top of page

Gedagte vir Vandag

19 Februarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (53)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit (9).

(Matt. 20)


Die versoek van Jakobus en Johannes (4)

(Mark. 10:35-45; Luk. 22:24-30)


Diens vir my en jou is nie opsioneel nie!


Matt. 20:28 – “So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”


Na aanleiding van die dissipels se wens om ereposisies in Jesus se aardskabinet te beklee en die voorste gestoeltes in die koninkryk vir hulleself toe te eien, druk Jesus dit op hulle hart dat die koninkryk van God op ’n radikaal ander beginsel berus as die koninkryk van die wêreld. In die Godsryk is “om te regeer” gelyk aan “om te dien”. Wie groot wil wees, moet dus nie daarna streef om met geweld te regeer nie, maar om in liefde te dien. Die enigste weg tot grootheid is dié van klein-wees in belang van die naaste; die enigste weg tot werklike selfverwesenliking is dié van selflose dienslewering aan die medemens.


Hoekom moet Christene só optree? Hoekom versoek Jesus dat ons eerder agter in die ry moet inval as om, soos maghebbers te veg vir die voorste gestoeltes? Eenvoudig – Jesus het dit gedoen! Hy het die voorbeeld gestel! Hy was bereid om die hoogste posisie in die hemel te verruil vir die laagste posisie op aarde, bloot omdat Hy omgegee het vir die mens, vir my en jou! “Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” Jesus draai geen doekies om nie. Hy sê uitdruklik: Ons moenie baklei vir die voorste gestoeltes nie, “by ons moet dit nie so wees nie. Ons moet dienaars wees!”


Christene wat dien, is nie opsioneel nie. Dis nie iets wat ek en jy in ons skedules kan inpas wanneer ons eendag tyd het nie, eendag wanneer ons oud is, afgetree is, eendag wanneer ...? Ons teksvers wys Jesus het gekom om “te dien” en “te gee” – twee werkwoorde wat elke Christen se leuse behoort te wees. Ag, en nou moet ons maar eerlik wees, en ek sluit myself daarby in – dis nie ons natuurlike aard om te dien nie. Ons soek eerder ‘n kerk wat óns behoeftes bevredig, óns tipe liedjies sing, waar nie gereeld oor geld gepreek word nie, eerder as ‘n kerk waar óns kan dien en waar óns “slaweklere” kan aantrek en ander met waardigheid behandel. (Terloops, Jesus het in 16 van Sy 38 gelykenisse gepraat oor geld en besittings; in die Evangelies handel 1 uit elke 10 tien verse oor geld; in die Bybel is daar 500 verse oor gebed, minder as 500 verse oor geloof, maar meer as 2 000 verse wat handel oor geld en besittings.)


Aan die einde van ons lewe hier op aarde, gaan ek en jy, ons álmal, voor God staan en “elkeen sal dan oor homself (en haarself) aan God rekenskap moet gee” (Rom. 14:12). Dan gaan Hy vergelyk hoeveel tyd en energie ons aan onsself bestee het, in vergelyking met wat ons aan diens vir ons medemens afgestaan het. Ek wil nou nie profeties klink nie maar ek dink dáárdie dag gaan ons selfgesentreerde verskonings maar hol klink. “Maar Here, ek was baie besig met ...; ek het my eie doelwitte en drome gehad om eers af te handel; ek moes baie oortyd werk om kos op die tafel te sit; ek kon nie want ...!” (Vul self die oop spasies in en maak solank jou eie lysie van verskonings.)


Elkeen sal ‘n legio verskonings kan voorlê, en God se reaksie dalk: “Jammer, verkeerde antwoord! Ek het jou geskep, nodig gehad om te getuig, om te dien, om liefde te deel. My Seun het deur Sy menswording, Sy lydenspad, Sy kruisiging en dood, jou dienaar en slaaf geword en Homself as ‘n losprys gegee om jou as sondeslaaf van die sonde los te koop. Watter dele daarvan verstaan jy nie?”


God wil my en jou gebruik om ‘n verskil in die wêreld te maak, om dienskneg klere aan te trek. Hy kon engele gebruik om Sy werk op aarde voort te sit, maar Hy wil deur óns werk. Ons moet Sy hande en voete op aarde wees en maak nie saak hoe lank ons leef nie, die belangrike is hóé ons leef. En as ons dalk dink ons is nie geskik vir die “job” nie, dink maar aan Moses wat gehakkel het, Jona was traag en het eers probeer vlug, Abraham was oud, Ragab was immoreel, Dawid was ‘n egbreuker en moordenaar, Petrus was impulsief, Paulus het God belaster, vervolg en beledig (1 Tim. 1:13) – maar God het elkeen van hulle vir Sy diens gebruik.


Wanneer ons eers besef het dat Jesus ons gedien het tot in die diepte van ons selfsug en sonde “en Sy lewe vir ons gegee het as losprys”, sal niks ons kan weerhou om ander vir Sy onthalwe te dien nie. God kan my en jou ook gebruik in Sy diens maar dan moet ons bereid wees om agter in die ry in te val waar Hy ook staan. Hoe lyk dinge by my en jou? Is ons die deurwagters wat vir ander mense die beste plekke aanwys, of sit ons heerlik gemaklik in die voorste gestoeltes terwyl ons wag om bedien te word?


“Die See van Galilea is vol lewe omdat die water invloei en ook uitvloei. Daarenteen leef niks in die Dooie See nie, want dit het stagneer omdat die water nie uitvloei nie” (Onbekend).


Gebed: Jesus Christus, Dienaar van God en heilige Voorbeeld, stel my in staat om ‘n dienskneg van U, vir my medemens te wees, sonder enige bymotiewe of om die kostes te bereken. Ek is dankbaar daar is nog plek by U agter in die ry sodat ek ook daar kan inval. Om te kan dien is ‘n voorreg en dis beter as om te verdien of gedien te word. Ek wil uit dankbaarheid dien, want “God het my gemaak wat ek nou is: in Christus het Hy my geskep om my lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy my bestem het” (Ef. 2:10). As ek nie dien nie Here, bestaan ek net, en dit beteken niks! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page