top of page

Gedagte vir Vandag

30 Nov 2020

Koos Espach


GELIEWE DAAROP TE LET DAT ONS VANDAG DIE VERSENDING VAN DIE DAGSTUKKE STAAK VIR DIE FEESGETY. DIE VOLGENDE VERSENDING SAL DV 4 JANUARIE 2021 WEES. DAARMEE HET ONS AAN DIE EINDE VAN ONS REIS VAN 2020 GEKOM. ONTHOU EGTER, ONS IS NOOIT MET DIE LEWENDE GOD VAN DIE BYBEL KLAAR NIE, OMDAT DIE LEWENDE GOD VAN DIE BYBEL NOOIT KLAAR IS MET ONS NIE. GENIET JULLE VAKANSIE, DRA JULLE MASKERS EN REIS VEILIG! JESUSVREDE, -LIEFDE EN -VREUGDE.


DIE LAASTE VAN 2020 – MEKAAR!

Efesiërs 1:2 – “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!”

Die einde van 2020 is om die draai! Vir sommige mense was dit ’n lang en moeilike jaar. Vir ander dalk nie so lank en ongemaklik nie. As ek so terugkyk oor die jaar wat verby is, was die pad by tye afdraend, maar meer gereeld, erg hobbelrig. Daar was ’n paar krisisse en ’n paar uitdagings en COVID-19 het dit nie makliker gemaak nie. Niemand het geweet presies hoe die wêreld gaan lyk nie. Al wat ons nou met sekerheid kan sê, is dat dit heel anders lyk as waaraan ons gewoond is. Dit veroorsaak angs by baie mense.


Dalk het jy ook soms gebukkend onder die druk gespartel. Dalk spartel jy op die oomblik onder baie swaar, amper soos wat ’n groot gedeelte van ons land met die droogte ook nog, sukkel. Die vrae se antwoorde bly soek. Of so lyk dit, totdat jy êrens iets hoor of lees wat sin kom gee, soos die artikel van Fanus Hansen in Maroela Media ’n groot genoeg pleister kom plak het:


Vrede vir my gemoed wou nie kom nie. Ek het soekend by die kombuistafel loop sit. Ma het koffie gebring.


“Wat jaag jou?” het sy gevra.


“Hierdie droogte! Ek weet nie wat die Here vir mý wil sê nie. Ek wil nie meer hoor wat iemand anders dink nie, ek wil nooit weer hoor wat hy dink God vir my wil sê nie, ek wil nou self hoor!”


“Is jy seker dat Hy vir jou iets wil sê, vir jou iets móét sê?” is haar teenvraag.


“Wat dan anders?”


“Dalk wil God deur ons droogte vir iemand anders iets sê.”


“Vir wie wat sê?”


“Dalk vir die mense wat die bederfpakkies kom aflaai het. Vir hulle wat vir ons voer skenk. Vir al die kinders wat vir ons bid. Dalk wil God hulle leer van gee, leer van bid, leer van help en leer van omgee. Dalk is óns droogte nie nét óns droogte nie. Dalk is óns droogte Suid-Afrika se droogte. Dalk maak God ons gereed vir meer. Vir meer gee, meer omgee, meer dankbaarheid, meer ‘dankie Here’ vir dit wat ek het. Dalk maak God ons gereed vir bid vir mense wie se name ek nie ken nie, vir nuwe vriendskappe, vir ’n nuwe penmaat wat haar naam en telefoonnommer en adres in my bederfpakkie gelos het. Ek bid nou vir haar en sy vir my. Ek en jy bid elke aand dat God ons sal seën … dié week het die seën na my toe gekom met die teerpad!”


“Ek weet ons kort reën, maar dié week het ek besef ons kort meer as reën. Ons kort mekaar!”


Elkeen van ons kort. Ons kort mekaar en ons kort vir God. Kom ons wees hierdie feestyd, en ook in die toekoms, daar vir mekaar. Te midde van die swaar en die lekker – kom ons hang aan mekaar, maar méér nog, kom ons hang aan God. Want dit is Hy wat ons krag gee om voort te beur, staande te bly en op ’n manier deur die swaar daar vir mekaar te wees.


Ek en jy het soveel genade en vrede nodig, want dis asof die wêreld daar buite alles by ons kom steel. Hier diep binne-in ons het die vrede en vreugde plek-plek weggeraak en seer het hom lekker kom tuismaak. Daar is nie ’n pleister wat ’n mens kan plak om dit te genees nie. Dis net God wat daardie seerplek kan gesond maak. Ons het elke oomblik van die dag God se guns in ons lewe nodig. Ek dink nie ons besef regtig hoe nodig ons vir God, Jesus en die Heilige Gees het om deur die lewe te gaan nie. Die lewe is die heeltyd vol uitdagings. Daar kom gereeld ’n curve ball uit een of ander hoek van die lewe en baie keer is ons te stadig om te koes.


Dit is slegs God wat ons kan help op die pad van herstel en dit alles is net genade. Iets wat ons nie verdien nie. Iets wat ons nie kan koop nie. En tog kan ons nie sonder dit nie. Ook nie die mense om ons nie. Daarom moet ons hierdie gebed van Paulus: “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus”, vir mekaar bid. Ons weet dat ons Vader ons nog nooit in die steek gelaat het nie. Hy sal dit ook nie nou doen nie. Dis tyd om ons geloof in aksie te sit. Ons moet doen wat die Woord sê en vashou aan ons Rots.


Liewe vriende, kom ons word stil en bid in hierdie feestyd vir elkeen in ons land en in die wêreld, want niemand word onaangeraak deur een of ander probleem, veral die droogte en hierdie COVID-19 situasie nie. Dink bietjie daaroor: Oor wie moet jy die gebed bid? Wanneer moet jy dit doen? Wanneer laas het jy dit gedoen?


“Die Heilige Gees deel eers liefde mee; dan inspireer Hy hoop; dan gee Hy vryheid” (Dwight L Moody).


Gebed: Ons smeek U Here dat U tog die krane van die genadetenke sal oopdraai. Skenk ons U vrede. Kom maak orals in ons lewens U woonplek en roei hierdie onvrede in ons land en in die wêreld uit. Ons bid vir elkeen wat hier lees en jou geliefdes ’n wonderlike feestyd toe waar God se genade oor julle sal reën. Ons bid dat Jesus se liefde sal vloei tussen mekaar en dat die Heilige Gees julle aan mekaar sal vasbind. Ons bid dat God by jou sal wees en jou sal veilig hou. Mag jy Sy arms om jou voel sodat enige vrees of angs sal plek maak vir Sy genade en vrede. Amen.


Geseënde Feestyd.


Koos en Renette Espach namens die Leraarspare en Kerkraad van NG Fochville-Noord Gemeente.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page