top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 3 Augustus 2022

Koos Espach


Sewe diakens word gekies (2)


‘n Omgee hart vir behoeftiges


Hand. 6:2-4 – “Die twaalf apostels roep toe al die gelowiges bymekaar en sê vir hulle: ‘Dit is nie reg dat ons die verkondiging van die woord van God verwaarloos om die versorging te kan behartig nie. Nou, broers, soek sewe mans onder julle uit wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het, sodat ons hulle vir hierdie taak kan aanstel. Ons sal dan al ons aandag aan gebed en die bediening van die woord bly gee.”


Vergelyk ook Jak. 1:27 – “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.”


Die apostels het erken dat die klag van die Griekssprekendes gegrond was en besef dat daar sekere struktuur-veranderinge in die gemeente nodig is. Dinge, veral met die fenomenale uitbreiding van die gemeente, kon nie maar net op ‘n spontane manier gehanteer word nie. Dit was immers ‘n “beweging” wat ‘n mens nie kon afmaak as van verbygaande aard soos wat Gamaliël aan die Joodse Raad voorgehou het nie (5:35). Die apostels skram nie weg nie en belê dadelik ‘n gemeentevergadering om die probleem van versorging aan te spreek.


Die apostels het egter besef dat hulle nie alles alleen kan doen nie en hulp moet kry. Hierna moes hulle duidelikheid kry oor wat hul primêre taak is en watter deel van hul verpligtinge hulle aan iemand anders kan oorlaat. Die apostels deel die bediening in twee dele: Aan die een kant, “hulle wat hul aandag aan gebed en die bediening van die woord bly gee”, en aan die ander kant, die daaglikse versorging van die behoeftiges.


“Egte en suiwer godsdiens voor God ons Vader” word deur ons optrede waargeneem. Die omsien na behoeftiges en verdruktes is deel daarvan. Dit is om “weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan.” Ware godsdiens is rein en onbesmet want dit word deur God bepaal. God is die “Vader vir weeskinders en ‘n beskermer van die reg van weduwees” (Ps. 68:6). Daarom het die huisgesin van God, die kerk en almal wat deel daarvan is, ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar. Diens van barmhartigheid hou ons weg van wêreldgelykvormigheid. Pragtige kerkgeboue en fantastiese eredienste beteken niks as God se liefde nie na ons naaste uitgebrei word nie.


“Egte en suiwer godsdiens” beteken om onsself te verdiep in dit wat in die spieël waargeneem word. God se woord raak dan ons ore aan om die noodkrete van die “weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede,” te kan hoor. God se woord raak ons hande aan wat soms maar toe-erig kan wees om iets te dóén. God se woord raak ons harte aan om ons “skoon te hou van die besmetting van die wêreld” en van alle dinge wat ons van binne af besoedel. God se woord laat liefde vir ons naaste ‘n werklikheid word. Liefde vir ons naaste help ons om lief te bly vir God.


Binne die “Kerk van Franciskus” in die Italiaanse dorpie Assisi, is daar ‘n publikasie wat die volgende legende voorhou: “’n Engel het vir Franciskus besoek en vir hom gesê dat hy een wens wat waar sal word, kan neem. Hy het gewonder oor rykdom, roem, ‘n lang lewe, kennis en ander aardse dinge. Maar hy het uiteindelik besluit om elke dag goed te doen aan ander en dit só te doen, sonder dat hy self bewus sal word van wat hy doen. Hy kon nie wag om die engel sy wens mee te deel nie. Die engel het egter weggebly tot aan die einde van Franciskus se lewe. Franciskus wou by die engel weet waar hy al die jare was want hy wou sy wens vir die engel gee. Die engel het hom geantwoord: “Ek het geweet wat jou wens was en dit aan jou geskenk. Jou hele lewe was een groot daad van diens aan ander. Geseënd is jy tussen al die mense in hierdie wêreld.”


Wat is ons gelowiges in Christus, se beloning? Doen ek en jy godsdienstige dinge om God én mense te beïndruk, of om Hom te verheerlik? Ons Vader se liefde en genade is eindeloos want dit is nie materialisties nie, dit is gevul met ongelooflike seën. Die pad wat ons loop is nie altyd maklik nie, maar die satisfaksie wat daaruit verkry word omdat ons gehoorsaamheid aan Jesus openbaar, is vreugdevol. Die ewigheidsbeloning kan nie in geld bereken word nie, want God is ook daar. Hy deel Sy goedheid en krag uit aan elkeen wat saam met Hom dit waag en Hy voeg daagliks meer en meer by, sodat ons meer en meer diensbaar kan wees aan ander.


“Min dinge is so leeg soos ‘n godsdiens wat net uit godsdienstige gebare bestaan, sonder ‘n genadige gesindheid teenoor jou naaste” (Ferdinand Deist).


Gebed: Jesus Christus, vul my deur U Gees met die geloofsgewoonte om ‘n omgee hart vir minderbevoorregtes te hê, om U hande en voete te wees. Laat my lewe een van diens wees, ʼn lewe waarin ander mense se behoeftes vir my net so swaar weeg soos my eie, ʼn lewe waarin ek my hulpbronne, tyd, invloed, en vaardighede kan gebruik om vir ander te help. Om U Naam’s ontwil en tot U eer. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page