top of page

Gedagte vir Vandag

18 Februarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (52)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit (8).

(Matt. 20)


Die versoek van Jakobus en Johannes (3)

(Mark. 10:35-45; Luk. 22:24-30)


By my en jou moet dit nie so wees nie!


Matt. 20:24-27 – “Toe die tien ander dissipels dit hoor, was hulle kwaad vir die twee broers. Jesus roep hulle toe nader en sê: ‘Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees.”


Vergelyk ook Fil. 2:5-7 – “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.”


“Toe die tien ander dissipels dit hoor, was hulle kwaad vir die twee broers” se possoekery. Hoekom? Johannes en Jakobus het hulle voorgespring, hulle wil sélf die ereplekke hê. Maar, hulle verontwaardiging verraai dat hulle ook dieselfde onbegrip as die twee broers gehad het. Hoe teleurgesteld moes Jesus nie gewees het nie? Sy dissipels bly blind vir die pad wat Hy aandui. Het ek en jy al die pad wat Jesus aandui gesnap?


Jesus volg dan met ‘n ingrypende onderrig oor dissipelskap en spel aan hulle die koninkrykswaardes vir leiers uit. “Hy roep hulle nader” en wys hulle daarop dat dit wêreldse leiers is wat wil baasspeel. Jesus tree dadelik op om hulle van afguns en naywer te bevry en hulle saam te snoer tot ’n eenheid waarin elkeen die ander waardiger ag as homself. Anders as by belangrike maghebbers en regeerders, moet die dissipels nie daarna streef om magsbeheptheid nie – “by julle moet dit nie so wees nie.”


Nee, ware grootheid in God se koninkryk kom tot uiting in diens, hulle moet as gelowiges, diensknegte wees. Ja, dit geld vir my en jou ook. Wanneer ons deel is van God se koninkryk en in Jesus as ‘n andersoortige Koning glo, verander Hy ons na ‘n andersoortige mens. Dit is immers die gesindheid waarmee Hy ons voorgaan (vgl. ons teksverse Fil. 2:5-7).


Dit is nie net in die hemel waar ons almal gelyk sal wees nie, dit geld ook reeds hier op aarde. Daar bestaan in God se koninkryk nie belangrike en onbelangrike Christene nie. Om deel te hê aan die koninkryk van God het niks te doen met posisie en status nie. Nee, eintlik is dit nie heeltemal korrek nie. Daar is tog sekere kerkmense wat belangriker as ander hier op aarde is. Jesus sê: “Elkeen wat in ons kring groot wil word, moet ons dienaar wees; en elkeen wat onder ons die eerste wil wees, moet ons slaaf wees.”


Jesus wys ons daarop dat in die koninkryk van God die heerser-beginsel geen plek het nie. Hier is dit die een wat dien, wat groot en belangrik is. Daarom moet die belangrikste hom gedra soos die geringste, dit wil sê nie eerbewys opeis nie, maar eerbied betoon; en die leier moet sy grootheid laat sien deur sy bereidheid om die nederigste diens te doen. Dit het te doen met selfverloëning en die geringste te wees onder mense – ons hardloop nie vir die voorste en beste sitplekke nie, ons staan agter in die ry – ek ag m.a.w. ander hoër as myself!


Ongelukkig werk dit in hierdie deurmekaar wêreld nie so nie. Met respek Jesus, in die 21ste eeu werk dinge anders. Ons verstaan nie hierdie beginsel van wie eerste wil wees moet laaste wees of ander se slaaf wees, nie. Ons het mos die reg om ambisie te hê om die voorste gestoeltes in te neem, die hoogste sport te bereik, die reg om voor in die koor te praat en altyd die laaste sê te hê. Prestige, posisie en status het voordele, want ons word omring deur aanhangers en ons posisie in die samelewing word gemeet aan die grootte van ons gevolg, waar ek bly, wat ek ry en hoeveel ek kry – dit bepaal hoeveel mense ons “like.”


Maar Jesus sê: “By julle moet dit nie so wees nie.” Sy volgelinge, Christene, kerkmense veg nie vir die voorste plekke nie, stamp nie mekaar uit die pad, klim bo-oor mekaar, praat mekaar dood, leef mekaar dood, trap op mekaar en maak mekaar selfs dood, om bo uit te kom en voor in die ry te staan nie. In God se koninkryk gaan dit nie oor vernaamheid en word jy nie gemeet aan jou posisie wat jy beklee nie. Jesus sê dat ware grootheid in die koninkryk beteken dat ek en jy agter in die ry gaan staan en ons verheug daarin dat God wonderlike mense gemaak het om saam met ons as pelgrims, op die geloofspad stap, mense met nood en behoeftes. Agter in die ry vergeet ek en jy van onsself en ons maak tyd om hulle te dien. Ons sal Jesus as Dienaar ook daar agter in die ry vind. Hy nooi ons uit om digby Hom te staan. Daar is nog plek. Nou toe, waarvoor wag jy?


Daar is geen suiwerder godsdiens as diens aan jou medemens nie. Om uit liefde vir God te werk vir die gemeenskap se welsyn, is die sterkste geloofsbelydenis” (Albert Schweitzer).


Gebed: Bewaar my daarvan, Here Jesus, dat ek U sal volg ter wille van eer of status. Gee dat ek om U ontwil ander mense sal dien in liefde. Stel my in staat om vir ander tot seën te wees juis omdat U seën in my lewe so oorvloedig is. Here, bring my tot diep medelye met ‘n lydende en verskeurde mensdom rondom my. Laat U liefde in my wees om my te dring tot wederliefde. Ek bid dit in die mooiste Naam wat ek ken – Jesus Christus. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page