top of page

Gedagte vir Vandag

7 Okt 2020

Koos Espach


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN. (Matt. 13:54–16:20)

‘N TWEEDE VERSOEK OM ‘N TEKEN AFGEWYS (1).

(Mark. 8:11-13; Luk. 12:54-56; vgl. Matt 12:38-42)

GELOOF IS BELANGRIKER AS WONDERWERKE!

Matt. 16:1 – “Die Fariseërs en die Sadduseërs het gekom om Jesus op die proef te stel. Hulle het Hom gevra om vir hulle as teken uit die hemel ‘n wonder te doen.”

Nadat Jesus die mense in die Dekapolis gevoed en hulle huis toe gestuur het, het Hy en die dissipels “in die skuit geklim en na die gebied van Magadan (volgens Matteus); Dalmanuta (volgens Markus) vertrek” (15:39). Die juiste ligging van hierdie dorpie waarheen hulle vertrek het, kan nie aangewys word nie maar moes waarskynlik iewers tussen Kapernaum en Tiberias geleë het. Sodra hulle weer in die Joodse land aankom, het “die Fariseërs en die Sadduseërs gekom om Jesus op die proef te stel. Hulle het Hom gevra om vir hulle as teken uit die hemel ‘n wonder te doen.” Die Fariseërs en Sadduseërs was normaalweg mekaar se vyande, maar nou vorm hulle 'n gesamentlike front teen Jesus.

Die belangrikste volksleiers kon nooit saamwerk nie, want hulle het dikwels oor leeraangeleenthede met mekaar verskil. Die Fariseërs het op die nakoming van die wet gekonsentreer, terwyl die Sadduseërs ‘n eliteparty was wat hulle lede uit die priesterstand getrek het en geglo het húlle bewerkstellig kontak tussen God en mense, dit kan dus nie Jesus wees wat hierdie kontak bewerkstellig nie. Beide groepe se haat vir Jesus, blyk daaruit dat hulle vra vir ‘n “teken uit die hemel”. ‘n Gewone wonder is nou nie meer genoeg nie. Ten spyte van al die wondertekens van die Here, spreek hulle sataniese boosheid daaruit dat hulle Jesus “op die proef wou stel”, dieselfde as die tyd toe die duiwel Jesus in die woestyn versoek het (Matt. 4:1-11).

Jesus wil geglo word en wil ons lewe deur sy Gees vul. Soms wonder mense egter of dit wat hulle van Jesus glo nie misleidend is nie. Daar is tog soveel ander gelowe in die wêreld en baie lyk en klink opreg, sommiges nog beter. Buitendien is die pad van geloof in Jesus nie altyd maklik nie en vra dit soveel selfopoffering van ons. Sommige voel dat dit ook makliker sou wees om te glo as ons self in die tyd van Jesus geleef het. Dit laat ons soms na wondertekens vra om ons geloof in Jesus te bewys. Dit is presies wat die Fariseërs en Sadduseërs van Jesus vra. Hulle soek ‘n “teken uit die hemel” wat Sy Messiasskap sou bewys. Hulle vra as`t ware ‘n Vaderskap toets van Jesus. En Jesus weier dit. Jesus kan nie bewys word nie, Hy moet geglo word!

Geloof in tye van twyfel is nie maklik nie. Dit is maklik om ‘n dissipel te wees in tye van voorspoed wanneer ek en jy God se teenwoordigheid ervaar en vol vertroue is. Maar dit is ‘n ander saak wanneer God ver van ons af voel en dan begin ons soms wonder of God regtig van ons weet en indien wel, of Hy vir ons omgee. Dit is dan wanneer ons soos Dawid vra: “Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?” (Ps. 13:2). In sulke tye moet ons in geloof wandel, en nie volgens gevoel nie, “God verontagsaam nie die geroep van ons wat in nood verkeer nie” (Ps. 9:13). Ons Here werk met genade, nie soos die Fariseërs op wette of die Sadduseërs op rituele nie!

Jesus Christus het midde-in ons gelowiges kom staan, as’t ware tussen God en ons, as die verpersoonliking van genade en die ware liefde. Wanneer die wêreld om ons donker en eensaam voel, kan ons verseker weet dat Hy sy genadewerk voortsit deur die Heilige Gees wat in ons kom woon het. Deur Sy Gees stel Jesus ons in ‘n persoonlike verhouding met God, indien ons Hom die geleentheid daartoe bied in geloof “Hy het God se Naam aan ons bekend gemaak … sodat die liefde wat God aan Jesus bewys het, in ons kan wees en Jesus ook in ons” (Joh. 17:26). Jesus Christus is altyd daar, “Hy is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb. 13:8). Hy weet van ons en Hy gee wel om. Ons moet net vashou aan ons geloof, dan sal ons selfs in donker tye ook Sy ryke seën ontvang.

Geloof betree die trappe wat die Liefde gemaak het en kyk deur die venster wat Hoop oopgemaak het” (Charles Spurgeon).

Gebed: Almagtige Vader, soms voel my lewe so deurmekaar en is ek só verward. Dit voel vir my asof U oneindig ver en onbereikbaar is, asof U nie luister wanneer ek my hart voor U uitstort nie, asof U nie omgee wat met my gebeur nie. Dit maak my bang en voel asof ek alleen besig is om ‘n stryd in die donker te stry. Maar dankie Here, “U hoor die gesmeek van die hulpeloses en gee ons nuwe moed” (Ps. 10:17). U laat my weer sekerheid van geloof ervaar en U Gees dra my deur hierdie onsekere tye waarin ek my soms bevind. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page