top of page

Gedagte vir Vandag

6 Januarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vierde toespraak; Verhoudings tussen gelowiges.

(Matt. 18:1-35)


Gelykenis van die verlore skaap (1)

(Luk. 15:3-7)

Moenie ‘n kleintjie minag nie, maar soek en vind!


Matt. 18:10 en 14 – “Julle moet nooit een van hierdie kleintjies minag nie, want Ek verseker julle dat hulle engele in die hemel gedurigdeur by my hemelse Vader is. So is dit ook nie die wil van julle Vader in die hemel dat een van hierdie kleintjies verlore moet gaan nie.”


Vergelyk ook Rom. 15:1-2 – “Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou.”


Jesus sit met ‘n derde voorskrif Sy onderrig aan Sy dissipels en aan ons gelowiges voort en wys ons daarmee hoe ons na mekaar moet omsien. Na aanleiding van Sy dissipels se vraag oor “wie die belangrikste in die koninkryk van die hemel is” (18:1), eis Jesus nou dat nie “een van hierdie kleintjies geminag word nie, maar liefdevol opgesoek moet word sodat hulle nie verlore mag gaan nie.” Hulle is só kosbaar vir Hom dat die kleintjies (geringstes) se engele, dag en nag voor Hom staan en soos die Psalmis bevestig: “God sy engele opdrag sal gee om hulle te beskerm waar hulle ook al gaan” (Ps. 91:11). In die kerkverband, beteken dit dat die kleintjies (geringes) soos kinders is. Hulle het die ondersteuning van medegelowiges nodig.


Beteken dit nou dat kinders, soos baie mense se populêre opvatting wil glo, beskermengele het? As ‘n grootouer dink ek so, maar nee, dit beteken God gee vir die geringstes ook om: “Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle” (Ps. 34:8). Hulle (die engele) “is almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf” (Heb. 1:14).


Jesus neem ernstig standpunt in teenoor mense wat op ander neersien. Sy koninkryk berus op genade en liefde en dit gaan daaroor dat ons mekaar in nederigheid moet dien. Binne die gemeenskap van die gelowiges moet elkeen van ons besorg wees oor elke ander medegelowige. In hoogmoed en uit ‘n gevoel van eie belangrikheid, moet ons oppas dat ons nie die ander “kleintjies” wat hulle in totale afhanklikheid aan God oorgegee het, minag of as waardeloos beskou of neersien op hulle nie. Binne die koninkryk van die hemel is elke kind van God, ewe belangrik in God se oë.


In ons vergelykende teksvers sien ons vir Paulus wat dit eintlik as ‘n verpligting beskou om “aan ons naaste te dink aan wat goed is vir hom (en haar) en wat hom (en haar) in die geloof kan opbou.” Dit gaan hier meer as net die geduldige verduur van die swakkes, of geringstes, se tekortkominge, dit gaan om hulle te behaag, te “dink aan wat goed is vir hulle.” Dit beteken natuurlik nie om nou maar alles te doen wat die swakkere in geloof begeer nie, maar wat hom of haar kan opbou in die geloof.


In ons moderne wêreld is dít wat Paulus hier vra, eintlik ‘n “tall order.” Ongelukkig is daar mense wat nie hulle skouers en rug wil aanbied om te help dra aan ander se swakhede nie, maar eerder hulle elmboë gebruik om die swakke uit die pad te kry. Die geringes, of die swakke, mag moontlik die pad na sukses versper en eiebelang het nie plek vir swakkelinge nie. Elkeen het ‘n duisend en een redes van selfsoeke om die beste te wees, elkeen vir hom- of haarself.


Geestelike hoogmoed is een van die grootste gevare van toegewyde Christene! Hulle het ‘n hoë opinie van hulle eie wysheid, ‘n eienskap wat jou wysmaak dat jy een van daardie super-Christene is, iemand spesiaal wat jou kant vir die Here bring. Alles wat jy vir die Here doen is darem net ‘n trappie hoër en belangriker as wat ander kerkmense hulle mee besig hou. Hulle is die sogenaamde uitverkorenes, God se “witbroodjies” met wie Hy ‘n belangrike stukkie inligting in ‘n “droom gedeel het.” Hulle het sulke spesiale ervarings van God dat hulle voel hulle staan so paar tree nader aan God as ander gelowiges. Hulle het geestelik só onder ander gelowiges uitgegroei dat hulle nie meer die “kleintjies” raaksien nie. Hulle sal dus ‘n beter plek in die hemel verkry as die kleintjies.


In God se wêreld is dit egter andersom. God het nie witbroodjies nie, Hy trek niemand voor nie! God het nie ‘SY’ son gestop om op te kom nadat Hy dit geskep het nie, inteendeel, Hy onderhou dit deur al die eeue nog steeds, en net so ook élke mens as deel van Sy skepping. “Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand. 17:27b-28). Dit sluit die kleintjies (geringstes) ook in. “Hy laat selfs reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen” (Matt. 5:45b). God was bereid om selfs Sy Seun prys te gee, nie net vir die goeies nie, maar vir álmal. Dit is “die wil van ons Vader in die hemel dat nie een van hierdie kleintjies verlore moet gaan nie.” Hy “trek immers niemand voor nie.” (Rom. 2:11).


Iemand het gesê dat God eintlik meer belangstel in waarom ons iets doen as wat ons doen. Dit sluit baie goed aan by Paulus se opdrag dat “ons nie net aan ons eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.”Wanneer ons nie net op ons eie behoeftes konsentreer nie, raak ons in nederigheid bewus van die behoeftes óm ons. God verkies dat ons nie net aan onsself moet dink nie, maar aan Hom en aan ons naaste. “God is nie onregverdig nie: Hy sal ons werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat ons vir sy Naam betoon het deurdat ons ons medegelowiges gedien het en nog dien nie” (Heb. 6:10).


“Nederigheid beteken nie dat jy minder van jouself dink nie; net dat jy minder dikwels aan jouself dink” (Ken Blanchard).


Gebed: Here, deur nederig te wees kan ek U liefde in my leefwêreld wys. Herinner my gedurig daaraan dat U my gemaak het wat ek is. Leer my die grense van my vermoëns sodat ek in Ú my krag sal soek, die krag wat tot volle werking kom wanneer ek juis swak is. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page