Gedagte vir Vandag

8 Januarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vierde toespraak; Verhoudings tussen gelowiges.

(Matt. 18:1-35)


‘n Broer wat sondig (1)

(Luk. 17:3)

Vredeliewende vermaning kom van Bo!


Matt. 18:15 – “As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.”


Vergelyk ook Jak. 3:17-18 – “Die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.”


In Jesus se antwoord oor die dissipels se vraag “wie die belangrikste in die koninkryk van die hemel is(18:1), is dit duidelik dat Jesus dit belangrik ag dat ons in liefde teenoor mekaar moet optree. Liefde is immers een van die vernaamste boustene in Sy koninkryk. Dit is steeds elkeen wat deel is van die gemeenskap van gelowiges, se plig om te sorg dat medegelowiges nie afvallig raak nie. Daarom is dit nodig dat ons nie moet dink naasteliefde beteken dat ons blind moet wees vir ander se oortredinge nie, inteendeel, Jesus verwag juis dat ons mekaar onder vier oë sal aanspreek – “as ons broer, ons medegelowige, verkeerd opgetree het, tereg te wys waar ons eenkant alleen is.”


Die sorg vir die broer of suster bring mee dat dit nie maar net daar gelaat kan word nie, maar die onus op my en jou as gemeentelede rus om werk te maak van die saak, ‘n soort liefdesuitreiking bewerkstellig. In Jesus se tyd is oor die algemeen geoordeel dat ’n nederige terughoudendheid meer gepas was en nie ’n dringende verpligting om die dwalende te probeer behou nie.


Jesus kom keer dit egter heeltemal om en openbaar hoe broederliefde in praktyk gebring behoort te word. Die kerk (onthou, ek en jy is die kerk) mag nie hoogheilig sommer 'n sondaar met sekelhoue uit hulle midde wegsny nie. By die hantering van een se verkeerde weë, moet die klem val op die behoud van so 'n mens. Dit beteken dat daar met groot geduld en takt opgetree sal word. Die een wat oortree, word nie onmiddellik ‘n buitestander nie, maar bly ‘n lid van die huisgesin van God.


Binne die “gemeenskap van gelowiges” skryf ons mekaar nooit af nie. Dit gaan nooit in die gesprek met die ander om jou eie sin te kry of om vergelding nie, maar om die behoud van die “een wat oortree.” Vermaning word altyd deur die liefde beheer en nie deur eie belangrikheid nie, om “jou broer of suster terug te wen.” Rick Warren skryf in sy boek “Doelgerigte Lewe”, dit kos nederigheid om gemeenskap te bou. Nederigheid bou brûe: “Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help” (1 Pet. 5:5).


Alleen gaan ons dit egter nooit regkry nie. Net die Heilige Gees kan ware gemeenskap tussen gelowiges skep. Daarom moet ek en jy “ons daarop toelê om die eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe” (Ef. 4:3). In ‘n kerkfamilie is aanvaarding nie gegrond op hoe slim of mooi of talentvol jy is nie. Dit is gegrond op die feit dat ons by mekaar hoort. Ons verhouding tot God maak die grondslag van ons gemeenskap uit want ons is familie, deel van God se gesin.


Die Heilige Gees lei ons met geestelike wysheid om mekaar te ondersteun en mekaar se swakhede in nederigheid te erken. Jakobus skryf in ons vergelykende teks: “Die wysheid wat van Bo kom” is suiwer met geen “bybedoelings” of verskuilde agendas nie. Wat ons sê is dieselfde wat in ons harte is. Dit is “vredeliewend”want ander gemeentelede word nie verkeerd “opgevryf” nie. Dit is “inskiklik” want ons tree billik op teenoor almal.


Ons is toegeeflik en buigsaam sonder om ons beginsels in te boet. Ons is “bedagsaam” want ons kan goed luister en sien om na mekaar se belange. Dit is “vol medelye” want ons tree op volgens die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het. Ander kan ons “goeie vrugte” sien en aanvoel want die geloof wat in ons hart is kom buitekant tot dade in openbaring. Ons is “onpartydig” want ons takseer nie ander op hulle baadjies nie en behandel almal met liefde. Ons tree “opreg” op want ons staan in ‘n lewende verhouding tot die dinge waarvan ons praat, sonder voorgee of verborge motiewe.


Die vrug van die wysheid wat ons dus behoort te dra, is die vrugte van ‘n nuwe lewe. Hierdie wysheid wat van God afkom is ware wysheid en vrede wat ons as gelowiges in Jesus Christus uitstraal. Dit bring ons in die regte verhouding met God en ons “broer of suster wat verkeerd optree”. Ons tree dan met wysheid op wanneer ander kan sien dat dit nie ons sin is wat afgedwing word nie, maar God se sin wat saak maak. Dit beteken ek en jy moet ons selfgesentreerdheid prysgee, want ons is net soos ons broer of suster wat “teruggewen” is, afhanklik van God.

“Die som van ware menslike wysheid is kennis van God en kennis van onsself” (Johannes Calvyn).


Gebed: Here, wysheid begin by U en U gee die insig. Skenk my die insig om weg te breek van wysheid wat “aards, sinlik en duiwels” (Jak. 3:15) is en die vermoë te kan besit om te weet hoe U wil hê my lewe ingerig moet word en hoe ek in elke konkrete situasie moet optree wanneer my mede broer of suster verkeerd optree. Heilige Gees, help my om ‘n omgewing van warm aanvaarding en vertroulikheid te skep, sodat dit makliker is om hulle diepste seerkry, behoeftes en foute te kan deel. Help ons om “hartlike broederliefde teenoor mekaar te betoon; eerbied teenoor mekaar te bewys en mekaar daarin tot voorbeeld te wees” (Rom. 12:10), want ons verhouding tot ons hemelse Vader, maak ons familie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: [email protected]

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.