top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 29 Julie 2022

Koos Espach


Die vervolging van die apostels (7)


Die Gees lei ons tot vrymoedigheid


Hand. 5:40-42 – “Die Raad het na Gamaliël geluister. Hulle het die apostels ingeroep, hulle laat slaan en hulle belet om weer in die Naam van Jesus te praat. Daarna het hulle hulle losgelaat. Die apostels het van die Raad af weggegaan, bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly. En hulle het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.”


Gamaliël se logika om te wag en sien wat van die beweging gaan word wat onder Jesus van Nasaret begin het, het die Joodse Raad oortuig om nie die apostels dood te maak nie. Dit is egter duidelik dat Gamaliël en die Joodse Raad, steeds nie Jesus as die Seun van die lewende God erken nie, anders sou hulle in Jesus geglo het op grond van die verkondiging van die apostels.


Die Raad steur hulle steeds ook nie daaraan of hulle “teen God stry nie” (v. 39). Hulle bevel van vroeër aan die apostels om “nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie” (4:18), is nog geldig. Aangesien die apostels die bevel van die Joodse Raad verontagsaam het en voortgegaan het om in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer, moet hulle gestraf word. Terwyl hulle gegesel is en elkeen 39 houe toegedien is, was die Raad steeds in sitting. Daarna het die Raad hulle vroeëre bevel om nie meer in die Naam van Jesus te spreek nie, aan die apostels bevestig “en hulle losgelaat.” Die Joodse Raad hou dus vol om hulle gesag bo die gesag van die Here te stel.


Om in die openbaar geslaan te word, was destyds ‘n ontsettende groot vernedering. Die apostels het die vergadersaal egter verlaat, bly dat hulle waardig geag is om vir die Naam van Jesus oneer te ly – hulle verander die vernedering in eer – die ontering wat mense hulle aangedoen het, word as ’n verering deur God beskou – “... hulle loon is groot in die hemel” (Matt. 5:11b).


Die drag slae was weliswaar geen grap nie, maar die dreigemente het net mooi niks gehelp nie! Die apostels het met blydskap die Raad verlaat en het steeds nie “opgehou om die mense elke dag in die tempel te leer nie!” Erger nog: hulle doen dit nou ook van huis tot huis waar daar Christene bymekaargekom het. Die geheimhouding van die Raadsvergadering toe die apostels uitgestuur is (v. 34), word meteens die openbare verkondiging van die waarheid! Onderdrukking van God se evangelie deur die Raad word dus verander in die uitbreiding daarvan!


Die feit dat die apostels die Raad met blydskap verlaat het nadat hulle gegesel is, klink vir ons net nie logies nie. Logika sê vir my dat ‘n mens jou geloof en aanbidding van die Drie-eenheid, in sulke gevalle, net vir jouself moet hou. Indien niemand anders daarvan weet nie, kan hulle jou nie verneder deur jou rug pynlik oop te kloof of selfs dood te maak nie. Dis net logies om te dink dat daar nie elke keer ’n engel gaan opdaag wat ons saggies uit die tronk (of watter moeilikheid ook al) gaan uitlei nie. Maar God en geloof in Jesus Christus, het sy eie unieke logika wat anders werk as my en jou denke. Die apostels het Jesus Christus persoonlik geken as hulle Verlosser en Saligmaker. Hulle het nie net “van” Jesus en die Heilige Gees geweet en getuig nie, hulle het Jesus geken en was “vervul” met die Heilige Gees.


Nou die vraag: wat het ek en jy al opgeoffer ter wille van die Here? Het dit al iets meer gekos om op ‘n Sondagoggend en -aand kerk toe te gaan? Het ons dagboekmense geword wat nie gereeld Bybel lees nie? Retoriese vraag: Het jy vandag eers Bybel gelees voor jy hierdie dagstuk gelees het? Volgens Ds. Attie van Wijk is “Dagboeke melkkos wat deur iemand anders verteer word. Die studie van die Bybel is vir my en jou vaste kos – ons moet dit self herkou tot ons eie voordeel.”


Wat verhoed my en jou om getuies van Christus te wees en ons gehoorsaamheid aan God uit te stel? Is dit vrees? Is dit bekommernis oor die toekoms? Wonder ons wat die mense gaan dink of wag ons eers en kyk wat ander mense sê of doen? “Ons moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie ...” (2 Tim. 1:8) – Die Heilige Gees sal ons lei tot vrymoedigheid! Die fisiese ervaring wat ons deurmaak wanneer ons sleg gemaak of geïsoleer word omdat ons Christene is, of selfs vervolg word omdat ons getuies is van Jesus Christus, kan pynlik en beledigend raak, maar die geestesvrugte wat dit oplewer, is soet – “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God” (Heb. 12:11).


“Wanneer Christus in ons leef deur sy Gees, sal ons geseënde merke laat op die lewe van ons medemens, nie vanweë die skoonheid van ons karakter nie, maar vanweë Syne” (Anoniem).


Gebed: Here, praat deur my sodat mense die eggo’s van U stem sal hoor. Doen dit deur die genadige werking van die Heilige gees om U Naam’s ontwil. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page