top of page

Gedagte vir Vandag

8 Okt 2020

Koos Espach


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN. (Matt. 13:54–16:20)

‘N TWEEDE VERSOEK OM ‘N TEKEN AFGEWYS (2).

(Mark. 8:11-13; Luk. 12:54-56; vgl. Matt 12:38-42)

ONGELOOF VERHOED GEESTELIKE INSIG!

Matt. 16:2-4 – “Maar Hy antwoord hulle: ‘In die aand sê julle: ‘Daar kom mooi weer, want die lug is rooi;’ in die môre sê julle: ‘Vandag sal dit onweer wees, want die lug is dynserig rooi.’ Julle weet hoe om die voorkoms van die lug te beoordeel, maar die tekens van die tye kan julle nie onderskei nie. ‘n Slegte en afvallige geslag wil ‘n teken hê, en geen teken sal aan hulle gegee word nie behalwe die teken van Jona.’ Hy het hulle daar gelaat en weggegaan.”

Vergelyk ook Ps. 95:9-11 – “Hoewel julle voorvaders gesien het wat Ek gedoen het, het hulle My uitgetart en geduld beproef. Veertig jaar lank het Ek ‘n weersin in daardie geslag gehad, Ek het gesê: ‘Hulle is ‘n moedswillige volk, hulle wil my paaie nie ken nie.’ Daarom het Ek in my toorn ‘n eed afgelê dat hulle nooit sou uitkom by die rusplek wat Ek hulle wou gee nie.”

Die Fariseërs en Sadduseërs vorm ‘n verenigde front teen Jesus en verlang nou dat Hy ’n teken uit die hemel moet laat geskied om daardeur die egtheid van sy gesag as Messias te bevestig. Hierdie eis het hulle gewoonlik aan valse Messiasse gestel: God self moes hulle egtheid bevestig, en indien dit nie gebeur nie, weet elkeen dat hy ’n leuenprofeet was. (Ek wonder hoe hulle sou reageer het indien Jesus wel aan hulle ‘n teken uit die hemel gegee het?)

Jesus is egter te vernuftig vir hulle en maak korte mette met die afvaardiging. Hy ontbloot hulle kwaadwilligheid en herinner hulle daaraan dat hulle kranige weervoorspellers is deur die tekens van die natuur te vertolk en “weet dat as ’n wolk uit die weste, van die kant van die Middellandse See, opsteek, dit reën bring, of as die wind van die woestyn in die suide af waai, dit ’n hittegolf bring” (Luk. 12:55). Maar hulle sien nie in dat die optrede van Jesus die vervulling van die Messiaanse profesieë is nie. Dit kan in hierdie stadium van Jesus se optrede nie meer uit onkunde gebeur nie, maar moedswilligheid. Daarom sal aan hulle ook geen teken gegee word nie. Vir diegene wat bewustelik weier om in Hom te glo, bly Jesus Christus verborge.

Omdat hulle ongevoelig is en ‘n gebrek aan geestelike insig het, merk hulle nie op dat die koninkryk van die hemel besig is om deur te breek en in Jesus wat bý hulle is, reeds teenwoordig is nie. In die lig van die oorweldigende getuienis wat uit Jesus se optrede tot dusver straal, kon hulle oortuigend die regte afleidings van Sy Goddelike herkoms maak. “’n Slegte en afvallige geslag wil ‘n teken hê,” maar ‘n teken gaan hulle nie oorreed om in Hom te glo nie. Die beeld wat hulle van God het en die beeld wat God in Jesus bring, verskil hemelsbreed! Hulle moet net weer na Jona se teken gaan kyk. Met Jona se opdrag om die Woord aan heidene te gaan verkondig, moes hy én die volk leer dat geloof en bekering 'n vereiste is volgens God se Woord, anders kom daar geen insig en besef waaroor dit gaan nie!

Daar was egter ook ‘n verskil tussen Jona en Jesus se gehoor. Jona het aan heidene God se boodskap gebring en hulle het hulle bekeer. Jesus praat met God se volk, Sy kerkmense, en hulle wil hulle nie bekeer nie.

Die evangelieskrywers wil vir ons sê dat wonderwerke en wondertekens as sodanig nie mense sal oorreed om te glo nie. Die Fariseërs en Sadduseërs was net soos hulle voorvaders, “’n moedswillige volk wat God se paaie nie wou ken nie.” Hulle het Jesus verwerp en sodoende hulle rug op God gedraai. Om wonderwerke en tekens te verstaan, het ons geloof nodig, geloof in Jesus Christus. Niemand kan bewys dat Hy wel die Seun van God en die Messias is nie, ons moet dit glo! En geloof is meer as om bloot net van Jesus te weet en wat Hy gedoen het terwyl Hy op aarde was. Prof. Samuel Rutherford, ‘n Skotse teoloog van die 17de eeu het gesê: “Geloof is om Jesus Christus lief te hê en met ons hele hart aan Hom vas te klou sodat ons standvastig in die geloof kan bly!”

Iemand het gesê dat ‘n suiwer intellektuele soeke na Jesus Christus, nooit bevredigend is nie. Selfs Job was onseker: “As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek na sy woonplek toe gaan en my saak voor Hom lê, my pleidooie aan Hom stel” (Job 23:3). Reddende geloof kén Jesus en groei in hierdie kennis. Volgens Johannes Calvyn beteken dit om op Jesus te leun. As pelgrims op ons lewenspad moet ons op Jesus leun soos wat ons op ‘n wandelstok sal leun wanneer ons moeg is. Ons kan nie op onsself en ons eie vermoëns of hulpbronne leun nie, nog minder op ander mense, ons kan ons net tot Hom verbind en op Sy uitnodiging reageer: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28).

Jesus Christus is nooit ver van ons af nie, net ‘n gebed ver! Geloof vra meer as die erkenning van die historiese feite oor Jesus. Ware geloof vra ‘n persoonlike verhouding met Hom deur sy Woord en Gees, elke dag. Wie só leef, vra dan nie vrae en het geen behoefte aan bewyse nie. Dit is alleen wanneer ons gees in harmonie met die Heilige Gees is, dat ons bewus sal word van die eenheid en rustigheid in Hom. Ken jy Jesus al persoonlik? Hoe kry dit uitdrukking in jou lewe? Kom saam en soek jou vrede en rustigheid by ons Here omdat ons lewe deur sy Gees beheer word. Indien ek en jy nie hierop reageer nie, sal “Hy ons net daar laat en weggaan.”

“Jesus Christ is God's last word. Beyond him the revelation of God cannot go. Here is God plain for all to see. Here is God's message plain for all to hear. Here is God's sign to man. It is the warning truth that, if Jesus cannot appeal to men, nothing can. If Jesus cannot convince men, no one can. If men cannot see God in Jesus, they cannot see God in anything or anyone” (William Barclay).

Gebed: Heilige Gees wat in my leef, dankie dat U deur Jesus Christus aan my ‘n nuwe lewe skenk. Ek dank U dat U in my bly en my verstand verhelder met U gawes. Dankie dat U die Woord van God vir my oopmaak sodat ek ons Vader se wil kan leer ken. Dankie dat U my ook help om my onvolmaakte gebede te verander in hemeltaal. Ek loof U met my hele hart vir die versekering dat ek ‘n kind van God is. Help my om ook só te leef. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page