top of page

Gedagte vir Vandag

4 Februarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (42)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit (9).

(Matt. 19:1-30)

Die ryk jongman (4)

(Mark. 10:17-31; Luk. 18:18-30)

Wie kan dan gered word?


Matt. 19:25-26 – “Toe die dissipels dit hoor, het dit hulle geweldig ontstel, en hulle het gesê: ‘Wie kan dan gered word?’ Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: ‘Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”


Vergelyk ook Ef. 2:8-9 – “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.”


Die ryk jongman wou só graag godsdiens as ‘n bykomende sekerheid by alles wat sy lewe ryk maak, ook nog die innerlike tevredenheid van geestelike verdieping byvoeg. Dit moes ‘n laaste toevoeging op die kruin van sy jong lewe wees. Hy het immers sy kredietbalans van die wetstoepassing reeds opgestapel, en God moes nou net die kersie op die koek plaas, die sogenaamde middel tot ‘n doel wees. Jesus kom egter en lei hom op die korrekte lewensvisie. God laat Hom nie koop nie, Hy is nie ‘n middel tot ‘n doel nie. God is die doel van die lewe Sélf! Dit is alles of niks. Daarom is dit vir die geringstes en kinders makliker om die koninkryk van God te verkry, want hulle stel geen eise nie.


Dit het die dissipels hewig ontstel en wil weet “wie dan gered kan word?” Ons is immers almal tog op die een of ander manier ryk, mense wat êrens iets in hulle lewe het waarop hulle trots is en dit na aan hulle hart lê. Vir die dissipels gaan dit nou nie meer oor ryk mense nie, maar oor álle mense. Wie kan só verander dat hulle alles prysgee ter wille van die koninkryk. Jesus antwoord dat ons mense nie só kan verander nie, maar God kan ons só verander, want “vir God is alles moontlik.” Jesus verseker hulle dat God wel sal sorg vir die wat Hom liefhet. Daarmee gee Hy te kenne dat ons net deur genade gered kan word en sny Jesus eens en vir altyd die gedagte af dat ons op enige ander manier ons redding kan verdien. Selfs geloof is geen verdienste nie maar ‘n gawe van God in sy genade vir wie daarna soek. (Vergelyk ons teksvers Ef. 2:8-9).


Ek dink dat geen gelowige sal met Jesus verskil dat “vir God alles moontlik” is nie. Ons kan daarop reken dat God alles kan verander, selfs mense. Maar hoekom kon Hy nie hierdie jongman verander om sy rykdom prys te gee nie? Was dit vir God onmoontlik om hom te verander? Met respek, word Jesus nie hier weerspreek deur die werklikheid nie? Ek dink die antwoord op bogenoemde vrae is ‘n besliste ja. Ja, God se liefde kan die hardste hart sag maak, die rykste mens nederig maak, want God is liefde! (1 Joh. 4:16). Ja, as ek en jy Sy liefde nie wil hê nie en verbete vasklou aan ons aardse goed omdat dit ons veiliger laat voel as God se liefde, is een ding vir God onmoontlik: om Sy liefde opsy te skuif en ons met geweld te dwing om Hom bo ons goed te kies.


En dit is die geheim van God se koninkryk: Ek en jy kan nie ons eie vuiste waarmee ons so naarstigtelik met geweld vasklou aan ons besittings, oopbreek nie, maar “vir God is alles moontlik”, Hý kan! By die grootsheid van Sy koninkryk is almal gelyk. By hierdie “naald se oog” is niemand groter as iemand anders nie. Ons is almal mense van wie God eers al ons bates en laste moet verwyder sodat ons soos ‘n kind word wat hom of haarself kan laat begunstig!


Wie kan vir my en jou ‘n beter voorbeeld wees as Jesus? Toe Hy daar aan die kruis gehang het, Sy dissipels gevlug het en selfs Sy kleed in die dobbelende en drinkende Romeinse soldate se hande geval het, was daar niks of niemand meer wat tussen Hom en God sou kon staan nie. Jesus het niks meer oor gehad nie, daarom kon sy Vader vir Hom álles wees. God se genade kan nie geweeg word nie, Sy trou duur van geslag tot geslag. Sy genade maak die “onmoontlike, moontlik” en Hy is vandag nog steeds dieselfde God van destyds toe Jesus daar aan die kruis gehang het. Hy is steeds toeganklik vir weerloses, rykes, magtiges, kinders en oumense. Ek en jy kan dit maar glo: By Hom is die oplossing vir ál ons vrae en saam met Hom kan ons enigiets met vrymoedigheid betree, selfs ‘n onbekende 2021! Ons hoef nie “bedruk van Hom weg te gaan nie” (v.22).


“Van een ding kan ek seker wees: Jesus Christus het my ook aangekyk en liefgekry (soos vir hierdie jongman). Nou kan ek gaan waar ek ook al wil. Daar is geen plek wat Sy liefde my nie kan bereik nie, daar is geen ruimte wat Sy arms nie kan omvat nie” (Helmut Thielicke).


Gebed: Here, ek moet bely, U woorde het vir my, net soos vir die dissipels verstom. Welvaart is immers dan juis die bewys van U seën. Daar is tog baie gelowiges wat voorspoed geniet! Maar dankie dat ek opnuut kon besef, al kan ek alles op aarde bekostig, kan ek die ewige lewe wat ek kortkom, nie verdien of koop nie. Ek besef ek kan nie op my eie vermoëns of materiële bates steun nie, maar alleen op geestelike rykdom wat my waarborg is dat ek kan deel wees van God se koninkryk. Dankie Here dat ek dit as ‘n genadegawe van U af ontvang en dat “U my so lief het dat U Jesus gegee het, sodat ek wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page