top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 10 Augustus 2022

Koos Espach


Sewe diakens word gekies (5)


Die Heilige Gees bou die liggaam in liefde op


Hand. 6:5-7 – “Die voorstel het by al die gelowiges byval gevind, en hulle het Stefanus gekies, ‘n man met ‘n vaste geloof en vol van die Heilige Gees, en verder Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas, en Nikolaus wat van Antiogië afkomstig was en vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het. Die gelowiges het hulle voor die apostels gebring, en dié het vir hulle gebid en hulle die hande opgelê. Die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs ‘n groot aantal priesters het gelowig geword.”


Uit die verband is dit duidelik dat die hele gemeente, onder leiding van die twaalf, sewe mans kies wat almal Griekse name gehad het. Hoe die kiesing plaasgevind het, weet ons nie. Van twee van die mans word daar nog iets besonders vermeld: Stefanus aan die begin van die lys en Nikolaus aan die einde daarvan. Stefanus was ’n man met ’n vaste geloof en kon daarom so baie in die diens van die Here doen. Die Heilige Gees het hom ook besonderlik bekwaam vir die werk wat hy moes doen. Nikolaus was ‘n nie-Jood van geboorte, wat afkomstig was van Antiochië en tot die Joodse geloof oorgekom het. Hy is die enigste wie se plek van herkoms genoem word, wat moontlik ‘n aanduiding is dat dit iets besonders was dat ’n gewese heiden, of nie-Jood in hierdie stadium van die kerk se geskiedenis, in die kring van die ampsdraers opgeneem is.


Die Jerusalemgemeente het nie net gekla oor hulle interne probleem nie, maar was ook daders wat die sewe mans gekies het om as leiers, sekere amptelike funksies in die kerk te vervul. Alhoewel Stefanus uitgesonder word as “’n man met ‘n vaste geloof en vol van die Heilige Gees,” moet ons onthou daar bestaan nie iets soos ‘n volmaakte leier nie. Met respek, niemand is klein Christusse nie! God gee die leiers die verantwoordelikheid en gesag om kerkeenheid in stand te hou. Ek en jy as lidmate van die kerk, het egter ook ‘n verantwoordelikheid t.o.v. diegene wat bereid is om hierdie ondankbare poste te vul. Hulle het ons gebede, aanmoediging, waardering en liefde nodig. Gelowiges het mekaar nodig as deel van die Liggaam van Christus: “As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly” (1 Kor. 12:26).


‘n Mens hoor gereeld van leraars wat kla dat lidmate wat gewillig is om te help met die aktiwiteite van die gemeente, maar min is. Die algemeenste verskoning van die onbetrokkenes is gewoonlik dat hulle nie tyd of kundigheid het nie. Sommiges wonder, wie is hulle dat God hulle wil gebruik? Seker die kromste stok wat daar is en tog slaan God ’n reguit hou. God sal ons nooit tot sy diens roep sonder dat Hy ons deur sy Gees toerus vir die taak nie. Die Gees help ons om ons gawes aan God te bied en ’n verskil in ander mense se lewens te maak. Dan weet ek daar moet ’n God wees, want op my eie mors ek net.


Indien ek en jy soms wonder wie ons nou eintlik is dat God nou juis vir ons gekies het om diens te verrig in Sy kerk, kan ons met sekerheid weet, dit is juis God se besigheid. Hy kies ons sondige mense om deel te wees van Sy nuwe wêreld, “... Hy het ons geskik geag vir sy koninkryk ...” (2 Tess. 1:5b). Is dit nie wonderlike nuus vir ons as sondaars nie. Ons maak die cut. God dink so baie van ons dat Hy die hekke van die hemel oopstoot en nie kan wag dat ons arriveer nie. Sjoe, watter groot stuk gemoedsrus is dit nie vir ons elkeen wat in Sy Seun, Jesus Christus glo nie. Maak nie saak wat ons aangevang het nie. Maak nie saak van al daai dinge wat ons nié gedoen het nie. God het my en jou uitgekies om ’n medewerker te wees aan die bouwerk van die Liggaam van Christus en saam met Hom te leef!


Ek weet ons voel soms nie of ons sterk genoeg is nie. Soms is alles net vir ons te veel. Tog dink God ons is. Dalk dink ek en jy nie ons is goed genoeg vir God nie. Wel, God ag ons so hoog dat Hy dink ons is sterk genoeg en goed genoeg. Sommige dae is die druk so hoog dat ons bene onder ons wil invou. Dan moet ons vashou aan die wete dat God ons hoog ag, dat Hy dink ons is van die beste materiaal om in Sy koninkryk te dien. Ons het soveel waarde. Ons is waardevol … Wel, God dink so!


“Gewillige diens volgens jou vermoë, selfs in die geringste sake en deur die geringste mense, is vir God aanvaarbaar” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Vader, wie is ek dat U aan my dink? Wie is ek dat U my hoog genoeg ag? Wie is ek dat U my kan gebruik? Help my om nie verder te twyfel oor my waarde vir U nie. Help my deur die krag van u Gees om myself aan U diens te wy en so eer en heerlikheid aan u grote Naam bring. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page