top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 22 Junie 2022

Koos Espach


Die gebed van die gelowiges (1)


Geen teenstand kan God onverhoeds vang nie


Hand. 4:23-24a – “Nadat Petrus en Johannes losgelaat is, het hulle na hulle medegelowiges toe gegaan en vir hulle vertel wat die priesterhoofde en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid ...”


Die magtige manne van die Joodse Raad was in die moeilikheid. Hulle kon nie verklaar wat hulle met hul eie oë gesien gebeur het nie en kon ook nie glo dat die eenvoudige Petrus en Johannes met sulke vrymoedigheid teenoor hulle optree nie. Hulle het toe maar hulle magsposisisie gebruik om te voorkom dat hierdie tipe van goed verder moet gebeur en besluit om die apostels te verbied om in die Naam van Jesus te preek. Maar weer was die krag van die Heilige Gees sterker as die intimiderende optrede van die Raad om die apostels se bediening te smoor en toe te smeer.


Petrus het eenvoudig vir hulle gesê dat hy meer gehoorsaam aan God as aan hulle is. Hulle kan nie stilbly oor wat hulle gehoor en gesien het nie. Buitendien was almal in Jerusalem in ekstase oor die genesing van die verlamde man. Die gevolg is dat die Joodse Raad vir “Petrus en Johannes maar moes loslaat.”


Hulle keer terug na die Christen-gemeenskap en hulle onmiddellike optrede was ooglopend anders as wat vandag meestal sou gebeur. Wat sou ons gedoen het indien ons in Petrus en Johannes se sandale was? Die eerste stap kon ons miskien ‘n petisie opstel om maatskaplike vryheid te eis. Dit sou nie help om ons parlementêre verteenwoordiger te nader om die saak te ondersoek nie, niks sal gebeur nie. Ook nie om te gaan toi-toi of bande brand nie. Miskien minstens ‘n dringende Kerkraadsvergadering hou en ‘n kommissie saamstel om die amptelike dreigemente te ondersoek.


Petrus en Johannes het egter niks van dié aard gedoen nie. “Hulle het hul medegelowiges meegedeel wat die Raad alles vir hulle gesê het.” Die antwoord van die gelowiges wat bymekaar was, was oorweldigend! Hulle het nie in ‘n diep depressie geval omdat hulle nou in uiters gevaarlike omstandighede hulle bevind nie. Hulle het moontlik nie eers besef watse probleme hulle voortaan in die gesig sou staar nie. Hulle gesprekke het nie bestaan uit beraadslagings oor hoe hulle die nuwe situasie van vervolging moes tegemoetgaan nie. Hulle het moontlik nie eers vir ‘n oomblik aan die opdrag van die Raad gedink nie. Hulle het begin met ’n indrukwekkende gemeentelike gebed!


Lukas teken vir ons hier tegelykertyd die kontras tussen die onsekerheid en weifelagtige houding van die Joodse Raad, teenoor die geloofsekerheid van die Christene, en die spanning tussen die Joodse leiers en die volk teenoor die eensgesindheid van die apostels en die ander Christene. Moontlik het Petrus voorgegaan, aangesien die woorde van die gebed in meer as een opsig aan die toesprake van die apostel herinner. Petrus skryf nie aan God voor wat Hy moet doen nie. Hy vra ook nie vir God se beskerming nie. Hy stel eenvoudig die saak aan die Here en versoek Hom om te kyk na elke menslike dreigement.


Net soos die apostels en die eerste Christene besef het dat bedreigings wat hulle skielik ervaar het, weet ons vandag ook dat dit alles deel van God se groot plan is om sondaars te red. God kan nie onverhoeds betrap word nie, al voel dit soms vir ons so wanneer ons lewensbootjie erg begin kantel. Hy is steeds in beheer. Dieselfde drie-enige God wat daardie dag in Jerusalem aan die werk was, werk vandag nog. Ons kan en sal ook teenstand uit die mees onverwagte oorde verwag, maar ons hoef nie daarvoor bang te wees nie. Ons het ‘n evangelie-boodskap wat lewens verander. Ek en jy het die beste geestelike wapens waarvan ‘n mens kan droom. Dieselfde Heilige Gees wat 2 000 jaar gelede die Christene vervul het, wil my en jou ook kragdadig vervul en gebruik.


“Vir die Christen wat vir God lief is, is aanbidding die daaglikse brood van geduld” (Honoré de Balzac).


Gebed: Heilige Vader, dankie dat U Seun vir my die deur oopgemaak en dit toeganklik gemaak het om met U te kan praat. Besiel my o Gees van waarheid om deur U te kan aanbid. Maak my aanbidding suiwer tot eer en verheerliking aan die mooiste Naam wat ek ken, Jesus Christus, ons Heer. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page