Gedagte vir Vandag

Woensdag, 6 Julie 2022

Koos Espach


Onderlinge mededeelsaamheid (2)


Die boodskap dat Jesus uit die dood opgestaan het, laat ‘n gemeente vir mekaar omgee


Hand. 4:36-37 – “Josef ‘n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat – het ook die grond wat hy gehad het, verkoop en die geld gebring en dit vir die apostels gegee.”


Die gelowiges van die eerste gemeente in Jerusalem, was bereid om hulle besittings en vermoë tot beskikking van ander gelowiges te stel. Dit beteken nie daar was gemeenskap van goedere nie, hulle het, wanneer daar ‘n behoefte ontstaan, van hulle besittings verkoop en die geld vir die apostels gegee wat dit uitgedeel het waar daar behoefte was. Die Jerusalemgemeente was vol van God se liefde vir mekaar, ‘n onbaatsugtige liefde wat mens dring om met mekaar te deel, ‘n liefde van Christus wat jou hand in jou sak laat steek om ander te help wat swaarkry.


Lukas gaan dan verder om een van die gemeentelede uit te sonder sodat ons die konteks van die onderlinge mededeelsaamheid van die gemeente kan sien. Dit help ons ook om te verstaan hoe dit inpas in die groter vertelling van Lukas oor die uitbreiding van die evangelie tot in Antiogië.


“Josef, oftewel Barnabas soos hy deur die apostels genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat – was ’n Leviet wat op die eiland Siprus gebore is.” Die Leviete mag volgens die wet geen grond besit het nie, omdat die Here self hulle deel was, (Num. 18:20 en 24); Hulle het geleef van “die tiendes wat die Israeliete as offergawe aan die Here bring.” Barnabas se verkoop van sy grond het dus besondere betekenis gehad: daarmee sou hy nie alleen in die behoeftes van minderbevoorregte medegelowiges kon voorsien nie, maar het hy ook getoon dat die hoop van Israel vir hom in Christus vervul is.


Die boodskap dat Jesus uit die dood opgestaan het, laat ‘n gemeente se lidmate vir mekaar omgee. Wanneer Jesus in mense lewe, gebeur daar wonderlike dinge, ‘n gemeente kom in beweging; Jesus se opstanding laat ‘n gemeente anders na mekaar kyk. Die verbondenheid aan Jesus – die opgestane Heer – laat ‘n gemeente verbonde raak aan mekaar, veral aan die armes en behoeftiges in die gemeente.


Die aard van ‘n gemeente word soms die beste uitgedruk deur die verhale wat oor hulle vertel word. Wat is die verhale wat oor ons en julle gemeente vertel word? Hoe lyk dinge in hierdie gemeentes? Gaan kerkwees in ons gemeentes oor die opgestane Jesus waar Hy gedien word met oorgawe en medegelowiges op mekaar se hande gedra word? Sê ons nie dalk dat tye vanaf hierdie eerste gemeente tot nou verander het en die ekonomie en leefwyse sedertdien verander het nie? Dinge lyk vandag baie anders as toe! Maar dalk moet ons die Here op Sy woord neem en Hom veel meer vertrou met ons geld en besittings en prioriteite. Ons lees juis in vers 33: “En die genade van God was groot oor hulle almal.”


Ek en jy word geroep om te behoort, en nie net om te glo in Jesus Christus nie. “Ons is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God” (Ef. 2:19). My en jou verhouding met God is miskien persoonlik, maar God wil nie hê dit moet privaat wees nie. In God se familie is ons met elke ander gelowige verbind. Die Bybel sê ons is saam, saamgevoeg (1 Kor. 12:12); saam opgebou (Ef. 2:22), saam lede (Ef. 3:6); saam ‘n eenheid (Ef. 4:16); groei saam (Kol. 2:19); saam erfgename, saam gepas, saam gehou, en sal saam ontvang word (1 Tess. 4:17). Ons is nie meer alleen nie, ons is lede van Christus se liggaam – die kerk – die kerk wat ‘n liggaam is, nie ‘n gebou nie!


Ek en jy het meer as net die Bybel nodig om geestelik te groei. Ons het ander gelowiges ook nodig. Rick Warren sê in sy bekende boek, “Die Doelgerigte Lewe: Ons groei vinniger en sterker deur van mekaar te leer en teenoor mekaar liefde te bewys.” Ons het reeds gesê die woord mekaar word meer as vyftig maal in die Nuwe Testament gebruik. Ons word beveel om mekaar lief te hê, mekaar aan te moedig, mekaar te betig, mekaar te groet, mekaar te dien, mekaar te onderrig, mekaar te aanvaar, mekaar te eer, mekaar se laste te dra, mekaar te vergewe, aan mekaar oor te gee en aan mekaar geheg te wees. Is dit nie miskien die verpligtinge wat ek en jy as deel van God se familie in ons gemeenskap moet nakom nie? Met wie doen ons al hierdie dinge?


“Doen soveel goed jy kan. Op soveel maniere as wat jy kan. Op soveel plekke as wat jy kan. Aan soveel mense soos jy kan. So dikwels as wat jy kan. En so lank as wat jy moontlik kan” (John Wesley).


Gebed: Here, gee my tog tyd om na ‘n eensame te luister. Help my om empatie te betoon, te bemoedig en op te bou. Help my om U hande en voete te wees hier op aarde, om met deernis en ware nederigheid vir U te verheerlik deur diens aan ander. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon