top of page

Gedagte vir Vandag

11 Februarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (47)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit (3).

(Matt. 20)


Gelykenis van die arbeiders in die wingerd (3)


Deur God se genade is ons Koninkrykskinders!


Matt. 20:14-16 – “Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’ ‘So sal die laastes eerste wees en die eerstes laaste.”


Ons het gister die protes van die eerste groep werkers ervaar toe die loon uitbetaal word en hulle wat die hele dag gewerk het, voel dit is onregverdig om dieselfde loon as die laastes te kry. Die protes van die werkers verwoord ons eie reaksie. Hierdie gelykenis wil ons daarvan bevry, om waar God as Koning regeer, te dink volgens die skema van verdienste en loon. Dit is die kern van Jesus se onderrig aan Sy dissipels en ons gelowiges. Die hele vraag het te doen met die ryk jongman wat sy verlossing wil verdien (19:16-22), en Petrus se vraag wat hulle sal ontvang omdat hulle dan alles verlaat het om Jesus te volg (19:27).


Wat bedoel Jesus wanneer Hy sê dat “die eerstes laaste sal wees en die laastes eerste?” Jesus wil ons tot liefde en barmhartigheid bevry. In die proses word die “laastes”, die geringes en kleintjies, die laatkommers in die koninkryk, getroos dat hulle die ware volk van God is. Die “eerstes”, die eiegeregtige Fariseërs, Israel, maar selfs ook die dissipels, dit sluit in enigeen wat soos hulle redeneer, word gewaarsku teen liefdeloosheid en die strewe na belangrikheid, mense met ‘n afgunstige en eersugtige hart.


Dit is duidelik dat God uit genade aan almal dieselfde wil gee, dat genade God s’n is en dat “Hy daarmee kan maak wat Hy wil” want Hy is verhewe bo alle menslike kritiek! Die “eerstes wat laaste sal wees” is juis hulle wat dit nie begryp nie en dink dat hulle ‘n aanspraak het op God se genade. Die “laastes wat eerste sal wees” is hulle wat verstaan dat genade, genade is, en geen loon nie. In die koninkryk van God, speel verdienste geen rol nie.


Baie, só baie kere staan ek verwonderd oor God se genade. Eintlik is die grootheid daarvan eenvoudig vir my net te groot om heeltemal te verstaan. Dis ‘n misterie hoe God vir ’n sondaarmens soos ek, sommer net so lief kan wees! Maar meer nog, hoe kon God die pak vat vir al die verkeerde dinge wat ek al aangevang het? En dan nog vir al daai dinge wat ek moes doen en eenvoudig net te lui of te skaam was om te doen, en boonop al die verkeerde dinge wat ek nog gaan doen ...! Baie van ons het al goeters aangevang wat baie erg was, die geharde ou sondaars, die laatkommers wat vir die grootste gedeelte van hulle lewe niks vir Hom gedoen het nie, en dan wonder ons hoe groot God se genade is – ook hulle ontvang die volle maat van God se goedheid – Jesus het ook vir hulle gesterf!


Dit is nou presies wie ons God is, ewig, onbegryplike Wese. ’n God wat Homself nie kan keer nie en nie vrae vra wanneer Hy Sy genade uitstort nie. God se genade hou nie op nie en dit is nie net vir die mense in die kerk of langs die kerk nie, maar vir die hele mensdom bedoel: “Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn” (Titus 2:11). Álmal het die kans om Sy verlossing te beleef. Die beste nuus ooit vir mý as sondaar, vir elkeen van ons. God se genade het nie grense nie. Dis nie net vir Sy uitverkore volk nie, maar vir ons almal. Dit is ook nie beperk tot “goeie” mense nie, maar vir alle sondaars. Ons almal wat oor die grense van die lewe foeter.


Ek wonder of ons altyd besef hoe gelukkig ons is. Nee, gelukkig is te dun hier. Kom ons gee dit meer gewig. Ek weet nie of ons aldag besef hoeveel tonne en tonne genade oor ons uitgestort word nie. Die feit dat ons die voorreg het om te kan en te mag glo in Jesus Christus, is ’n groot wonderwerk. Dit kon soveel anders gewees het. Dink net hoeveel mense in die wêreld nie die kans kry om die keuse te maak nie, of liewer, wel die kans kry, maar dit weier! Dit is hartverskeurend om te dink dat daar mense is wat weier om Jesus te kies.

Dis wat Paulus ook skryf: “Die Here het ons lief, en God het ons uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Ons is gered deurdat die Gees ons vir Hom afgesonder het en deurdat ons die waarheid glo” (2 Tess. 2:13). Dit is nie bloot toevallig dat ek en jy is waar ons is nie. Ons is spesiaal. Soos die Engelsman sê: “We are handpicked.” Ons is uitgesoek tussen miljoene om deel te hê aan God se genade. Die genade het ons reeds oorspoel en ek en jy is spesiaal uitgekies om in God te glo. Lees dit weer, sê dit hardop, laat dit deel word van jou wese: “God het gedink ek is só spesiaal dat Hy my met die hand uitgekies het om in Hom te glo.”


Wow! Die Almagtige God het my en jou met Sy hand uitgekies! Ja, ek weet dit voel nie altyd so nie en ek weet ons leef nie altyd so nie, maar miskien moet ons nou hierdie spesiale roeping wat God op ons geplaas het, deel maak van ons wese. Ons moet dit begin leef. God werk met ’n plan. Hy het al voor my en jou geboorte, Sy oog op ons gehad. Ons is spesiaal geroep om in Hom te glo, want dis wat Hy wou hê. Ons kan dit nou in die wêreld uitleef. Daar is soveel wat moet hoor en sien dat hulle ook gekies is om in God te glo. Dalk wag hulle net vir my en jou!


“Genade is nie iets waarvan sommige méér kry en ander minder, soos ‘n mens merietetoekennings bereken, nie. Dit is dat God self, ten spyte van onsself, goedgesind bly – dís ongelooflik, onberekenbaar, onbegryplik” (Thomas Kempis).

Gebed: Vader, dankie dat U gekies het dat ek in U moet glo en dat ek U kind kan wees. Ek verdien dit nie, maar dis wat U genade doen, U genade wat my verdienste uitkanselleer. Dankie Heer dat ek kan leef met die wete dat in ‘n wêreld waar prestasie baie belangrik is, dinge in U koninkryk andersom werk. Help my om deur my gehoorsaamheid U liefde te beantwoord. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page