Gedagte vir Vandag

Woensdag, 29 Junie 2022

Koos Espach


Die gebed van die gelowiges (6)


Die Heilige Gees en twee bruin skoentjies


Hand. 4:31 – “Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul ...”


Vergelyk ook 2 Tim. 1:7 – “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde ...”


Ons het gister in ‘n neutedop probeer verduidelik wat dit beteken om gevul te wees met die Heilige Gees. Ons ken en aanbid Hom. Ons sing en praat oor Hom. Maar wie is Hy? En wat doen Hy presies? Wat leer die Bybel ons oor die Persoon en die werk van die Heilige Gees? Jesus leer ons in Johannes 14 en 16 toe Hy sy aardse werk voltooi en Sy dissipels verlaat het, Hy vir ons die Gees in Sy plek na ons toe gestuur het. Jesus gebruik dan ook die Griekse woord “Parakleet” as Hy na die Gees verwys. Dit kan op verskillende maniere vertaal word as Advokaat, Trooster, Voorspraak, Tussenganger, Pleitbesorger, Helper en Weldoener. Die Gees kom in al hierdie hoedanighede na ons as God se familie toe, kom woon by ons en lei ons in die volle waarheid (Joh. 14:26). Hy kom om Jesus tussen ons te verheerlik (Joh. 16:14) en om die wêreld van reg en verkeerd te oortuig (Joh. 14:17).


Die meeste van ons sukkel soms om staande te bly, het eenvoudig net nie genoeg antwoorde op al ons vrae nie en voel of die lewe te veel en ons kragte te min is. Dan is dit tyd om versterking in te kry – “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag ...” Hy maak ons sterk om regop te stap, al kry ons swaar. Ds. Gerjo Ben stuur hierdie aangrypende laaste brief van Hannetjie (skuilnaam), aan haar seun vir my. Ek deel ‘n verkorte weergawe graag:


“As ek nog net een keer met jou kon praat, sou ek nog een keer wou sê hoe lief ek jou het en dat ek altyd met trots aan jou dink. Dat die trots my hart wil laat bars oor die ongelooflike vordering met jou spraak. Die beroerte twee jaar gelede was baie sleg. Ek is so jammer dat ons nie nog meer kon doen om jou beter te kry nie. Ek het al baie gewonder wat het daardie nag gebeur. Ek is so jammer dat jy nie kon praat nie, nie kon sê wat jy wou nie. Ek is so jammer dat jou huwelik nie hierdie groot toets kon deurstaan nie, dat sy jou gelos het toe jy haar so baie nodig gehad het, dat jou besigheid ook nie bestand teen beroerte was nie, maar dit was alles niks in vergelyking met die ongeluk en jou dood nie.


Toe die foon lui en ek dink dis jy, antwoord ek: ‘Hallo seun.’ Maar dis iemand van die polisie en sy sê dat jy in ’n botsing was. Ek vra hoe dit met jou gaan. Sy sê dis ernstig, ek moet kom. Terwyl ons ry, bid ek woordeloos. My hele wese skree: ‘Praat met my,’ maar praat is stil. Kommer en angs knaag aan my. Dan sien ons die ligte, die verkeersknoop en weet ons ... Seker so 100 meter verder sien ek jou bakkie dwars oor die pad met silwer foelie bo-oor. Toe, my liewe kind, weet ek. Hulle keer my voor en lei my terug. Ek moet wag totdat hulle klaar is met meet en foto’s en weet nie wat nog nie. Na wat soos ’n ewigheid voel, sê iemand dat dit vir ons ’n troos moet wees - jy was opslag oorlede. Bevestiging.


My kop klop, my hart ruk, ek is naar. Ek praat met ouma, jou sussies en die Dominee. Vra vir ouma om vir my boeties te sê. Toe eers begin werkers om jou uit die voertuig te sny. Nadat jy op ’n draagbaar gelaai is, word ek toegelaat om jou te sien. Net jou koppie word vir my gewys. Onder die kombers steek jou twee bruin leerskoentjies uit. My hand het na my mond gegaan. Ek het gebuk, my regterhand uitgesteek om aan jou te raak. Ek moes bevestig dat dit jy is. Dit was nie, jou beserings was so erg, maar die twee bruin leerskoentjies was wel joune. Jou sussie het gebel en gevra of jy jou hart vir die Here gegee het en ek kon dit bevestig. Paasnaweek.


Toe ry die voertuig weg met jou. Tussen ons trane deur, met ’n gevoel van algehele verslaenheid, kyk ons die voertuig agterna. My trane drup sommer vanself oor my gesig, in my nek tot op my bors. By die huis wag jou niggie saam met ouma. Rou snikke skeur uit ons binneste terwyl ons in mekaar se arms staan. Woorde het ons nie. Sondag, het ons jou besoek. Ek is alleen in. Hulle het jou vir my op die vloer gesit en my alleen gelos by jou. Ek het om jou geloop, jou oop gemaak en na al jou wonde gestaar. Ek het aan jou gesiggie gevat, nog met die twee bruin leerskoentjies aan. Ek het op die koue vloer gaan sit en in ongeloof na jou gestaar.


Hoe lank ek by jou gesit het, weet ek nie, iemand het my kom haal. ’n Paar dae later is die ondersoek afgehandel en ek moes jou weer gaan uitken. Die keer is jy darem op ’n trollie en skoon, al jou wonde is nou vol steke. Jy is nou gereed vir jou laaste reis op aarde, sonder jou no. 13 bruin leerskoentjies. Dankie seun, vir 42 jaar en nege maande. Dis met verwagting dat ek uitsien na ons weersiens. Liefde, Ma.”


Dis net die Heilige Gees wat ‘n mens krag kan gee en vertroos om dié pad van Hannetjie te stap. Ek en jy moet die Heilige Gees toelaat om die groot krag en Vertrooster in ons lewe te wees.


“Jesus het vir ons ‘n Helper gegee om ons by te staan en te dra – sy Gees wat ons vertroos wanneer die storms rondom ons woes raak” (Coenie Burger).


Gebed: Vader, ek het nie nou woorde nie. Laat U Heilige Gees met groot krag in my lewe werk. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon