top of page

Gedagte vir Vandag

22 Februarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (54)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit (10).

(Matt. 20)


Jesus maak twee blindes gesond (1).

(Mark. 10:46-52; Luk. 18:35-43)

Dis nie nodig om eers te kan sien om te glo nie!


Matt. 20:29-34 – “Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het ‘n groot menigte Jesus gevolg. Twee blinde mans wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus verbykom. Toe roep hulle uit: ‘Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!’ Die mense het met hulle geraas en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het al hoe harder geroep: ‘Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!’ Jesus het gaan staan, hulle geroep en gevra: ‘Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?’ Hulle sê toe vir Hom: ‘Here, dat ons oë oopgaan.’ Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg.”


Dit is Jesus se laaste week as volkome mens op aarde, en ons vind hom waar Hy en Sy dissipels, gevolg deur ‘n “groot menigte mense”, vanaf Jerigo op pad is na Jerusalem. Dit is gewoonlik die laaste plek waar pelgrimsreisigers vir die Paasfees oornag, voordat hulle die laaste skof na Jerusalem aanpak. Daar rus ʼn sware las op Jesus se skouers. Hy weet die kruis wag op Hom. Ten spyte daarvan is Jesus nou doelgerig op pad na Jerusalem om daar te gaan sterf as die Messias vir die sonde van die ganse wêreld. Buite Jerigo is daar twee blindes langs die pad wat hoor dat Jesus verbygaan.


Die berigte oor die genesing van die blindes verskil by die drie Evangelies. Lukas verwys na een blinde by die ingang van die stad; volgens Matteus, “twee blinde mans langs die pad” en Markus een blinde (Bartimeus), by die uitgang van die stad. Hierdie verskille raak nie die betroubaarheid van die mededeling dat Jesus daar ’n blinde of blinde man(s) siende gemaak het nie. Die feit van die vertelling deur die drie sinoptiese evangeliste, is dat die stadspoort die aangewese plek vir ’n bedelaar was, omdat daar ’n groot verkeer van mense was.


Hierdie twee blinde bedelaars is uitgesluit uit die wêreld van hulle wat kan sien, uitgestoot uit die kring van hulle wat kan verdien. Wanneer “hulle hoor Jesus verbykom”, roep hulle hard om die aandag van Jesus te trek. Hulle kan Jesus niks bied nie, al wat hulle het, is ‘n noodkreet: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” Twee maal hoor ons hierdie woorde uit hulle mond. Die skare maak hulle stil maar aangespoor deur hulle geloof (Mark. 10:52), “roep hulle al hoe harder!” Ironies dat twee blindes vir Jesus, as die Seun van Dawid, aanspreek wat ‘n term was vir God se vervulling van die Messiasbeloftes. As blindes herken hulle iets van Jesus se Messiasskap wat die grootste deel van die skare nie herken het nie; en wat Jesus sy dissipels die heeltyd wil laat sien; Jakobus en Johannes se “blindheid” om nou al en op aardse wyse oorwinning te soek en bowenal, die godsdiensleiers skrifgeleerdes wat nie Jesus as die Messias herken of erken nie.


Dit moes sekerlik die wanhoop en desperaatheid in hierdie blindes se stemme gewees het, wat Jesus tot stilstand gedwing het. Hoe wonderbaar is dit dat Jesus, die Seun van God gaan stilstaan by iemand in nood, ongeag van die moeilike tyd wat binnekort vir Homself sou voorlê. Hy skuif sy eie belange, sy eie bekommernisse opsy, sodat die koninkryk van God kan vergroot en God opnuut verheerlik kan word. Jesus vra dan vir hulle: “Wat wil julle hê moet ek vir julle doen?” Sou Jesus wat wel kon sien uit Sy goddelikheid, dan nie reeds geweet het nie? Was dit nie vanselfsprekend nie? Jesus het geweet, maar wou steeds hê dat die blindes hulle behoeftes in woorde uitspreek. As Messias en Verlosser is Hy die bekendmaking van God se ontferming, barmhartigheid en genade oor sondaars. “Jesus het hulle innig jammer gekry, hulle oë aangeraak en dadelik kon hulle sien.” Hy ken aan die blinde bedelaars die waardigheid toe van iemand wat sélf hulle nood kon uitspreek.

In die geval van die blinde mans, het Jesus dadelik hulle behoefte aangespreek en is hulle oombliklik van hul gestremdheid genees. Dan volg hulle Hom verder op Sy lydensweg. Dit gebeur nie noodwendig altyd so nie. Soms leer die Here ons nie net ‘n les in afhanklikheid en nederigheid nie, maar ook ‘n harde les in geduld. Jesus ken ons harte, ons behoeftes en gedagtes. Hy weet wat ek en jy nodig het en wat ons so bitter graag wil hê. Maar tog wil Hy ook soms die behoeftes van ons harte, uit ons eie monde hoor. Hy wil hê dat ons in ons gebede ons afhanklikheid aan Hom verklaar, en hardop erken dat Hy die Messias is.

Geestelik is ons almal blind gebore as gevolg van die erfsonde. Menigte mense kan die Here Jesus en Sy kruisvoltooide redding nie herken nie, hulle is en bly nog geestelik blind! Sy grootste oorwinning was aan ‘n vloekhout om reg te maak vir die gemors wat ons aangevang het! Baie kan dit nie sien nie want hulle besit geen kapasiteit daartoe nie – “Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is” (2 Kor. 4:4).


Wanneer Jesus die skille van ons oë laat afval en ons siende maak sodat ek en jy ons verlossing ontdek, dan moet ons dit glo en ‘n vaste vertroue daarop ontwikkel, soos die blindes in Matteus se verhaal. Dit is om weg te draai van al ons eie pogings af en om met geloofsvertroue in die voltooide redding van Christus, te glo en Hom volg. Wanneer ons ontdek dat die Here ons net so binne-in ons sonde-blindheid op die kruis aan Homself vasgebind het en aangeneem het, plaas ek en jy ons persoonlike vertroue dáárop.


Dit is wat dit beteken om die Here Jesus aan te neem (Joh. 1:12); dit is om Sy woorde te glo. “Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is die dag van redding” (2 Kor. 6:2)”. Hy wil aan ons barmhartigheid bewys. Sy barmhartigheid roep ons egter ook om Hom dan op Sy lydensweg te volg. Hoor ons nog daagliks hoe Hy roep? Hy roep ons om met my en jou nood na Hom te vlug en Sy ontferming te beleef. Hy roep ons ook om sy volgelinge te word. Hy is die enigste Een wat ons nood kan verlig, veral ons sondenood.

“Jy kan nie die presiese oomblik beskryf toe nag in dag verander het nie, maar jy weet verseker wanneer dit dag is” (Charles Spurgeon).


Gebed: Here, wat die hart van vol is, loop die mond van oor. Ek wil sonder huiwering opnuut my behoeftes en bekommernisse in gebed aan U bekend maak. Ek erken dat U die Koning van alle konings is, die Skepper van die hemel en die aarde is, maar allerbelangrikste, ek het U in alle omstandighede nodig en kan nie sonder U liefde en genade bestaan nie. Dankie dat U genade elke dag nuut is en dat dit my selfs omvou wanneer ek dit nie raaksien nie. Net soos hierdie blindes in Matteus se verhaal, wil ek dan uitskreeu: “Ontferm U tog oor my!”, net om te ontdek dat U ontferming juis tot volle werking kom in dié tye wanneer ek swak is. Dankie vir U grenslose ontferming. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page