top of page

Gedagte vir Vandag

29 Januarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (38)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit.

(Matt. 19:1-30)

Jesus seën die kindertjies

(Mark. 10:13-16; Luk. 18:15-17)


Kinders is geskenke van God – koester hulle soos wat God wil hê!


Matt. 19:13-15 – “Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy hulle die hande moet oplê en vir hulle moet bid. Sy dissipels het met hulle daaroor geraas. Maar Jesus het gesê: ‘Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.’ Nadat Hy hulle die hande opgelê het, het Hy daarvandaan weggegaan.”


Vergelyk ook Ps. 19:8-9 – “Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is. Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig.”


Dit was gebruiklik dat ouers hulle kinders op die aand van die Groot Versoendag na ouderlinge of skrifgeleerdes neem vir voorbidding en om hulle te laat seën. Die kinders waarvan hier gepraat word is van suigelinge tot ongeveer twaalf jaar oud. Binne die Joodse gemeenskap is die kinders onder twaalf nie gereken as godsdienstig belangrik nie. Hoewel hulle hul kinders vertroetel en versorg het, het hulle die kinders as toekomstige volwassenes gesien wat eers op twaalf jaar deel van die godsdienstige lewe geword het. Jesus sien in volwassenes egter die verlore kind, die kind wat in ontvanklikheid, liggelowigheid en gewilligheid hom of haar, op ander verlaat. Hulle wie nog werklik klein is in hulle eie oë en ten volle bewus is van hulle algehele afhanklikheid van diegene wat aan hulle goed doen.


Die dissipels staan wéér teenoor Jesus en hulle gebrekkige insig word vir die soveelste keer onderstreep. Deur hulle optrede het hulle egter in die weg van Jesus se liefde te staan gekom. Daarom neem Hy hulle dit kwalik; hulle bedagsaamheid was niks anders nie as onbedagsaamheid oor die doel van Sy koms. Jesus het juis aarde toe gekom tot seën van die geringes en die uitgeworpenes en sondaars. Daarom “mag die kinders nie verhinder word om na Hom te kom nie.” Dit is kindertjies wat dankbaar is met dit wat hulle het. Hoewel die dissipels dit irriterend vind dat kindertjies vorentoe gedruk word waar dit om belangrike en volwasse sake gaan, het Jesus op tipies rabbynse wyse “hulle die hande opgelê en daarvandaan weggegaan.”


Om ‘n ouer (en selfs grootouers) te wees, is genade van God. Dit is ‘n voorreg om verantwoordelik te wees vir die welsyn, sorg en ordelike lewe van kinders. Die heel eerste opdrag wat God aan die man en vrou gegee het direk nadat Hy hulle geseën het, was: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit” (Gen. 1:28a). Gesinsvorming is ‘n uiters verantwoordelike roeping van ouers want God het dit goedgedink, om die huwelik daar te stel vir kinders om die wêreld in te kom. Dit is die veilige hawe waarheen kinders elke keer kan terugkeer om hulleself te wees, beskerm te word en liefde te ontvang. Daar is ’n rede hoekom God die huisgesin gekies het om die platform te wees vir kinders om in die wêreld te kom. As Hy gedink het ’n hospitaal of ’n spesiale broeikas en grootmaak-sentrums sou beter werk, sou Hy dit eerder gekies het. Maar nee, God het geweet, gesinne sal beter werk.


Om kinders groot te maak, is altyd ‘n dure verantwoordelikheid. Elke ouer se diepste drome is om “volmaakte” kinders te hê. Ongelukkig is niemand volmaak nie. Almal is vol foute en tekortkominge en selfs die beste pogings om ‘n kind blink te poets, aan te moedig, forseer, omkoop of ompraat, gaan nie altyd die resultate lewer wat ‘n ouer verwag het nie. Wat gewoonlik gebeur is dat die ouer sý “onvolmaaktheid” wil verbeter en dit wat die ouer nie kon vermag het nie, op hulle kinders wil oordra en hulle in super-wesens wil verander. Hoekom het ons hierdie strewe na volmaaktheid, na ‘n ere plek? Baie ouers wil só graag hulle kinders vorm tot “konings” van hulle eie aardse koninkryke, terwyl dit elke ouer se eintlike plig is om te sorg dat hulle kinders by God uitkom, dat hulle hemel toe gaan.


Hoe gaan ek en jy as ouer dit regkry? Hoe verseker ons ons kinders se beloning by die Here? Hoe verseker ek en jy, ons kind(ers) gaan hemel toe? Vertel hulle van kleins af van Jesus en as ouer, maak sélf seker om die Here te verheerlik en naby Hom te wees en om vanuit Sy woord te leef want “die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe!” Maak jou eie saak met God reg. ‘n Voorbeeld van ‘n lewende verhouding met Jesus Christus is die heel kosbaarste erfenis wat ‘n mens aan jou kinders kan nalaat. Ondersoek jouself en gaan op jou knieë en bid dat God jou genadig sal wees en bely dat jy nooit jou roeping sal kan verwesenlik vanuit jou eie kragte nie. “Gee jouself aan God as lewende offer. Moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God jou verander deur jou denke te vernuwe. Dan sal jy ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is” (Rom. 12:1-2).


“Die woord van die Here is volmaak” want Sy woord kom tog uit Hom uit. “Dit is betroubaar, dit gee wysheid aan jou wat nog onervare is, dit dui vir jou die regte koers aan, dit bring blydskap, dit gee insig”, dit is goed, en staan altyd vas, dit is reg en regverdig, dit is kosbaar … elke liewe eienskap is perfek. Elkeen van die eienskappe van die Woord van God, is juis die tipe eienskappe wat ons graag self wil wees, wat ons vir ons kinders as voorbeeld wil wees, uit respek vir God en respek vir ons kinders. Maak seker dat hulle my en jou voorbeeld volg deur in Jesus Christus te glo, dat hulle “met hulle monde bely dat Jesus die Here is, en met hulle harte glo dat God Hom uit die dood opgewek het, dan sal hulle gered word” (Rom. 10:9). “Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning” (Ps. 19:12b).


Is sulke kinders se geloof volmaak? Wie van my en jou s’n is? Die vraag is of ons as ouers en grootouers, ons kinders as godsdienstige randfigure sien soos die dissipels, of is hulle godsdienstig vir ons so belangrik dat ons hulle met eie hand na Jesus bring om vir hulle te bid en te seën?


“Deur die eeue was kinders nog nooit goed daarmee om na hul ouers te luister nie, maar hulle het nog nooit probleme gehad om hul ouers se respek te aanvaar en hul voorbeeld te volg nie – goed en sleg” (James Baldwin).


Gebed: Onse Vader, dankie vir die genade om kinders te mag hê. Dankie vir die kinders wat U aan my toevertrou het. Dankie dat hulle van kleins af u Woord kon ken. Here, Ek kan slegs met vertroue regop staan en die uitdagings van kinders wat in ‘n moeilike wêreld grootword, ‘n wêreld wat U nie erken nie, die regte waardes by hulle in te skerp. Ek besef ook dat terwyl ek kinders het, my gebede vir hulle nooit eindig nie. Maak asseblief van my ‘n ouer op wie my kinders kan trots wees én waarmee U tevrede sal wees. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page