top of page

Gedagte vir Vandag

25 Desember 2020

Koos Espach


DIE GEBOORTE VAN JESUS CHRISTUS

(Luk. 2:1-7)


GEEN PLEK NIE, MAAR GOD WAS DAAR!



Matt. 2:1 – “Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodus.”


Vergelyk ook Luk. 2:7 – “Maria het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.”


Matteus kondig kort en bondig die geboorte van Jesus aan, amper asof dit sommer maar so terloops gebeur het. Inteendeel, met hierdie nugtere aankondiging, het een van die grootste gebeurtenisse in die heilsgeskiedenis van die mens plaasgevind. Matteus kom bied dit aan as die Woord van God, dit was deel van God se raadsbesluit dat Jesus in Betlehem gebore moes word, ter wille van ons!


Lukas wil sy lesers oproep tot geloof met die feit dat God sy verlossingsplan vir die mensdom in Jesus bekend stel, dat Jesus die unieke Seun van God is! Daarom is dit vir hom nodig om ’n aanduiding te gee van die tyd in die geskiedenis toe Jesus gebore is. Dit was in die jaar toe keiser Augustus die eerste sensus laat opneem het in sy ryk, en toe Sirenius goewerneur van Sirië was. Hierdie wêreldheerser en vredevors het in daardie hoedanigheid toesig gehou oor die regering van Herodes die Grote, terselfdertyd was hy ’n werktuig in die hand van God. Deur sy bevel moes Josef en Maria na Betlehem gaan sodat die “Seun van Dawid” in die stad van Dawid gebore sou word.


Die doel van die inskrywing of sensus was nie net ’n volkstelling nie, maar ook om ’n opgawe te kry van die volksvermoë vir militêre en belastingsdoeleindes. Vir administratiewe doeleindes moes “elkeen na sy eie stad toe” (Luk. 2:3b) gaan, dit wil sê na die plek waar sy familie oorspronklik gevestig was en nog sekere besitregte gehad het. Vir Josef het dit beteken dat hy die lang reis van Nasaret na Betlehem (112km) moes onderneem aangesien hy uit die stam van Dawid was. Maria, wat in die laaste periode van haar swangerskap was, was verplig om Josef te vergesel. (Dit was seker ‘n verskriklike moeilike rit vir Maria, 112km op ‘n donkie se rug terwyl sy op haar laaste periode van haar swangerskap was.)


Die verblyf in Betlehem sou net tydelik wees, maar in daardie dae “het die tyd gekom dat Maria haar kind” (Luk. 2:6) in die wêreld moes bring. “In die herberg was daar vir hulle geen plek nie (2:7b) en die enigste onderdak was in ’n stal. Daaronder is te verstaan die eenvertrekhuisie van die armes, waar die gesin eenkant tuis is en die diere in die anderkant. In hierdie armoedige omgewing, en sonder huislike geriewe, word “haar Eerstelingseun” gebore.


Soos enige ander kindjie is Hy hulpeloos en geheel van sy moeder afhanklik. Ook Hy moet “in doeke toegedraai” word. Dan word Hy in die “krip neergelê omdat” daar geen wieg vir Hom gereed staan nie. Sonder enige emosie of sentimentaliteit vertel Lukas die nugtere besonderhede. Daar in die stal was geen hemelse glans of engelesang nie. Daar was net ’n jong moeder met haar eerste Kindjie, en moontlik met vrae in die hart. Haar Kind sou tog die “Seun van God” (Luk. 1:35) wees. Sagaria het na Hom verwys as “die môreson wat sal opgaan … om lig te bring aan dié wat in duisternis lewe” (Luk. 1:78ev), maar nou is Hy in ’n onverligte stal gebore, en toegedraai in ’n paar doeke lê Hy in die krip. Die vrae was stellig daar, by Maria en by Josef. Maar hulle het tot dusver in die geloof die belofte van God aanvaar; hulle was bereid om Hom nog verder te vertrou.


Die akkomodasie kon beter gewees het, maar dit was deel van God se plan dat Jesus nederig en sonder trompetgeskal na ons stukkende aarde toe kom; dat Hy in eenvoudige bak waaruit diere eet, neergelê moes word. Hierdie Krip-Kindjie het die stukkende wêreldgeskiedenis kom verander en gedraai in die rigting van God se lewende, onverdiende genade in aksie! Vanuit daardie stal van 2 000 jaar gelede, en vanuit daardie eenvoudige kripbak, klop God se liefde sigbaar, word die misterie van God se liefde ‘n werklikheid deur Jesus Christus se geboorte.


Die Christuskind is die hart van Kersfees. Kersfees is die tyd van die jaar wanneer ons gelowiges die geboorte van Jesus vier, dit is egter nodig dat ons hierdie eenvoudige maar oorweldigende geboorte elke dag vier, elke dag sorg dat Christus in ons harte “hergebore” word, dat elke dag ‘n Christusfees is. Te midde van die wêreld se feestelikheid en gejaagdheid en materialisme, gaan Christus se geboorte dikwels verlore. As jy nog nie die geboorte van Christus in jou lewe ervaar het nie, sal jy nooit die liefde van God en Sy vrede ken nie! Jesus ís “die môreson wat sal opgaan … om lig te bring aan dié wat in duisternis lewe.” In élke skynbaar hooplose situasie bring Hy die glans van hoop, in die donkerste oomblikke van die lewe verdryf Hy die duisternis. As jy elke dag ‘n ware Christusfees wil beleef, moet jy toelaat dat die Heilige Gees, Christus in die sentrum van jou lewe plaas.


“Al is Christus duisend maal in Betlehem gebore, maar nog nie in jou lewe nie, is dit ‘n nuttelose gebeurtenis waarvan die doel in jou lewe klaaglik misluk het” (Martin Luther).


Gebed: Ek dank U hemelse Kind van Betlehem, dat U in my lewe gebore is, dat ek die Heilige Gees deelagtig geword het en optimisties, nie bekommerd te wees oor wat van ons wêreld geword het nie, maar eerder met vreugde kan weet Wié in ons wêreld ingekom het. Dankie Vader dat U daardie dag in Betlehem, U grootste Geskenk aan ons gegee het, ‘n hemelse Geskenk wat hééltemal te veel is sodat ons dit nie kan opgebruik nie! Gees van God, staan ons by dat ons elke dag ‘n Christusfees kan vier, met Christusharte dit omgee-tyd maak, trane-afdroog-tyd maak, dit self-gee tyd maak. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page