top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 25 Julie 2022

Koos Espach


Die vervolging van die apostels (3)


Kies na wie ons wil luister


Hand. 5:25-nn – “Net toe kom daar iemand en sê vir hulle: ‘Weet julle, die mans vir wie julle in die tronk gesit het, staan daar in die tempel en leer die volk!’ Toe het die bevelvoerder en die wagte die apostels gaan haal, maar sonder geweld, omdat hulle bang was die volk steek hulle onder die klippe. Hulle het hulle voor die Raad gebring en die hoëpriester sê toe vir hulle: ‘Het ons julle nie uitdruklik belet om die mense in hierdie Naam te leer nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir hierdie man se dood.’ Petrus en die ander apostels het geantwoord: ‘’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!”


Terwyl die bevelvoerder van die tempelwag en die owerpriesters nog verbaas wonder wat van die apostels geword het, kom iemand met die nuus dat die manne wat hulle, die Raad, in die tronk gestop het, in die tempel staan en die volk leer – die apostels was m.a.w. besig om die opdrag wat hulle van die engel ontvang het om “in die tempel te gaan staan en aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe lewe te verkondig” (v. 20), uit te te voer. In teenstelling en diepe verleentheid, het die hoëpriester en Sadduseërs geen raad gehad met die situasie nie. Hulle het alles wat hulle tot hul beskikking het – hulle eie gesag as Joodse Raad sowel as die Romeinse owerheid se mag – die apostels in die openbare gevangenis toegesluit. Hulle het werklik, volgens hulle, alles in hul vermoë gedoen om ʼn einde te bring aan die verspreiding van die evangelie deur die apostels.


Die bevelvoerder van die tempelwag en sy wagte het die apostels in die tempel gaan haal, maar sonder dwang of geweld aangesien hulle bang was dat die volk hulle sou stenig. Baie van die mense wat op hierdie oggend by die tempel was, het seker gesien of weet dat die apostels die vorige dag deur die tempelwag in hegtenis geneem is en dat hulle in die openbare gevangenis toegesluit was. Dit mag wees dat die leiers se verleentheid groter geword het, want hier het nou weer iets wonderbaarliks gebeur – die apostels is uit die gevangenis sonder dat enigiemand daarvan bewus geraak het. Selfs die volk begin ook die wonders en tekens as normaal beskou wanneer dit kom by Jesus en Sy apostels.


Die hoëpriester verraai wat in sy hart aangaan. Sonder om te vra hoe die apostels bevry is of om Jesus by die Naam te noem, wil hy weet waarom hulle die bevel van die Joodse Raad “om die mense in hierdie Naam te leer,” verontagsaam het en nogal oor die hele Jerusalem ook te versprei. Hy gaan verder deur weer Jesus se Naam te vermy en sê dat die apostels boonop die bloed van “hierdie man” oor die Joodse Raad wil bring. Petrus en die apostels se verweer bly egter dieselfde: “’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!”


Jesus is die Alfa en Omega van Christenskap. Hy is die Bron van alle lewe en die Fondament van elkeen wat Sy woorde aanneem en daarvolgens handel. Ons kan nie Jesus kies as ons nie Sy woorde ook kies nie. Om godsdienstig te wees sonder ‘n lewende verhouding met Jesus, beteken om kerk-kerk te speel. Jesus se mense volg graag Sy voorbeeld. Hulle leer om aan God “gehoorsaam te wees” en dinge te sê – soos Petrus en die apostels destyds – wat Jesus se hart bly maak. Boonop werk die Heilige Gees ook met ons. Hy verander ons al hoe meer na die beeld van God. Daarom dat ons Christene so anders is.


Dit is maklik om Jesus se mense dadelik uit te ken, nie aan ons kleredrag of vroom woorde nie, maar aan ons lojaliteit aan Christus. Ons kies gehoorsaamheid aan God bo gewildheid in die wêreld – “eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!” Ja, dis nie altyd maklik om só te leef en deur dik en dun by ons geloofsoortuigings te staan nie. Maar, gelukkig het Jesus ons nie as weeskinders agtergelaat toe Hy opgevaar het hemel toe nie. Hy het vir ons die Heilige Gees gestuur sodat ons deur Sy krag kan besef dat ons afhanklik is van God. Die Gees vul ons met hoop, lei en bemagtig ons om moeilike dae die hoof te bied, om volgens die plan van Jesus se onderrig te lewe. Om eerder aan God gehoorsaam te wees, is moeilik om heelpad te slaag, maar ons kan immers probeer om op die regte pad te bly. Wanneer ons egter uitsak of val, weet ons “die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly (ons) nie lê nie, want die Here help (ons) op” (Ps. 37:23-24).


“God het ons nie lief omdat ons groot waarde het nie; ons het groot waarde omdat God ons liefhet”

(Martin Luther).


Gebed: Here, ja, ek rig en bou my lewe nie altyd volgens U spesifikasies en soos U versoek nie. Daar is selfs tye wat ek dikwels nie na U soek nie, maar dankie Here dat U vasberade bly om na my te soek. Gee dat ek steeds altyd, onverskrokke sal bely dat ek in U glo, al kos dit wat. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page