top of page

Gedagte vir Vandag

13 Januarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (29)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vierde toespraak; Verhoudings tussen gelowiges.

(Matt. 18:1-35)


Die plig om te vergewe (1)

Vergifnis en liefde is die twee sleutelwoorde van ‘n Christen!

Matt. 18:21-22 – “Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: ‘Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?’ Jesus antwoord hom: ‘Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.”


Na Jesus se lering oor gelowiges se optrede tydens ‘n broer of suster wat afgedwaal het en sodoende hulle dissipelskap in gedrang sou bring, vra Petrus “hoeveel keer hy hierdie broer of suster moet vergewe as hulle iets verkeerds teen hom gedoen het?” Petrus is bekommerd dat Jesus hulle nou ’n reël gegee het – om ’n saak te gaan besleg met iemand wat teen jou gesondig het – wat deur die oortreder uitgebuit en misbruik kan word. Daar moet tog seker êrens ‘n grens wees. Onder die rabbyne het die opvatting geheers dat iemand nie meer as drie keer vergewe behoort te word nie. Petrus se voorstel is dus ’n berekende oortreffing daarvan. Eintlik verraai Petrus se vraag dat hy moontlik nog nie verstaan het dat die eintlike doel, die terugwen van ’n afgedwaalde broer of suster is nie.


Petrus vra spesifiek vir Jesus hoeveel keer hy moet vergewe. Jesus boul hom egter uit met Sy antwoord en voeg ‘n paar nulletjies agter Petrus se sewe: “Nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.” Jesus kom keer hierdie lewensreël van die Jode volkome om. Vergelding is nie meer die belangrike faktor in die bepaling van die verhoudinge van mens tot mens nie, maar die vergewing. Dit gaan ook nie om die stel van sekere perke aan die mate van vergewensgesindheid nie. In die koninkryk van God gaan dit om 'n vryheid wat in staat stel om die gesindheid van Jesus Christus in alle omstandighede te openbaar, daarom word ‘n vergifnis vraag nie eers gevra nie, ons vergewe! Dis ‘n hemelse dimensie!


Daar is min dinge wat kosbaarder is om te ontvang, as vergifnis. Daar behoort nie ‘n dag verby te gaan dat ons nie nodig het om God te vra om ons skuld teen Hom en ons naaste, te vergewe nie. Dit is God se aard om te vergewe soos Hy reeds aan Moses meegedeel het, duisende jare vantevore (Eks. 34:6-7). Daarom is dit ook nie 'n vraag of 'n mens presies sewe maal moet vergewe nie. As ons Sy dissipels wil wees moet ons ook kan vergewe om vergewe te word. As iemand om vergifnis vra, mag dit hom nie ontsê word nie, al sou dit “sewentig maal sewe keer” gebeur. Met hierdie getal word nie 'n perk aan die vergifnis gestel nie, maar eerder dat dit juis om die gesindheid gaan en daarom is vergifnis onbeperk, aanhoudend en onophoudelik.


Om vergifnis te vra of om jammer te sê, is seker een van die moeilikste dinge vir die mens om te doen. Die grootste rede is moontlik dat ons geneig is om vas te klou aan eie eer, en die blaam vir die oortreding, maklik verskuif na iemand anders – Adam sê dis Eva, Eva sê dis die slang en Adam gaan nog ‘n stappie verder en blameer God “vir die vrou wat God hom gegee het …” (Gen. 3:12-13). Ons is ook maar in ‘n sekere sin net soos Adam – dit is só maklik om te bely ons is geneig tot die kwaad en onbekwaam om goed te doen en dan op die koop toe, Paulus aan te haal: “Die goeie wat ek wil doen, dit doen ek nie …” (Rom. 7:19). En so probeer ons onsself bewys as die veronregte en ons oortredinge (sonde) kamoefleer!


Vergun my om die volgende wat ek van Max Lucado raakgelees het, te deel. Stel jou voor jy ontvang ‘n brief van die hemel af wat soos volg lees:


Beste Koos,


Ek skryf in antwoord op u versoek om vergifnis wat ons vanoggend ontvang het. Dit spyt my om u mee te deel dat u reeds u kwota van sondes oorskry het. My rekords toon dat u, sedert u van ons dienste gebruik maak, sewe maal op die gebied van hebsug oortree het en dat u gebedslewe onder standaard is. Ons sien ook dat u geneig is om in oormaat te skinder en eerder die splinter in ‘n ander se oog raak te sien as om die balk in jou eie oog waar te neem. Nog een van die vele oortredings is dat u steeds glo aan ‘n oog vir ‘n oog instede daarvan om die ander wang te draai of die ekstra kilometer te loop. Weens hierdie enkele sondige optredes, van die duisende ander waaraan u uself aan skuldig gemaak het deur die jare, is u ‘n hoërisiko-kandidaat. U moet verstaan dat genade ook beperkings het. Jesus stuur egter Sy spyt en beste wense en hoop dat u elders gehelp sal word.

Beste wense.


Sê nou net, sê nou net dit is waar “dat God se genade ook beperkings het” – SKRIKWEKKEND! Goddank, God se genade is grensloos!!! Dit het God ‘n verskriklike prys gekos om ons te vergewe en ons regverdig te maak. Hy het ons almal ‘n onbetaalbare groot sondeskuld kwytgeskeld. Ons dankbaarheid oor God se onbeperkte liefde en genade behoort ons oorstelp te laat sodat ons nie haastig genoeg, mekaar se bietjie skuld afskryf nie. Ons mag nie boekhou van ons vergifnis nie, want eintlik skuld ons mekaar niks nie, behalwe die liefde.


“As jy onder ‘n slegte persoon se onreg ly, vergewe hom, anders is daar twee slegte persone” (Augustinus van Hippo).


Gebed: Here, maak my bewus van daardie donker hoeke in my lewe waar ek ‘n wrok koester. Maak my soos Christus sodat ek selfs as ek vervolg word kan bid: “Vader vergeef hulle.” Dankie dat U oor my rekening in die hemelse lêer, “VERGEWE DEUR GENADE”, geskryf het. Versterk my Vader om te vergewe soos U my vergewe het. Help my Gees om op die oorwinningspad van vergifnis vir ander te bly leef. In Jesus se Naam met danksegging. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page