Gedagte vir Vandag

Maandag, 27 Junie 2022

Koos Espach


Die gebed van die gelowiges (4)


Bid vir vrymoedigheid om te getuig van Christus


Hand. 4:30-31 – “Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: ‘Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.’ Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.”


Die gelowiges vra verder in gebed dat God sy hand sal uitstrek om genesings te laat plaasvind, en dat “daar tekens en wonders deur die Naam van sy heilige Dienaar, Jesus, sal wees.” En hulle mag daarom vra, omdat sulke tekens aan hulle toegesê is – “Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om bose geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak” (Matt. 10:1). Wanneer die apostels volgens hulle opdrag die Naam van Jesus noem, is Hy sélf kragtens Sy belofte teenwoordig, en aan die werk.


Hulle gebed was nouliks klaar of daar gebeur iets wat die teenwoordigheid van God aangedui het: “Die plek waar hulle bymekaar was, het geskud.” Deur verskynsels soos wind en vuur is die teenwoordigheid van God by Pinkster aangedui (2:1-3). Hier vind ons ’n derde simbool van God se teenwoordigheid, soos Elia by Horeb ondervind het, (1 Kon. 19:11-12). In hulle nood het hulle die aangesig van die Here gesoek en Hy het hulle verhoor. Hulle is almal opnuut met die Heilige Gees vervul en hulle is in staat gestel om met vrymoedigheid aan te hou om “die woord van God te verkondig.”


Ons moet onthou dat hierdie gelowiges van die eerste gemeente, nie teoloë of hoog aangeskrewe politieke leiers van die samelewing van destyds was nie. Inteendeel, net doodgewone mense uit totaal verskillende vlakke met merkbare swakhede en onvolmaakthede. Terloops, indien die Here volmaaktheid vereis het voordat ons tot dissipels toegelaat is, sou niemand van ons kwalifiseer nie. Elkeen van hulle het hulle eie tekortkominge wat vir hulle 'n struikelblok in hulle diens sou wees. Gewone mense soos ek en jy, totaal verskillend van mekaar, maar elkeen met ‘n spesifieke gawe om medewerkers te vorm wat gebore is uit 'n gemeenskaplike band – ons geloof in hierdie Jesus Christus, ons Here en Verlosser!


Die gedagte aan Jesus wat gewone mense uitsoek om Hom by te staan sodat Sy werk op aarde, kon voortgaan, is aangrypend en opwindend. Hy kon netsowel engele gebruik het, maar besluit om hierdie enorme taak, die verantwoordelikheid van mense te maak. Daarom durf ons nie ons gedagtes op die verre verlede toespits nie, maar te luister na die roepstem van Jesus wat deur die eeue, ons stééds na Hom toe roep. Net soos die vroeë apostels en gelowiges ‘n bomenslike taak gehad het om te vervul, veral in ‘n wêreld waar die oorgrote mense nie in lewe ná die dood geglo het nie en hulle oortuig moes word dat Jesus leef, so is daar vandag nog in die koninkryk van God baie werk om te verhoed dat satan die Here se werk ondermyn!


Ons lewende Christus roep vandag nog, deur sy Heilige Gees, mense om hulle lewe toe te wy aan Hom sodat Hy hulle kan gebruik om Sy blye boodskap te versprei. Net soos Hy in die vlees die eerste gemeente geroep, hulle toegerus en uitgestuur het in Sy heerlike diens, so roep Hy ook vandag. Wanneer Jesus ons roep, sien Hy nie net wie ons werklik is nie, maar Hy sien ook wat ons kan wees. Al het daar reeds baie eeue sedertdien verbygegaan, is die goeie nuus van die koninkryk van God nog net so relevant. Jesus het jou en my vandag én môre nodig om Sy liefde aan ander te weerspieël en om só te lewe, dat ander ook sal begeer om Sy volgelinge te wees.


Klink dit vir jou asof Jesus jou roep om “met vrymoedigheid die woord van God te verkondig,” van Hom te getuig? As ek en jy nog nie Sy roepstem gehoor het nie, is ons nog nie naby genoeg aan Hom nie! Dit is die tragiese feit van meeste van ons Christene. Ons dra die grootste skat in ons harte om vir ander te vertel van die nuwe lewe in Christus, maar ons is tjoepstil wanneer ons hieroor in die teenwoordigheid van mense iets moet sê. Meeste mense wat sê hulle glo in Jesus Christus, maak nooit hulle monde buite die kerk se deure oop om oor die Here te praat nie. Maar hoe moet ons dan getuig? Ek onthou die woorde teen ‘n muur binne die Kerk ter ere aan St. Fransiskus in Assisi, Italië: “Getuig oral van Christus, en as dit die dag regtig nodig is, gebruik woorde ook.” Praat my en jou lewe ook hierdie soort taal van Jesus?


“Gee jou lewe aan God oor: Hy kan daarmee meer doen as wat ek en jy ooit in staat is om te doen”

(Dwight Moody).


Gebed: Here Jesus, seën my as ‘n doodgewone volgeling. Kap die stukke van my af wat nie soos U lyk nie. Vind my, roep my, gebruik my, al is ek stukkend en vergruis deur my sonde. Jesus, maak my gehoorsaam aan U uitnodiging sodat ek kan luister en dien. Gee aan my die woorde, die moed en die toewyding om van U te getuig. Maak my lewe ‘n spreekbuis tot U eer. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon