top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 26 Julie 2022

Koos Espach


Die vervolging van die apostels (4)


Doelgerigte stroomop getuies


Hand. 5:29-33 – “Petrus en die ander apostels het geantwoord: ‘’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!” Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.’ Toe die Raad dit hoor, was hulle woedend, en hulle wou die apostels doodmaak.”


Petrus het nie geswig onder die geweldige druk wat die Raad op hom en sy mede-apostels geplaas het nie. Alhoewel hy maar ‘n doodgewone visserman was, kyk hy die volk se leierskorps vierkantig in die oë en verduidelik dat “hulle eerder gehoorsaam aan God as aan mense moet wees.” Hulle gehoorsaamheid bestaan daarin dat hulle die Raad se bevel van stilswye moes ignoreer, en van Jesus móét getuig, dieselfde Jesus waarmee die Sadduseërs moeite het. Hy stel dit duidelik dat God Jesus uit die dood opgewek het en wat hulle nie glo nie. En sodat daar geen misverstand is nie, stel hy dit is die God van hulle voorvaders – dieselfde God wat Homself aan Abraham, Isak en Jakob geopenbaar het. Daarmee saam gryp Petrus die geleentheid aan om die evangelie aan die Raad te verkondig.


Hy plaas weer die skuld vir die kruisiging van Jesus vierkantig op die Raad se skouers en herhaal dat “Jesus inderdaad die Leidsman en Verlosser is wat nou aan die regterhand van God is sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe.” Die Joodse leiers se harte blyk in hierdie stadium so verhard te wees dat hulle alleenlik die beskuldiging hoor en nie die genade van die oproep tot bekering nie. Boonop blyk dit asof die Joodse leiers ietwat aan geheueverlies ly. ‘n Paar weke vantevore het dieselfde leiers, tydens die verhoor van Jesus voor Pilatus, vir Pilatus gesê: “Laat die skuld vir (Jesus) se bloed op ons en ons kinders rus!” (Matt. 27:25). Dit is deur die volk uitgeroep nadat die owerstes en ouderlinge die volk oorgehaal het om Barabbas bo Jesus vry te laat (Matt 27:20). En nou maak hulle of hulle onskuldig is.


Petrus verduidelik dat hulle van hierdie dinge getuies is. Hulle weet dat Jesus leef, want hulle het Hom self gesien en gehoor ná Sy opstanding. Die krag van sy en die apostels se getuienis, kom nie uit hulself nie, maar deur die Heilige Gees wat deur hulle werk. Dit is immers die Heilige Gees wat die apostels “leer en hulle herinner aan alles wat Jesus vir hulle gedoen en gesê het” (Joh. 14:26). Dit is ook die Heilige Gees wat “op grond van Jesus se opstanding uit die dood, Hom aangewys het as die Seun van God wat met mag beklee is” (Rom. 1:4). As geroepe getuies (Hand. 1:8), moet die apostels getuig en hulle nie die swye laat oplê deur enige maatreël wat die Joodse Raad mag tref nie. Die Raad het klaarblyklik besef dat die apostels nie voor hulle dreigemente sou swig nie en was woedend, soveel so dat hulle die apostels sommer daar en dan wou laat doodmaak. Maar dit was nie binne die raadsplan van God so beskik nie.


Die evangelie is die blye tyding van die verlossing uit genade. Dit heet die evangelie van God, omdat dit van God uitgaan wat die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy enigste Seun daarvoor gegee het (Joh. 3:16). Jesus het aarde toe gekom en kom word wat Hy nooit was nie, maar Hy het gebly wat Hy is. Hy het volkome mens kom word wat Hy nooit was nie, maar volkome God gebly wat Hy is, nie half-God en half-mens nie! Deur sy geboorte as mens het Christus deel gekry aan die swak, verganklike en sterflike bestaan van die mens. Deur Sy opstanding uit die dood openbaar Christus dat Hy die Seun van God is wat met mag beklee is, die mag wat oor die dood triomfeer.


Deur Jesus se opstanding kan ons ook triomfeer, triomfeer oor versoekings; triomferende hoop in ons harte het dat die lewe sterker is as die dood; vreugde ervaar in plaas van droefheid; vrede ervaar in plaas van verwarring. Dit alles ontvang ons as God se geskenk, Sy genadegawe deur Sy triomferende Seun, Christus Jesus en “die Heilige Gees wat bedoel is vir elkeen wat aan God gehoorsaam is!” Alles begin by gehoorsaamheid. Die Here wil ons stuur en gebruik om te getuig – elkeen op ‘n ander manier, al beteken dit dat ek en jy soms stroomop moet swem vir ons geloof soos Petrus en die apostels. Die belangrikste van alles is egter om “eerder aan God gehoorsaam te wees as aan mense.” kan ons onverskrokke aan God vashou en bly volhard op die regte pad.


“Ná twee duisend jaar tel Christus Jesus nog steeds meer in die menslike lewe as enige ander mens wat nog ooit geleef het” (Dean Inge).


Gebed: Here, vul my lewe met U opstandingskrag en laat in my vrugte groei wat U daar wil sien. Dit is slegs U wat my tot oorwinning kan lei, triomferende oorwinning in geestelike groei. “O Heilige Gees, my Heer, wat my in waarheid leer, vernuwe my gemoed deur U genade. Laat my ‘n getuie wees, ek wil vertel van al U wonderdade” (Liedboek 441:1). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page