top of page

Gedagte vir Vandag

21 Januarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (32)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vierde toespraak: Verhoudings tussen gelowiges.

(Matt. 18:1-35)


Die plig om te vergewe (4)

Dis net ‘n skurk wat nie kan vergewe nie!

Matt. 18:31-34 – “Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle diep teleurgesteld, en hulle het alles wat gebeur het, vir hulle koning gaan vertel. Die koning het hom laat haal en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het. Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?’ Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het.”


Vergelyk ook Matt. 5:23-24 – “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”


Die medeamptenare se diep teleurstelling onderstreep die koning en sy amptenare se hegte eenheid, en dat die onbarmhartige amptenaar hierdie eenheid deur sy optrede, verbreek. Daarom vertel hulle noukeurig aan die koning wat gebeur het. Die woede teenoor en die verwerping van die onbarmhartige amptenaar is die logiese gevolg van sy skokkende onbarmhartige houding, direk nadat aan homself op so ’n onberekenbare groot wyse barmhartigheid betoon is.


Onvergewensgesindheid is nie net ‘n muur tussen God en ons nie, maar ook tussen ons en iemand anders. Om te dink ons het met God vrede gemaak omdat ons in Jesus Christus glo, is nie genoeg nie. Dit is nie volkome vrede nie. Wanneer ons gawes na die plek van versoening (kerk) met God toe neem en dit ons daar byval dat iemand iets teen ons het, moet óns eers die vrede gaan herstel. Ongelukkig is dit ‘n feit dat ons in ‘n verskeurde wêreld leef en daarom sal dit miskien nodig wees om hierdie herstel-proses baie te herhaal. Dit is ook nie maklik om dit reg te kry nie.


Gebroke verhoudings is die epidemie van ons tyd. Om nie te kan vergewe nie vervreem familielede, verdeel vriende en kerke en verwoes huwelike. Net Christus het raad met die rampspoedige invloed van hierdie sonde op menslike verhoudings – vergifnis, genade en liefde! As Sy dissipels moet ons hierdie boodskap van vergifnis, genade en liefde na hierdie gebroke en verskeurde wêreld neem, maar dan beteken dit versoening eers met God en dan met mekaar. As daar iemand is wat jy weier om te vergewe, is jou boodskap van vergifnis, genade en versoening skynheiligheid.


“Daar is nie ‘n maníér dat ek gaan vergewe nie, ek is nie die oorsaak van hierdie twis nie!” Dit is gewoonlik die reaksie van menigte en eintlik ‘n kinderagtige argument. Iemand wat aan God behoort, reageer anders, al is dit hoé moeilik. Jy draai nie om en stap wipperig weg nie – jy stop en sê: “Ek is jammer, vergewe my.” Jesus se woorde om “eers reg te maak” is die uitstaande kenmerk van ‘n getroue dissipel wie se optrede positief is. Jesus se bedoeling is dat daar onmiddellik werk gemaak moet word met enige griewe voor dit te ver gevorder het. Vergifnis en liefde sluit die waarheid oop en die waarheid maak vry. Ons is immers vrygemaak deur die Waarheid en deur die genade van die Vader.


Hoe kan ons God aktief bely as Hy ons uit genade gered het en ons deel van Sy gesin gemaak het, maar intussen tree ons onversoenend op teenoor Sy ander gesinslede? Bitterheid werk nie, dit teel bitterheid. Bitterheid doen niks aan die ander persoon nie. Jy kan nie iemand seer maak met jou bitterheid nie, behalwe jouself. Ons kan kies tussen bitter of beter! Baie van ons gelowiges kan getuig van families en selfs gesinne wat uitmekaar geskeur is as gevolg van twis wat uitgekring het, in plaas daarvan dat dit herstel is voor dit te ver gevorder het. Nege uit tien gevalle word opgelos voor dit sluimer en slegter word en veroorsaak dat die sondesirkel om nie te kan vergewe nie, wyer word. Tree op asof die lewe vandag tot ‘n einde kom. Môre kan dalk net te laat wees.


“Om ‘n Christen te wees beteken dat jy bereid is om onverskoonbare dinge in ander te vergeef, omdat Christus die onverskoonbare dinge in jou vergewe het” (CS Lewis).


Gebed: U Woord leer my om geduldig met ander te wees, mekaar te vergewe, lief te wees vir mekaar. Maar... ja Here, hier is die maar alweer ... in menslike swakheid wil ons eerder mekaar verskeur! Waarom is dit so moeilik om in U vrede met mekaar te lewe? Waarom is dit makliker om daardie flou verskonings te opper van: “Dis mos nie ek wat vergifnis moet vra nie, ek het nie die gemors begin nie,” in plaas van om net te sê: “Ek is jammer, vergewe my!” Here, skenk my die nederigheid om te sê: “Ek is jammer, vergewe my.” Skep asseblief uit die chaos van my bakleierige aard, vrede, vergifnis en harmonie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page