top of page

Gedagte vir Vandag

25 Nov 2020

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)

JESUS SE VIERDE TOESPRAAK: VERHOUDINGS TUSSEN GELOWIGES

(Matt. 18:1-35)

DIE BELANGRIKSTE IN DIE KONINKRYK (2)

(Mark. 9:33-37; Luk. 9:46-48)

RANGLYS VAN DIE KONINKRYK VAN GOD!


Matt. 18:1-4 – “In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: ‘Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?’ Hy het ‘n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: ‘Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.”


Jesus is voor Sy lydensweg, finaal besig om Sy dissipels (en ons gelowiges) oor die grondbeginsels van die koninkryk van God te onderrig. Markus skryf Jesus het, soos wat ’n destydse leraar gewoonlik doen, gaan sit en die dissipels nader geroep (Mark. 9:35). Met 'n sigbare gelykenis vat Jesus by hierdie geleentheid, ‘n kindjie van onder twaalf jaar en laat die kind tussen hulle staan. (In die destydse Joodse samelewing was daar nie verwag van kinders onder twaalf om die godsdienstige pligte na te kom nie. ‘n Kind kon dus nie op enige godsdienstige meriete aanspraak maak voor God nie.)


Dan sê Jesus ons gesindheid moet bewustelik verander dat dit soos dié van ‘n kindjie word. Daarmee bedoel Hy dat ons soos kinders moet leer om Vader te sê. Soos ‘n kind hom/haar klein ag tussen volwassenes, so moet ons klein en afhanklik word voor ons almal se Vader. Soos ‘n kind is ons sonder regte en prestasie en kan ons maar net verleë staan voor die skatte van die koninkryk wat aan ons geskenk word. Soos 'n kind moet ons onbevange oop en gewillig wees om deur ons Vader gelei en versorg te word.


Vir die dissipels wat grootgemaak is in ‘n tyd wat kinders tot op twaalfjarige ouderdom, nie as belangrik beskou is nie, was hierdie handeling en gedagte van Jesus seker baie vreemd. Ek meen, vir ‘n koninkryksmagsoorname in Jerusalem, word sterk manne benodig en beslis nie kinders nie. Hoekom doen Jesus dit? Miskien is dit omdat kinders soos engeltjies is. Nee, kan nie wees nie. As pa en oupa weet ek dat dit nie waar is nie, inteendeel, hulle kan mens se geduld soms erg beproef! Jesus sonder die kinders uit, juis omdat hulle so laag op baie volwassenes, veral diegene wat hulleself as BBP beskou, se waardeskaal is. Op elke terrein van die lewe vind ons hoogmoedige mense wat voel hulle posisie in die samelewing gee hulle die reg om hoër geag te word as ander.


Jesus kom egter en sê vir ons: “Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.” Jesus kom leer ons hiermee wat nederigheid beteken, en dit moet nie verwar word met swakheid nie. Jesus vra nie dat Sy volgelinge met ‘n gevoel van minderwaardigheid en lae selfbeeld moet rondloop nie, trouens, Hy was ewe tuis by die geleerdes in die tempel as by die melaatses wat uit die samelewing van destyds, gewerp is. Geringheid of nederigheid word nie daarin gemeet dat ek myself met ‘n ander vergelyk en telkens met ‘n tweede plek tevrede moet wees nie. My en jou geringheid is ons posisies gemeet aan dié van Jesus, die Koning van die Ryk! Ons geringheid, ons nederigheid is nie te danke aan ons sosiale status nie, maar aan Sy guns! Juis omdat die dissipels nie die uitsprake oor die lyding van die Messias verstaan het nie, volhard hulle in die gedagte van ’n aardse koninkryk waarin daar plekke van eer en van minder eer sal wees.


Soos kinders hulle besig hou met onbenullige en onbelangrike klein dingetjies, moet ons as volwassenes en volgelinge van Jesus van ná die kruis, weer kind word en vreugde vind in die eenvoud van die lewe. Kinders vertrou die mense vir wie hulle lief is onvoorwaardelik, net so moet ons God soos ‘n kind vertrou en doen wat Hy vra. Soos kinders van onder af opkyk boontoe na volwassenes, moet ons ook nie soos hoogmoediges dikwels uit die hoogte, ander van bo af ondertoe bekyk nie – “Met hooghartiges dryf Hy die spot, maar Hy is goed vir dié wat beskeie is” (Spr. 3:34).


Jesus kom hou ’n kind as die ideaal vir die koninkryk van God voor. Dit beteken ’n radikale omkeer van alle bestaande waardes. Dit gaan hier nie oor die sogenaamde “onskuld” of “ontvanklikheid” van die kind nie, maar oor sy/haar totale gebrek aan status, sy/haar nederigheid voor grootmense en volledige afhanklikheid van sy/haar ouers. Jesus verwag van ons as Sy volgelinge, om nie onder mekaar te veg oor wie die belangrikste is nie, maar om eerder dieselfde kinderlike afhanklikheid aan God, en onwrikbare vertroue in Sy versorging as ons Vader, te openbaar; om soos grootmense met kinderharte op te tree. Is dit nie dalk nodig dat ek en jy weer kind word nie?


“Ons mag strewe om soos kinders te wees, maar ons moenie probeer om hulle soos ons te maak nie” (Kahlil Gibran).


Gebed: Almagtige Vader, rus my toe met liefde en begrip en leer my om te vermaan en te lei. Skenk my só ‘n geloof dat my kinders sal weet dat ek ook maar net kind is, U kind! Help my om ‘n afhanklike kind van U te bly, sodat my kinders en kleinkinders, saam met my ‘n hemelse Vader sal raaksien wat ons lei na waters waar rus is. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page