top of page

Gedagte vir Vandag

5 Februarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (43)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit (10).

(Matt. 19:1-30)

Die ryk jongman (5)

(Mark. 10:17-31; Luk. 18:18-30)

Ons God is ‘n onmeetlike groot God – vir Hom is alles moontlik!


Matt. 19:26 – “Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: ‘Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”


Vergelyk ook Luk. 12:15 – “Jesus sê vir hulle: ‘Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”


“Jesus het reguit na Sy dissipels gekyk”, en met verwysing na die verval in aardse belange waar mense wat in die greep van materialisme en eie belang beland, gesê:“Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.” Deur ‘n mens se oog, lyk rykdom só begeerlik maar deur God se oë is dit tydelik en onbeduidend. Rykdom, mag en aansien voeg geen ekstra dag by enige mens se lewe nie. ‘n Mens vir wie geld alles geword het, het al die eienskappe wat ons uit die hemel kan hou: selfversekerdheid, selfgenoegsaamheid, onafhanklikheid, status, persoonlike mag, sukses wat God nie byreken nie en ‘n lewenstyl waarin daar nie ruimte vir God is nie.


Trouens, dít wat nou op aarde waargeneem word deur al die prag en praal, is nie die eindadres nie. Sonder God brand die son (van God se geregtigheid) dit droog en weg, sodat daar niks oorbly nie. Met ‘n arm status kan mens dalk nie ‘n brood koop nie, maar die kindskap van God is met Jesus se bloed betaal. Die rykste mens op aarde kan dus nie ‘n druppel van Jesus se bloed bekostig nie.

Jare gelede, het ‘n ryk jongman, maklik die naam van “Jappie van Johannesburg” ontvang. Miskien is dit sinvol om hierdie jongman in Jesus se storie ook te beskryf as die “Jappie van die Nuwe Testament”. Hy dra ‘n handgemaakte snyerspak met die beste modehuis se “label”, leerskoene van renostervel, sy sportmotor met die afslaandak is ingevoer en hy dra een van daardie “rykmanskeppies”. Sy peperduur “Rayban” is netjies bo-op die keppie se rand gedrapeer, net in geval die mense hom nie herken indien dit op die oë sou wees. (Hy dra nie ‘n masker nie want dit is voor Covid).


Al sy geld is op die regte plekke belê. Hy leef soos hy vlieg – eersteklas. Hy is jonk, vol lewe, planne en idees. Sy verstand en oë is skerp. Energie is sy handelsmerk, en die dood is vir hom iets wat ‘n ewigheid weg en ver is. Verder meen hy dat hy werklik magtig is – hy het antwoorde op alles; hy het al die oplossings vir enige probleem; sy opinie is die beste vir enige dilemma. Hy weet waarheen hy op pad is en hy gaan sommer môre daar aan kom. Hy is, meen hy, van die nuwe geslag en die oueres is ‘n bietjie outyds. Die lewe het geen kronkelpaaie vir hom nie.


Vandag, het hy ‘n bietjie terloopse advies nodig. Dit was seker vir hom moeilik vir iemand wat alles het, en in beheer was van alles, om by die seun van ‘n timmerman en dit nogal vanaf Nasaret waar niks goed kon uitkom nie (Joh. 1:46), raad te gaan vra. Sy vraag is nie maar net sommer so ‘n standaardvraag nie: “Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” (Matt. 19:16). Jesus se antwoord ontnugter hom. Hy het gedink die hemel is net ‘n paaiement ver wat hy met sy aardse rykdom kon koop en sommer klaar betaal. Jesus sê egter vir hom dat God se koninkryk duurder is as dit. Jy het ook nie ‘n plan nodig nie, maar ‘n Verlosser. Jy het nie ‘n goeie CV of verwysing nodig nie, jy het ‘n Saligmaker nodig.


‘n Mens spog nie oor jou goedheid in die teenwoordigheid van die volmaakte God nie. Jy staan nie voor die troon terwyl die finale groot trompet geblaas het en blaas steeds jou eie beuel nie! God red ons nie op grond van dit wat ons gedoen het nie. God se vreugde en redding word alleen ontvang wanneer ons onself aan God oorgee, nie as beloning vir wat ook al nie. Die eerste stap na redding en vreugde is daarom ‘n pleidooi om hulp, ‘n erkenning van ons geestelike armoede, ‘n erkenning van ons gebreke. Diegene “wat weet hoe afhanklik hulle van God is en treur oor hul sonde” (Matt. 5:3-4). Diegene wat God in hulle lewens teenwoordig maak, wat hulleself bankrot verklaar het a.g.v. die sonde en bewus is van hulle geestelike krisis.


Dit was nie die ryk jongman se geld wat hom verhinder het nie, dit was sy selfgenoegsaamheid, sy oortuiging dat hy alles het, alles kan verkry, op sy eie, sonder die hulp van God – ook die ewige lewe. Sy hart was by sy aardse skatte wat net tydelike waardes bied terwyl die hemelse skat (v. 21), ‘n ewigheidswaarde verseker. Jesus het dit nie hier teen ryk as sodanig nie, maar teen die sterkes, die mooies, gewildes, die geleerdes, die super godsdienstiges. En ook teen ons wat dink dat enigiets ons kan laat kwalifiseer vir die koninkryk. Ons kan onsself nie red nie. Nie deur die regte rituele nie. Nie deur die regte leerstelling nie. Nie deur toewyding nie. Noem maar op – want Jesus sê: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.” Hy is ‘n groot en almagtige God, en dit is ons God, wat vir sy kinders sal doen wat hulle nie vir hulleself kan doen nie.


Watter versperrings is daar op my en jou pad om Jesus te volg? Kom ons vervang dit met ‘n opregte geloofspad saam met Jesus. Die vreugde wat ‘n lewe in verhouding met Hom bied, is só anders as dié wat die wêreld uitdeel.


“Dit verg nie baie geld om tussen jou en God te kom nie. Dit moet net op die verkeerde plek geplaas word om God se beeld te belemmer” (A.W. Tozer).


Gebed: Here, wat help dit my om die hele wêreld as wins te verkry en my lewe te verloor? (Mark. 8:36). Ek kan met geld feitlik alles koop, maar nie die hemel nie. Dankie dat U ‘n God is wat omgee en vir my sorg. Dankie dat U vir my álles gee om te kan geniet. Weerhou my daarvan om nie hooghartig te wees oor my besittings en my hoop te plaas op die onsekerheid daarvan nie. Gee my insig om dit aan te wend soos U wil. Amen.




Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page