top of page

Gedagte vir Vandag

26 Nov 2020

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)

JESUS SE VIERDE TOESPRAAK: VERHOUDINGS TUSSEN GELOWIGES

(Matt. 18:1-35)

DIE BELANGRIKSTE IN DIE KONINKRYK (3)

(Mark. 9:33-37; Luk. 9:46-48)

JESUS VERWYDER ALLE GENERASIEGAPINGS!


Matt. 18:1-4 – “In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: ‘Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?’ Hy het ‘n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: ‘Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.”


Vergelyk ook Gal. 5:25-26 – “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.”


Ons het gister afgesluit met die hunkering om weer soos ‘n kind te word, maar dan steier ons voor hierdie gedagte, want hoe kan ek en jy wat al volwasse is, “verander en soos kindertjies word.” Ons word eintlik met dieselfde vraag gekonfronteer wat Nikodemus vir Jesus gevra het: “Hoe kan ‘n mens gebore word as hy al ‘n ou man is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?” (Joh. 3:4). Hierdie vraag het in sy binneste gespook nadat Jesus vir hom gesê het: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3). Nou gebruik Jesus ‘n kind as lewende gelykenis, om aan ons dieselfde te stel: “As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.


Dit is radikale taal! Om een van God se mense in Sy koninkryk te kan wees, het ek en jy ‘n hergeboorte nodig, moet ons verander en soos kindertjies word. En dis nie ek wat so sê nie, maar Jesus! Hoe word ons weer soos ‘n kind? Ek meen, toe ons kinders was, het ons gedink soos ‘n kind, gepraat soos ‘n kind en opgetree soos ‘n kind, maar meeste van ons wat hier lees het fisies volwasse geraak en sien nie meer die wêreld deur die oë van ‘n kind nie. Die meeste van ons het al geleer hoe om verwaandheid, onaangenaamheid, teleurstellings en moeilike tye te hanteer want ons weet ons lewe is in God se hand, en Hy bly altyd in beheer. Maar ongelukkig is daar steeds diegene wat beredeneerd stry oor die vraag wie die belangrikste is. Só jammer, want Koninkrykskinders is nie bewus van hulle eie belangrikheid nie.

Hoe kan ons hierdie generasiegaping tussen volwassene en kind oorbrug of selfs verwyder? Die enigste manier is om die voorbeeld van die Grootste in die hemelse Koninkryk te volg, naamlik Jesus, die Kind van Betlehem. Hy “roep ‘n kind nader”, Hy roep óns nader, God se kinders! Deur feitlik elke bladsy van die Bybel roep Hy: “Kom na My toe …; Volg My!” Staan ons al daar by Hom soos hierdie kindjie in ons verhaal, of oorweeg ons nog huiwerig om nader te gaan?


In my geestesoog sien ek hierdie kindjie daar by Jesus staan – (kom ons aanvaar hierdie keer dit was ‘n dogtertjie) – nederig en sonder pretensie, sonder slim redenasies, moontlik kaalvoet met eenvoudige kleertjies aan, hulpeloos en sonder enigiets om Jesus aan te bied, dalk ‘n bietjie bang, wonder seker wat gaan hierdie grootmense met haar maak, want kinders was tydens Jesus se aardse tyd, net gesien en nie gehoor nie. Sy was totaal op Jesus se genade aangewese. En dan hoor ek Jesus se liefdevolle stem: “Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.” Só, gering soos hierdie kind, is ons reg vir die Koninkryk van God. Jesus verwyder alle generasiegapings! Ons gesindheid moet verander na dié van ‘n kind om in te pas by die geloofsgemeenskap van God se koninkryk.


Hierdie kindjie staan daar tussen grootmense, die groot manne wat stry oor wie die belangrikste is. Sy is iemand se kind. Sy weet sy het ‘n pappa en mamma wat haar lief het. Sy is afhanklik van hulle. Sy weet sy kan en sal dit nie alleen in die lewe maak nie. Sy hou aan hulle vas en haar hele lewetjie draai om hulle. Sy vertrou hulle; hulle sal vir haar sorg; hulle sal haar beskerm; hulle sal alles doen om vir haar die beste te gee. Sy wil nooit van hulle geskei word nie!


Dit is hoe God se kinders moet wees! In die Koninkryk van God is daar net plek vir mense wat nederigheid soos ‘n kind geleer het. Ons moet daardie geweldige sekerheid besit dat ons nie sonder ons hemelse Vader kan leef nie, dat ons nooit van Hom geskei wil wees nie, dat ons as Sy kinders, se hele bestaan om Hom draai. Wie nie tot hierdie verandering bereid is nie, sal nie in die koninkryk van die hemel kom nie. God se koninkryk is alleen bedoel vir diegene wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Dit maak die vraag na wie die belangrikste sal wees in die koninkryk ‘n sinlose vraag. Die statusbewustheid van die wêreld pas nie in by Sy koninkryk nie. Wanneer ons op ons knieë voor God staan, is ons almal ewe ver of ewe naby aan God! Hoe belangrik dink jy is jy in die koninkryk in vergelyking met medegelowiges?


“Die Evangelie maak ons vry van skuld, vry van onwaardigheid, bereid om die wêreld vas in die oë te kyk … As Christus gestalte in ‘n mens kry, is jy almal se dienaar, maar niemand se vloerlap nie” (Ferdinand Deist).


Gebed: Here, in U wêreld word my verstand klein soos ‘n kind s’n en droog my slim redenasies op. Dankie tog dat dit nie beteken dat U dan nie werk nie, U werk ver buite my verstand en verklarings. As sondaar kan ek nie my eie hart verander nie, net U kan maak dat ek ‘n nuwe skepping is. Daarom maak ek nie staat op my slim redenasies nie, maar vra ek dat U my oë moet oopmaak sodat ek die lig van die evangelie kan sien. Leer my die grense van my vermoëns sodat ek my krag in Ú sal soek – dié krag wat juis in werking kom wanneer ek swak en op my knieë voor U is. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page