Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 5 Julie 2022

Koos Espach


Onderlinge mededeelsaamheid (1)


‘n Ideale gemeenskap


Hand. 4:32-35 – “Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.”


Lukas verskuif die beklemtoning van sy verhaal vir die tweede keer na die lewenstyl van hierdie merkwaardige gemeente. Die uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster net ná Jesus se hemelvaart het ’n ongelooflike impak gemaak op die lewens van die eerste gelowiges. Nie net het hulle ’n besondere geestelike ervaring van God se nabyheid gehad nie (2:1-4), hulle het ook die ontploffing van geloof meegemaak. Die vrymoedigheid waarmee die apostels getuig, het tot gevolg gehad dat meer en meer mense by die getal van die gelowiges gevoeg is. Nie alleen in die begin van die bestaan van die gemeente nie, maar hoe dit in die gemeente gebly het, ondanks die teenstand van die owerheid. Almal wat daar was se lewens is deur die Heilige Gees verander. Niks kon ooit weer dieselfde wees nie.


Groot nadruk word gelê op die eensgesindheid wat daar in die gemeente geheers het. Hulle “was een van hart en siel,” en was bereid om hulle besittings en vermoë tot beskikking van ander gelowiges te stel. Dit beteken nie hulle het alles verkoop en al die geld bymekaargesit en vir die apostels gegee nie. Hulle het na gelang van die behoeftes dit verkoop wat nodig was en die geld vir die apostels gegee wat dit uitgedeel het volgens elkeen se behoefte. Hier vind wel gebruiksgemeenskap van goedere plaas, maar geen gemeenskap van eiendom nie. Lukas wou alleen sê dat die meer vermoënde Christene hulle besittings nie net as hulle eie beskou het of uitsluitlik vir hulleself aangewend het nie, maar ook met opregte liefde omgesien het na die behoeftes van die behoeftige medegelowiges.


In die Jerusalemkerk was mense eensgesind. Hulle het nie net in vrymoedigheid gegroei na buite toe nie, maar ook in vrygewigheid na binne toe. Hulle het die bande van vrees vir teenstand van buite afgegooi, maar ook die vreesagtigheid rondom hulle besittings en die behoud daarvan. ’n Groter passie het hulle beetgepak as die passie om oorlewing en sekuriteit. Terwyl die apostels se passie was om die Naam van Jesus oral te verkondig en dat Hy die dood gewen het, was die gelowiges se hande oop vir mekaar en heling te bring vir mense, alle mense.


Hulle deel met mekaar. ‘n Kerk wat op Christus se pad loop, kan nie anders as om vir mekaar om te gee nie. Dit het die grondreël van die Christelike gemeenskap vasgelê dat Christene nooit hulle medemense aan hulle lot oorlaat nie. Ons loop immers agter die Een aan wat Sy álles vir ons kom weggee het. Ons word natuurlik nie verplig om alles weg te gee nie. Dit was nooit die Here se bedoeling nie. Daar is egter dinge wat ons kan deel – ons harte, ons hande en beursies behoort vir ander oop te wees. Wanneer ons harte oop is vir ander met hulle hartseer en lyding, sal God se lig skyn in hierdie donker wêreld van selfsug en gejaag na besittings.


Gemeenskaplikheid beteken dat ons gee en neem. Ons bou gemeenskaplike verhoudings, deel verantwoordelikhede en help mekaar. Ons word in die Nuwe Testament meer as vyftig maal beveel om vir mekaar dinge te doen, “sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra” (1 Kor. 12:25). As lede van Christus se Liggaam is ek en jy nie vir almal in sy Liggaam verantwoordelik nie , maar teenoor hulle verantwoordelik. God verwag van my en jou om alles moontlik te doen om ander in nood te help. Ons het mekaar in tye van die diepste krisis nodig. Wanneer omstandighede ons afdruk tot op die bodem van moedeloosheid, het ons mekaar nodig om ons deur die drif te trek. Dan is Christus se Liggaam werklik en tasbaar – “Wie medelye met ‘n vriend beskou as ‘n las, het die eerbied vir die Almagtige verwerp” (Job 6:14). Waar bevind ek en jy ons in ware gemeenskap van gelowiges?


“Slegs wanneer mens jou hele lewe aan die Here wy, kom jou beursie ook tot bekering”

(Prof. Stephan Joubert).


Gebed: Here, ek is eerlik wanneer ek vir U sê dat ek nie altyd weet wat om met mense te doen wat in die diep en donker slote van die wêreld lê nie. Ek weet nie altyd regtig wat U van my verwag in sulke situasies nie. Help my om dan nie doelloos rond te drentel en tyd te mors nie, maar om tyd te maak en by U te gaan sit en raad te vra. Help my om te begin waar U graag deur my wil werk. Help my om oor te gaan in aksie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon