Gedagte vir Vandag

Donderdag, 19 Mei 2022

Koos Espach


Petrus se (tweede) toespraak in die Pilaargang van Salomo (1)


Waar God aan die werk is, staan mense verbaas


Hand. 3:11-13 – “Die man het vir Petrus en Johannes bly volg, en die mense wat almal uiters verbaas was, het na hulle toe gestroom in die Pilaargang van Salomo, soos dit genoem is. Toe Petrus dit sien, het hy hulle toegespreek: ‘Israeliete, hoekom is julle hieroor verbaas? Wat staar julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of vroomheid gemaak het dat hierdie man loop? Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, Goddelike eer gegee. Júlle het Hom uitgelewer en Hom voor Pilatus verwerp toe hy beslis het dat Hy vrygelaat moes word.”


Vergelyk ook Joh. 8:54-55 – “Jesus antwoord: ‘As Ek Myself verheerlik, beteken My heerlikheid niks. Dit is My Vader wat My verheerlik. Julle sê: ‘Hy is ons God,’ en tog ken julle Hom nie. Maar Ek ken Hom.”


Hierdie tweede toespraak van Petrus is, net soos die eerste, van die grootste betekenis om te probeer bepaal wat die inhoud van die Christelike boodskap in die vroeë kerk aan die Jode was. Petrus verkondig nou die krag en gesag van die Naam van Jesus, waardeur sy dissipels, nou as apostels, in staat is om hulle Meester se bediening op aarde voort te sit. In sy toespraak is daar ’n oproep tot bekering en berou oor die misdaad wat gepleeg is deur die Messias te kruisig, en die rol van Jesus as die lydende Dienaar van die Here en as die nuwe Moses wat gehoorsaam moet word.


Die verlamde man wat genees is, het hom by Petrus en Johannes aangesluit en wou nie van hulle afskeid neem nie. Hy het hulle feitlik aangekleef. Die verbaasde mans in die tempel het haastig na hulle in die Pilaargang van Salomo, waar net Judese mans toegelaat is, gestroom. Toe Petrus sien dat almal ontsettend beïndruk was van wat pas gebeur het, het hy van die gunstige geleentheid gebruik gemaak en die evangelie kragtig verkondig aan hulle. Hy begin deur almal se verwondering reg te stel, deur nie die eer op hom en Johannes te plaas nie. Petrus gaan haal hierdie antwoord ver terug in die geskiedenis van die volk Israel.


Die eer kom God toe, die God wat ‘n verbond met hulle voorvaders gesluit het. Hy was nie net die God van die voorvaders nie, maar ook die God van die volgende geslagte van Israel, van wie Petrus en sy toehoorders lede is. Daar bestaan ’n onlosmaaklike band tussen die God van die voorvaders en Jesus van Nasaret. “Jesus, God se Dienaar,” het gekom om die werk van God op aarde te doen. Hulle moes uit die Skrifte, wat hulle besit en waarop hulle as verbondsvolk geroem het, begryp dat Jesus die Messias is en Hom aanvaar het. Juis daarom is hulle skuld so groot “omdat húlle Hom uitgelewer en Hom voor Pilatus verwerp het toe Pilatus beslis het dat Hy vrygelaat moes word.” Wie nie in Jesus glo nie, verloën die God van Israel, want dit is God wat van die Jode, en van ál die mense op aarde, vra dat hulle Jesus as Messias moet erken.


Jesus staan in ’n unieke verhouding tot die Vader en noem Hom “my Vader”. Die Jode noem die Vader “ons God,” wat hulle reg is, want God het Hom so deur die openbaringsgeskiedenis aan Sy volk bekend gemaak. Maar, indien hulle God egter werklik geken het, sou hulle ingesien het dat “ons God” gelyk is aan Jesus se “my Vader”, en dat Jesus dus die Seun van God is want God kan slegs volkome deur Jesus gesien word. Ten spyte van God se openbaring, ken hulle Hom nie werklik nie, omdat hulle ’n God van hulle eie maaksel dien en weier om die kennis van God te aanvaar soos Jesus dit kom meedeel het (Joh. 1:18).


Om Jesus te aanvaar, is om te besef wie God is en hoe Hy gedien moet word en die regte verhouding wat die mens met God behoort te hê. Die waarheid is dat Jesus wel die Vader ken, en Hom op ’n wyse ken waarby die mens nie kan kom nie. Slegs déúr Jesus sal ons kennis van God hê. Hy kan ons vertel wie Sy Vader is en ons leer wat ons van God se koninkryk moet weet. Die koninkryk van God is nie ‘n plek waar wonders en bonatuurlike dinge op aanvraag beskikbaar is nie. Die grootste wonder is om sondaars uit die greep van sonde te bevry en daarom is dit nodig om te wéét en te aanvaar dat dit nét deur hierdie Jesus kan geskied wie God uit die dood laat opstaan het. God het deur Jesus Christus aan ons die ewige lewe geskenk. Ek en jy het dus geen onsekerheid oor ons erfenis nie.


“For the man who fully accepts and believes in Jesus Christ, death has lost its finality; he has entered into a relationship with God which neither time nor eternity can sever. He goes, not from life to death, but from life to life; death is only the introduction to the nearer presence of God” (William Barclay).


Gebed: Dankie Jesus dat U die verste reis ooit aangepak het wat enige mens kan dink om te doen. Dankie dat U hierdie ver, onoorbrugbare rit van die hemel af aarde toe geneem het om vir my van God te kom vertel. As dit nie vir U was nie, sou ek nooit dit van hier af hemel toe gemaak het nie. Al die goeie dinge wat ek op my eie probeer aanpak om nog ‘n geloofstrappie te bou om by U en God in die hemel uit te kom, help niks. Al wat help is om in geloof te rus by die kruis. Dit is dáár waar U my kom haal het en daarom wil ek elke dag by U wees want dit is net U wat blywend kan versadig. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon