Gedagte vir Vandag

22 Januarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (33)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vierde toespraak: Verhoudings tussen gelowiges.

(Matt. 18:1-35)


Die plig om te vergewe (5)

Almal het ‘n behoefte aan vergifnis!

Matt. 18:35 – “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”


Vergelyk ook Matt. 6:14-15 – “As julle ander mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredinge vergewe nie."


Dit is nie moeilik om die onregverdigheid van die man wat miljarde geskuld het en wie se skuld afgeskryf is, teenoor die man wat hom maar ‘n paar rand skuld, aan te voel nie. Wat my egter laat regop sit, is Jesus se laaste woorde van Sy storie: “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.” Jesus rig nie ‘n vriendelike versoek aan ons wat ons kan oorweeg, wanneer die tyd vir ons geleë is nie – Hy gee vir ons ‘n opdrag en daarmee saam ‘n waarskuwing! “Onmoontlik, God is ‘n God van liefde, Hy sal nie dieselfde met ons maak nie, ons is immers deel van Sy familie.” Ja, jy is reg, maar God is regverdig ook, anders het ons ‘n “mickeymouse godsdiens” – ons kan dan net sowel aan fabels glo.


Dit maak die intensie waarmee Jesus hierdie storie beklemtoon, duidelik: God vergewe ons, daarom moet ons mekaar vergewe. As ek nie vergewe nie sal God my ook nie vergewe nie! Maar ... “Ek kan nie sommer net vergewe nie want dan dink hy ek ontken wat gebeur het”, is die mees algemene reaksie vandag (want onthou, ons is beskaafde mense). Ons sê en doen eerder niks nie en ons sluit daardie persoon uit ons lewens uit. Ons ondermyn alles wat hy of sy doen, ons staan alles wat hy of sy doen teë en dit is ons grootste dag as daardie persoon eendag misluk, want, sien, hulle het mos daarvoor gesoek. Kry vir jou!

Toe Jesus die prys betaal het vir ons skuld, was dit nie ‘n ontkenning van ons oortredinge nie, dit was juis ‘n erkenning van ons oortredinge én boonop die betaling daarvan. Hy het nie net oor vergifnis gepreek nie, maar aan die kruis gedemonstreer! Wanneer ons dus mekaar vergewe is dit juis ‘n erkenning van dit wat gebeur het, en dat dit seergemaak het, en dat dit verkeerd was. God het ons uit genade van vernietiging gered en daarom behoort dit ons te dryf om ander wat teen ons oortree, te vergewe.

Dit behoort nou vir Petrus en vir ons, duidelik te wees dat ons goeie gesindheid en vergifnis van mekaar nie afhang van die grootte van skuld en die aantal kere wat ons moet vergewe nie. Die Here Jesus was nie besig om woordsomme met Petrus te maak nie. Hy sê nie vir Petrus en vir ons, dat ons veronderstel is om boek te hou van ons vergifnis en dan 490 keer vergewe nie. In die koninkryk van God gaan dit om onbegrensde liefde teenoor die onbegrensde haat. In wese is vergifnis dus grensloos omdat God alleen met daardie beginsel die deur vir my en jou kon oopmaak. Sewentig maal sewe keer” is gelyk aan 490. Dit kan maklik met die kop uitgewerk word, maar wat Jesus voorstel is hemelse rekenkunde, en dit word met die hart gedoen. Daarom mag daar geen beperking op ons vergifnis aan ander wees nie. Ons moet oorvloedig in vergifnis wees. Dit is Sy opdrag!


Die mens wat leef uit die oorvloedige genade van God wil in dankbaarheid oorvloedige geregtigheid aan almal bewys. Ek en jy het miskien ook al gesê: "Ek kan vergewe maar nie vergeet nie"? Dan hou ons teer wonde aan die bloei en ons laat daarmee toe dat ons gees vergiftig word met bitterheid en haat. Dink dan weer aan Jesus Christus se genade. Kyk dan weer na die kruis en onthou die vergifnis wat ons daar ontvang het. Ja, ons sal seker nooit kan vergeet nie, maar onthou dat ons vergewe omdat ons vergewe is!


Kan enige oortreding wat teen ons begaan is so onverdiend wees as die mishandeling wat die sondelose Seun van God moes verduur? God sal sy vergifnis aan ons onttrek as ons weier om ons medegelowiges onbeperk te vergewe. Ons moet dit van harte doen. Ons moet met ons hele wese daarop ingestel wees om geleentheid tot vergifnis aan ander te soek. God se vergifnis gee aan ons die vryheid om lief te hê en die vermoë om te vergewe … en te vergewe … en te vergewe … sewentig maal sewe keer - onbeperk. As God bereid was om die enorme skuld wat ons teenoor Hom gehad het, af te skryf, hoe kan ek en jy weier om ons medemens te vergewe wat eintlik so min aan ons verskuldig is? Dit is baie moeilik, ja, maar met die Heilige Gees se hulp is dit moontlik!


“Hy wat ander nie kan vergewe nie, vernietig die brug waaroor hy sélf moet stap, want elke mens het behoefte aan vergifnis” (Thomas Fuller).


Gebed: Here, dankie dat U nie somme maak as dit by vergifnis kom nie. Dankie dat U nie boekhou van my kwaad nie en nogtans met my uithou! Maar Here, hoekom moet daar altyd ‘n maar in my woordeskat wees? Waarom is dit so moeilik om in vrede met mekaar te lewe? Waarom is dit so moeilik om te sê ek is jammer as die woordewisseling eers begin het? Open my saamgeperste lippe dat die herstel van liefde en harmonie ál is wat saak maak. Skenk my ‘n vriendelike, simpatieke en ‘n vergewensgesinde gees. “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het, sing dankbaar my verlossingslied” (Ges. 230:1). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: [email protected]

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.