top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 23 Junie 2022

Koos Espach


Die gebed van die gelowiges (2)


Die Heilige Gees lei ons tot aanbidding


Hand. 4:24-26 – “Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: ‘Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. En U het deur die Heilige Gees by monde van ons voorvader Dawid, u dienaar, gesê: Waarom het heidennasies te kere gegaan, en het volke sinlose planne beraam? Die konings van die aarde het in opstand gekom, en die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Gesalfde.”


Ons het gister gemeld dat Petrus en Johannes, na hulle vrylating, weer by hul medegelowiges aansluit en vertel wat alles gebeur het. Hulle het moontlik nie eers vir ‘n oomblik aan die die Raad se dreigement dat hulle “glad nie verder in die Naam van Jesus iets mag verkondig of leer nie” (v. 18), weer gedink nie. Hulle het met ‘n dinamiese oortuiging, ‘n gebedsbyeenkoms gehou! En wat 'n gebed is dit nie! Hulle het geweet van God se krag wat hulle vergesel – Hy is immers Skepper van álles. Dieselfde God wat die Skepper van alles is, gee aan ons gelowiges vandag steeds die versekering dat Hy nie net die God van die geskiedenis is nie, maar ook God van vandag en God van die toekoms – Lewende God vir altyd! God wat ons lotgevalle in Sy hande hou. Groot, invloedryke of vername mense hou geen bedreiging vir die Here in nie.


In hulle gebed, haal die apostels en vroeë gelowiges byna woordeliks die aksie belaaide Psalm 2 aan. Geskiedkundig verwys hulle na koning Dawid wat op sy troon gevestig is ten spyte van sy vyande se teëstand. Dit gaan egter oor God se plan om sy Seun, Jesus, wat triomferend as Heerser oor al Sy vyande troon, ten spyte van skares wat tekere gaan en mense wat in opstand kom. Te midde van al die aksie sien ons God lag oor die mensdom se sinnelose planne terwyl Hy Jesus Christus aankondig as die komende Koning wat oor die hele aarde sal heers.


Die apostels en die vroeë Christene is eerstehandse getuies van die nutteloosheid van menslike planne wat in teenstelling met God se raadsplan gemaak word. Hulle is persoonlike getuies van Jesus se opstanding en wil hierdie feite aan my en jou oordra. Daarom behoort ons selfs groter vertroue in God te kry wanneer ons hier lees hoe hierdie eeue oue woorde tot vervulling kom. Ons weet mos ook wat alles sedert daardie tyd gebeur het. Nasies, mense, organisasies en selfs Christene, gaan altyd teen God in opstand kom. Maar ons hoef hulle nie te vrees nie want ons het persoonlike kennis van die mag van God wat al daardie menslike plannetjies sal vernietig.


“Toe hierdie vroeë Christene hoor wat met Petrus en Johannes gebeur het, het hulle almal saam tot God gebid.” Vandag se mense het verskillende redes waarom hulle bid. Maar die basis van alle gebed is die feit dat ons glo daar ‘n lewende God is. Ten einde geestelik te groei, moet ons tye in ons lewe inbou waar ons primatyd met God kan deurbring. Ons kan nie wegkom met ‘n vinnige oggend- en aandgebed of met enige dagstukkie wat ons lees nie. Ja, dit is nodig, maar nie genoeg nie. Ons geloof vra meer as dit – ons kan nie elke dag op ‘n geestelike kitskosdieet oorleef nie, ons het vaste kosse ook nodig.


Meeste mense is deesdae slagoffers van die gebrek-aan-tyd-sindroom. Ons kan nie toelaat dat dit met ons gebeur nie. Ek en jy hou die sleutel van ‘n beter geestelike lewe. Wanneer ons “hoor wat met ons mense, ons land, ons alles wat indruis tot menswees gebeur” moet ons tyd maak om “saam tot God te bid.” Hoekom? Christus het ons uit genade gered; die Heilige Gees is 24/7 by ons om ons te lei; ons is deel van Christus se liggaam, Sy kerk hier op aarde en bowenal, ons het die ewige lewe as geskenk van God ontvang! En dit is die God by wie ek en jy die ewigheid gaan deurbring.


Ons kan en mag dus nie enige verskonings maak om meer tyd met God, veral in gebed, deur te bring nie. Ons kan nie verwag dat God maar geduldig moet wag totdat ons programmetjies en plannetjies iewers vorentoe, rustiger daar sal uitsien nie. Dis dalk nodig om ons dagboek vir God te gee en dan geleenthede deur elke dag te maak om met God daaroor te praat, nie net soggens met opstaan- en saans met slaaptyd nie. Kom ons neem Christus se voorbeeld en bid tot God vir krag al is ons moeg of al voel ons dalk nie lus nie. Sonder ‘n gedissiplineerde omgang met God, gaan ons geestelike lewe maar vaal bly. Elke gesprek met Hom is nuut en lewend, want dis immers ‘n lewende verhouding met ons lewende God, waarin ek en jy staan.


“Niks is buite die bereik van gebed nie, behalwe dit wat buite die wil van God is” (Oswald Chambers).


Gebed: Wat ‘n wonder, wat ‘n voorreg, Here my God, om met U te mag praat. Dankie dat U nie kantoorure het nie, maar U ontvanklik is vir gesprek 24/7. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page