed weg te neem. Niemand durf Hom teenstaan nie, want sy optrede is met goddelike majesteit. Hy motiveer sy optrede met ‘n aanhaling uit Jesaja 56:7 – “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit ‘n rowersnes.” Met die uitjaag van die skape en beeste wat vir die offers bestem was, het Jesus nie die einde van die Israelitiese offerdiens aangekondig of ingelui nie. Hy het ook nie die verkoop van die diere en duiwe veroordeel nie, maar wel met beslistheid dit afgekeur dat die tempel afgewater word as handelsritueel en gebruik word as plek vir so ’n mark. Daar was in die buurt en omgewing van die tempel, genoeg plek vir daardie dinge. Die huis van die Here moes afgesonder bly, as ’n “huis van gebed.”


Jesus maak beswaar omdat die klem verskuif het van God, na geld toe. Vir Jesus gaan dit om die ontheiliging van “die huis van my Vader” (Joh. 2:16). Die Jode wat so gesteld daarop was dat niks wat onheilig is, die tempel mag binnekom nie, sluit hulle oë wanneer dit om geldelike gewin gaan. Hulle hoor nie en word nie eers beïndruk, wanneer Jesus na God as sy Vader verwys nie. Die probleem was dat die tempel (kerk) nie meer ‘n ontmoetingsplek met God was nie. In plaas van mense bewus te maak van God en Sy teenwoordigheid, word Hy vervang met daaglikse rituele en word Hy onteer.


Jesus verskoon nie alles wat ons doen nie, Hy veroordeel inderdaad. Wanneer ons deur die “tempel” van ons eie lewe stap, is daar nie soms tye wat ons ander mislei nie? Gaan dit nie soms oor ons eie voordeel nie? Gaan dit nie soms oor jóú geloof in plaas van jou gelóóf nie? Gaan dit nie oor óns sang in plaas van sang tot eer van God nie? Geniet God nog voorrang in ons erediens of het dit ‘n ritueel geword? Stap ons nie maklik uit die erediens uit, binne ‘n wêreld in waar ons maar net weer met ons alledaagse sondige lewe voortgaan nie? Jesus het geen simpatie met diegene wat God vir hulle eie saak wil uitbuit nie, vir Hom gaan dit om die koninkryk van God. Daarom wil Hy die tempel (kerkgebou) herskep in ‘n plek van aanbidding en ‘n plek waar God beleef en geleef kan word, ‘n plek waar ons gewillig na die Woord luister en gaan doen wat die Gees vra.


Ek het al baie gewonder waar Jesus sou begin om die gemeenskap by ons te reinig, sou Hy nou hier opdaag? By my en jou huis, die kerk, die regering, die skole, die sogenaamde beskermers van die land, die munisipaliteite, misdaadgebied, wel, enige plek waar transaksies gruwelik uitgebuit word deur korrupsie en magmisbruik?


“Baie mense gebruik Jesus en die kerk soos baie met ‘n bus maak, hulle gebruik dit net wanneer dit in hulle rigting gaan” (Dale Campbell).


Gebed: Heilige Jesus, help my om deur U Gees ontslae te raak van alles wat in my lewe verkeerd is. Help my om my “tempel” skoon te kry sodat dit nie vir U nodig is om my tot orde te roep nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page