top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 12 Augustus 2022

Koos Espach


Sewe diakens word gekies (7)


Die Gees van die Here maak vry


Hand. 6:7 – “Die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs ‘n groot aantal priesters het gelowig geword.”


Nadat die apostels die sewe manne biddend en met handoplegging aangestel het om na die versorging van die gemeente om te sien, kon die apostels met intense toewyding, voortgaan met gebed en die bediening van die woord vir die mense in die gemeente en buite die gemeente (2:42). Die verkondiging oor die opstanding van Jesus en oor alles wat hulle van Hom gehoor en beleef het, is aan almal verkondig (1:21; 4:20). Met dié bepaling was hulle seker dat hulle doen wat die Here versoek het (1:8; 5:20).


En “die woord van God het verder versprei ...” Die prediking van die goeie nuus (evangelie) deur die apostels en die gemeentelede, het tot gevolg gehad dat die Heilige Gees meer en meer mense oortuig het om in Jesus te glo as Verlosser. Ten spyte van die verbod en straf van die Raad om dit alles te beëindig, en ten spyte van die vrees en ontsag vir God met die Ananias en Saffira episode, het “die getal gelowiges in Jerusalem geweldig toegeneem.” Gamaliël se woord aan die Raad word hiermee duideliker: “…as hierdie onderneming van God af kom, sal julle dit nie kan keer nie” (5:39).


Dan volg Lukas met ‘n stukkie humor. Die priesters wat Petrus en Johannes (4:1-3), in die tronk gestop het, word gelowiges! Van destyds se 8 000 priesters was die meeste Sadduseërs wat nie in die opstanding van die dooies geglo het nie. Daarom is dit eintlik ironies dat die Heilige Gees juis onder hulle, wat die apostels verbied het om in Jesus se Naam te getuig, ’n “groot aantal” oortuig het om gehoorsaam te word in die geloof in Christus. Dit is net die teenoorgestelde van wat verwag is! Só word die koms van die Heilige Gees in elkeen se lewe, ‘n magtige vertoon van God se genade en liefde – “Waar die Gees van die Here is, is daar vryheid” (2 Kor. 3:17b).


Vandag is daar steeds mense wat net soos die priesters van destyds, die lewe deur ‘n bril van vooroordeel bekyk. Die samelewing waarin hulle leef, bepaal hulle opinies oor ander mense – in hierdie geval, op grond van hulle godsdienstige oortuigings. Vooroordeel sluit hulle denke vir die Waarheid (Joh. 14:6), en hulle bly vassteek in hulle eie klein koninkrykie. Wanneer die Gees egter besit van jou neem, verander alle menslike logika en jy sien nie meer “familie van Christus” as opponente wat beveg moet word, of gestuit moet word om in Christus se Naam te getuig nie. Jy sien dan deur die Christus-geloofsbril hulle as medebroers en -susters, familie van die Vader, saamgebind in liefde. Ja, steeds iemand met jou eie identiteit, maar jy dra nie meer oogklappe van vooroordeel teenoor almal wat Jesus Christus aangeneem het as hulle Verlosser en Leidsman nie (5:31). Inteendeel, jy omhels dié wat van jou verskil, en word deel van die Liggaam van Christus waar jy buite jou koninkrykie, ‘n ryker en vryer lewe kan lei.


Al het daar reeds baie eeue verbygegaan, is “die woord van God” en die goeie nuus van die opgestane Jesus Christus nog net so relevant en noodsaaklik soos in die dae van die Vroeë Kerk. Christus het my en jou vandag en môre én elke dag na môre, nodig om Sy liefde te weerspieël en om só te lewe dat die wêreld Sy voorbeeld in ons kan sien en daarom ook sal begeer, om soos sommige van die priesters van ouds, Sy volgelinge te word. As Christen is dit my en jou plig, of liewer, ons voorreg om ander na Christus te lei. Ons moet ons oorgee aan God en Hom vertrou dat sy Gees ons lewe in besit neem en inspireer tot diens in die Naam van Jesus Christus!


Oorgawe is harde werk. In ons geval beteken dit ‘n gedurige intense oorlog teen ons selfgesentreerde aard. Rick Warren het gesê: “Oorgawe aan Jesus Christus is nie die beste manier om te lewe nie, dis die enigste manier om te lewe!” Wel, ek stem saam met hom, niks anders werk nie. Al die ander benaderings wat onsself uitgedink en al probeer het, het net frustrasies en teleurstellings meegebring – “Maar of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil” (2 Kor. 5:9).


Oorgawe om in Jesus Christus te glo, is ‘n lewenslange “kontrak” wat ons sluit met God om deel van Sy gesin te word. En dit duur van oomblik tot oomblik, elke oomblik van elke dag, vir die res van ons lewe! “’n Groot aantal priesters het gelowig geword op die oomblik toe die woord van God in Jerusalem versprei het”. Indien ons nog redekawel en stoei met die idee om God beter te leer ken deur sy Woord te bestudeer, is dit dalk nodig dat ons ook die “kontrak” met God sluit. Ons leef tans in genadetyd, van Jesus se eerste koms na die aarde tot met Sy wederkoms. Dit is nou die tyd om oor te gee – die “kontrak” van God se genadigheid, liefde en wysheid te teken.


“God het my deeglik gebruik in my lewe en my diens geseën omdat ek as jongman ‘n kontrak met God gesluit het. Ek het dit letterlik uitgeskryf en onderaan geteken. Daar het gestaan: ‘Van vandag af is ek ‘n slaaf van Jesus Christus” (Bill Bright).


Gebed: Heilige Gees, in u Naam en krag sal ek getrou wees en probeer om vir ander die pad na Jesus en Sy geregtigheid aan te dui. Van vandag af, is ek opnuut ‘n slaaf van Jesus Christus. “Ek stel elke deel van my liggaam in diens van God as werktuig om te doen wat God wil” (Rom. 6:13). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page