top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 15 November 2023

Koos Espach


VII. Paulus se Derde Sendingreis (5)

Hoofstuk 19 – Paulus in Efese (1)

Paulus doop volgelinge van Johannes die Doper (1)


Die wonder van die inwonende Gees


Hand. 19:1-2 – “Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binneland gereis en in Efese gekom. Daar het hy ‘n groepie gelowiges gekry 2 vir wie hy gevra het: ‘Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?’ ‘Ons het nog nie eers gehoor of die Heilige Gees al gekom het nie,’ het hulle geantwoord.


Lukas beskryf verder dat terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die hoërliggende binneland van die uitgestrekte Romeinse provinsie Asië gestap en daarna afgegaan na Efese aan die Egeïese see, met sy ongeveer 200 000 inwoners. Hy het immers beloof, ‘as God wil’ sal hy terugkeer na Efese (18:21). Nou is dit God se tyd en God se wil; ongeveer 52 nC.


Soos Korinte was Efese ook ’n stad met ’n gemengde bevolking van oorspronklike Grieke, verskeie Oosterse mense en Jode, almal met verskeie godsdienste. Dit was ‘n groot handelstad. Deur skeepvaart en paaie was die stad in verbinding met die hele destydse wêreld. Daar was alles te koop, ook die siele en liggame van die mense. Efese was beroemd vir die tempel van Artemis (Diana in Latyn), een van die sewe wonders van die antieke wêreld, vyf maal groter as die Parthenon van Atene. Die Griekse Artemis was ’n jongvrou, beroemd as die godin van die jag en kuisheid. Die stad was nie net beroemd nie, maar ook berug, want daar het alle denkbare en verregaande sedeloosheid voorgekom - die marmer paradys.

Met sy aankoms in Efese, kom Paulus af op ’n twaalftal gelowiges, volgelinge van dié Jesus, wat Johannes die Doper verkondig het. Hulle het egter nog nie gehoor van die koms van die Heilige Gees op Pinksterdag nie. Ons kan aanneem dat hierdie twaalf gelowiges, nie die sinagogedienste in Efese bygewoon het, waar hulle deur Priscilla en Akwila reggehelp kon word nie (18:26). Dit was ook egter ‘n feit dat baie gelowiges van die Vroeë Kerk, nie die evangelie van Christus mooi begryp het nie. Dit blyk uit die feit dat die mense met wie Paulus hier praat, nog nie eens geweet het van die Heilige Gees nie.


Die teenwoordigheid van die Heilige Gees was die vernaamste bewys dat mense uit die dood na die lewe oorgegaan het. Die Gees het gelowiges as God se eiendom beseël: “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie” (Rom. 8:9).


Soos in die eerste paradysverhaal van Adam en Eva, weet ons mos elke paradys het sy slang, oftewel, beter bekend as die wêreldreisiger, satan. Gelukkig herinner Paulus ons gelowiges van vandag, dat die voortgaande mag wat die satan en sy wet van sonde, en gevolglik die dood, oor ons lewens het, nie die finale woord spreek nie, want “ons word nie deur ons sondige natuur beheers nie,” en daarom is dit nie bepalend vir ons posisie voor God nie. Ons is nie meer “vleesbeheersde mense” nie, maar “Geesbeheersde mense.” Die verskil is dat ons “in Christus Jesus” is, “want die Gees van God woon in ons.”


Die besit van die Heilige Gees is die waarmerk van almal wat oorgegaan het uit ‘n doodsbestaan van die ou sondige aard om vir ewig aan Christus te behoort. Daarom is dit onmoontlik om aan Christus te behoort, sonder om ook deel te hê aan sy Gees. In hierdie sondeverskeurde wêreld is ons uiters moeg en verward, maar ons hoef nie meer te sukkel deur ‘n sondige lewe wat net wentel om onsself nie. Ons kan die keuse maak om God se beproefde pad te neem wanneer ons besef “ons word nie deur ons sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees.”


Ons oorgeërfde natuur is dikwels die slaaf van afbrekende gewoontes. Die sonde bind ons hele gees en wese in gevangenskap en satan kom staan wydsbeen bo-oor ons. Dit is ‘n algemene menslike ondervinding. Ek en jy het ‘n krag buite onsself nodig, groter en magtiger as ons, om ons te beheer wanneer ons nie meer kan nie. Dit is hier waar die heerlike waarheid van die Christelike leer en lewe tot openbaring kom – wanneer Christus weer teruggeplaas word in ons lewe, deur sy Gees. Die eenvoudige waarheid is dat dit onmoontlik is om ‘n effektiewe en praktiese Christenlewe te leef sonder dat die Gees van Christus in my en jou hart en lewe teenwoordig is: “As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.”


Ek en jy kan hierdie wonderlike genadegawe van God met blydskap en dankbaarheid aanvaar en dan die volle implikasie hiervan in ons lewe tot openbaring laat kom. Elkeen wat toelaat dat die Gees van Christus intrek in sy lewe neem en deur sy dade tot uitdrukking kom, se lewe kry nuwe betekenis want ons word gevul met ‘n dinamiese krag wat ons in staat stel om vrugte te dra wat by ons nuwe lewe pas. Die eindresultaat is ‘n verhaal van nederlaag van onsself op die weg van die sonde, na ‘n triomfantelike oorwinning deur die Gees van Christus wat ten volle in beheer is van ons “vryheidslewe.” Halleluja!


“I do not at all understand the mystery of grace – only that it meets us where we are but does not leave us where it found us” (Anne Lamott).


Gebed: Gees van Christus, kom in my lewe in en maak my elke dag nuut. Dankie vir die troosgedagte dat U in my woon en altyd by my is. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page