top of page

Gedagte vir Vandag

1 Maart 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (59)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (5).

(Matt. 21:1–22:46)


Die intog van Jesus in Jerusalem (5)

(Mark. 11:1-11; Luk. 19:28-38; Joh. 12:12-19)

Wie is hierdie man?

Matt. 21:10-11 – “Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: ‘Wie is hierdie man?’ Die skare het geantwoord: ‘Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!”


Vergelyk ook Joh. 12:19 – “Die Fariseërs het toe vir mekaar gesê: ‘Sien julle, julle rig niks uit nie! Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!”


Wanneer Jesus Jerusalem binnekom, val ‘n koninklike ontvangs Hom te beurt. Mense gooi klere in die pad en strooi takkies voor Hom, ander waai palmtakke heen en weer. Terselfdertyd loof hulle Hom as die Seun van Dawid en bring aan God hulde. Jesus se helde-ontvangs lei tot ‘n beroering onder die inwoners van Jerusalem en hulle wou weet “wie hierdie man is?” ‘n Groot deel van die skare wat Jesus al van Galilea af volg, antwoord: “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!” Dit was seker met so stekie na die inwoners van Judea gemik, wat geglo het niks goeds uit Nasaret wat in Galilea geleë is, kan kom nie (Joh. 1:46).


Dit is eintlik ironies dat die Judeër-inwoners van Jerusalem, nie weet wie Jesus is nie. ‘n Vorige keer was die stad se inwoners saam met koning Herodus, hewig ontsteld toe die sterrekykers uit die ooste navraag gedoen het oor Jesus se geboorte (Matt. 2:2-3). Sedertdien het daar in die afgelope ongeveer drie en dertig jaar, nie veel verander nie. Terwyl die skare nou in beroering is oor Jesus se koms na Jerusalem, was daar ander wat nie so begeesterd was oor Hom nie – die priesterhoofde, Fariseërs en skrifgeleerdes het beplan om Jesus dood te maak (Joh. 11:53-57).


Die geesdrif van die skare wek die afguns van die Fariseërs en hulle erken aan hulleself dat “hulle niks uitgerig het” aan hulle planne nie, want Jesus gaan triomferend voort. Hulle wat die vertolkers van die Skrifte is, moet aanhoor dat die skare selfs Psalm 118 op Jesus van toepassing maak. Dié toedrag stem hulle tot pessimisme en spoor hulle ook aan tot meer verbete haat. Hulle teenstand teen Jesus het tot niks gekom nie, “die hele wêreld gaan agter hom aan!” In hulle woorde lê daar ’n profetiese toekomsblik: dit sal nog blyk dat “die hele wêreld”, al die volke van die aarde, die boodskap van Jesus, die Woord van die lewe en die oorwinning, sal hoor en hopelik sal glo. Die evangelie sal voortgedra word tot aan die uiteinde van die aarde. Selfs die bitterste vyande van Jesus sien dit gebeur, en moet dit erken.


Dit bly ‘n misterie dat die groot, Almagtige God wat alles geskep het, ons as mense in Sy diens gebruik om te getuig. Elkeen wat Jesus as Here bely, wil God ten spyte van ons beperkinge, nogtans gebruik, net soos ons is. Ek dink dit is heel gepas om hierdie storie van Arlene Anderson aan te haal: “God was besig om viooltjiesaad op aarde te strooi om die aarde te versier. Een van die saadjies het in ‘n watersloot beland en sy het dadelik begin protesteer dat sy nie daar gaan groei nie, want daar was geen grond nie. God het vir haar gerusgestel dat dit juis dáár is waar Hy haar wou hê. Hy het selfs vir haar bemoedig deur haar te vra om ‘n “Wonderwerk-Kontrak” te teken.


Sy het egter kapsie gemaak dat sy ‘n probleem het met wonderwerke. God antwoord haar: ‘Ek ook! Die mense wil nie toestemming gee en die kontrak teken, sodat Ek my wonderwerke kan verrig nie. Hulle het altyd hulle eie planne en verstaan nie die “Wonderwerk-Kontrak” nie.’ ‘Okey, maar wat sal my deel van die kontrak wees as ek teken?’ vra die saadjie. God antwoord haar: ‘Wees net bereid om te staan, te groei en te blom waar Ek jou plaas, Ek sal die res doen.’ Oortuigend het sy geantwoord: ‘Here, waar is die kontrak sodat ek kan teken!’


Dit geld ook vir jou en my. God het medelye met diegene wat nie begeesterd is wanneer Hy hulle wil gebruik om in Sy diens te staan nie. Jona het probeer wegvlug van God af (Jona 1:3); Moses het gekla hy kan nie praat nie (Eks. 4:10); Jeremia het ‘n flou verskoning probeer dat hy te jonk is (Jer. 1:6); die Gees moes Esegiël ‘n hupstoot gee om in beweging te kom (Eseg. 2); tog het God hulle elkeen uitgesoek en vir elkeen ‘n spesiale opdrag, volgens sy eie gawes, gehad. Hulle moes net die “Wonderwerk-Kontrak” teken, die kontrak van geloof en vertroue in die Een wat álles doen (Pred. 11:5)! ‘Wees net bereid om te staan, te groei en te blom waar Ek jou plaas ...!


“Wie is hierdie man?” “Hierdie man, Jesus”, se aardse bediening is gekenmerk deur ‘n gees van liefde en barmhartigheid. Hy het mense genees, dooies opgewek, gewaarsku, geleer, bemoedig en vermaan in die Naam van ons Vader. Hy het my en jou uitgenooi om aan die grootste en belangrikste saak in die geskiedenis deel te hê, naamlik die Koninkryk van God! Jesus ís die geskiedenis; Hy bou ons as deel van Sy familie vir die ewigheid op en Hy verwag van ons om dissipels uit alle nasies te maak (Matt. 28:19).

Eendag gaan ‘n groot skare mense “van elke nasie, stam, volk en taal voor die troon en voor die Lam staan” (Op. 7:9), en aan Hom lof bring en aanbid. Elkeen gaan dan ook verslag moet lewer wat ons met ons lewe op aarde aangevang het. Sal dit nie ‘n voorreg en genade wees om te kan antwoord: “Ons het ons ten doel gestel om agter te kom waar ander mense in hulle geestelike reis staan, en toe die nodige gedoen om hulle ‘n stappie nader te bring sodat hulle ook kon weet “wie hierdie man” is. Ons het nie ons eie belang gesoek nie, maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word” (1 Kor. 10:33). “Wie is hierdie man?” Ek en jy sê ons ken vir Jesus. Regtig?


“My Here het my voor mense bely; ek sal nie daarvan terugdeins om Hom voor konings te bely nie” (Martin Luther).


Gebed: Here, verwyder asseblief alle struikelblokke sodat ek U wat in my leef, aan ander om my, kan vertoon. Skenk my die genadegawe van nederigheid sodat ek sal uitstyg bo die vooroordeel van hulle wat anders is as gevolg van ras of geloof of status, sodat ek U liefde met hulle kan deel en U aan hulle kan bekendstel. Gebruik my as ambassadeur om die blye boodskap uit te dra sodat almal wat ek teëkom, sal weet “wie hierdie Man” is, wie U is, tot U eer alleen. Ek vra dit in die mooiste Naam wat ek ken, Jesus Christus, met danksegging. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page