Gedagte vir Vandag

Maandag, 16 Mei 2022

Koos Espach


Die eerste gemeente (2)


Geen draadsitters toegelaat


Hand. 2:46-47 – “Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.”


Lukas gee hier vir ons ’n aanduiding hoe dit met die godsdienstige lewe van die eerste gemeente gegaan het. Die vroeë kerk se sin vir dringendheid kon nie méér intens gewees het nie. Die gelowiges gaan dag na dag voort om God te dien, en in eensgesindheid en met groot vreugde te lewe. Hulle het volhard om daagliks saam die tempel te besoek, net soos Jesus en Sy dissipels. By die tempel kon hulle ook die evangelie aan hulle volksgenote verkondig. Hiernaas het daar ’n ander vorm van godsdiensoefening ook ontstaan, nl. die liefdesmaaltye en die viering van die nagmaal, wat tuis in die huise van gelowiges plaasgevind het. Hierdie maaltye is gekenmerk deur eenvoud en suiwerheid van hart, wat alleen op God gerig was – “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” (Kol. 3:23).


Hoe gaan dit deesdae met die godsdienstige lewe in hedendaagse gemeentes? Waarom is dit belangrik om gehoor te gee aan die Hebreërskrywer se vermaning. Sonder om te veralgemeen, hoor ons deesdae dikwels mense sê: “Ek gaan nie kerk toe nie, ek kyk sommer kerk op TV.” Dit was voor die COVID pandemie maar het nou meer ‘n algemene gesegde en gebruik geword. As ek my persoonlike opinie kan waag: Dit is teen God se wil! God vermaan ons deur die Hebreërskrywer: "Moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie" (Heb. 10:25). Dis nie wat ek of die Hebreërskrywer sê nie, dis God!


Waarom is dit belangrik om gemeentesamekomste by te woon? Ons as God se kinders kan ons Koning op die troon huldig, aanbid en dank. “Godsdiens” beteken nie ‘n diens aan myself nie, maar diens aan God. In die erediens bring ons eer aan God. Dit is ‘n daad van Godverheerliking en wie ook al om watter flou verskoning daarvan wegbly, ontneem hom- of haarself om God te verheerlik. Dit is ook waar die sprekende God deur sy Gees by ons teenwoordig is om ons met Sy bevrydende spreke te bemoedig en te seën. Ons kan daar ook as ‘n gemeente, saam ons verskeidenheid behoeftes aan ons luisterende Vader oordra en vir mekaar intree. En bowenal, dit is die aangewese plek om as deel van God se liggaam, ons saamwees te vier, mekaar waardeer, geniet, versterk, bemoedig, verryk, en mekaar met die lewende Woord van God voed.


By gemeentesamekomste kan “ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade” (Heb. 10:24). Ons kan dit nie in ons sitkamer by die TV-diens doen nie, dit grens aan selfgesentreerdheid – ek in my klein hoekie en jy in joune! As mekaar se “geestesfamilie” kan ons in die kerk vir mekaar omsien wat begin by raaksien. Net om ‘n medegelowige raak te sien, is al klaar ‘n teken van medemenslikheid. Dit is ook ‘n omsien met noukeurige aandag aan ons medegelowige en naaste. Dit is omsien met liefde soos wat Jesus gedoen het. Net die Heilige Gees kan ons na ander laat kyk met ‘n liefdesbril en die stof van selfsug op ons bril verwyder (Gal. 5:22). Dis ‘n omsien wat uitloop op aksie wat ons medegelowiges aanspoor tot liefde en goeie dade. “Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid” (1 Joh. 3:18).


Lukas skilder vir ons die ideale prentjie en ideale omstandighede hoe ‘n “kerkfamilie” kan wees. Hy maak dit ook baie duidelik dat dit “die Here is wat elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg het.” Waarvan is hulle gered? Van hulle eie klein koninkrykie en die koninkryk van die wêreld van sonde! As ek en jy dus terugtrek in ons eie Christen-isolasie, kan ons nie deel wees van ‘n geestelike familie nie. Ja, daar is diegene wat sê hulle gaan nie kerk toe nie want die kerk is vol skynheiliges – vriend, daar is nog plek vir jou ook. Ons word geroep en beveel om by mekaar se lewens betrokke te raak. “Hou jou neus uit ander se sake,” is nie ‘n Christelike frase nie. Jakobus sê: “My broers (en susters), as een van julle afdwaal en iemand sou hom (of haar) terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom (of haar) uit die dood red ...” (Jak. 5:19-20).


Iemand het gesê die kerk is nie ‘n museum vir heiliges nie, maar ‘n hospitaal vir sondaars. Die kerk is die plek waar ons mekaar se hande vat, blydskap kan deel, mekaar se trane afdroog, medelye kan hê, swaarkry kan deel. Die kerk is nie soos ‘n passasierskip waar ’n paar mense al die werk doen en die res net die vaart kan geniet nie. Die kerk is soos ‘n oorlogskip waar elkeen aan boord verpligtinge het en sy of haar kant voluit moet bring. Christus se liggaam het elkeen van ons nodig. “Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal” (1 Kor. 12:7). Ek en jy moet behoort, en nie net glo nie!


“There is no man who can live the Christian life and neglect the fellowship of the church. If any man feels that he can do so, let him remember that he comes to church not only to get, but to give” (William Barclay).


Gebed: Here, gemeentelede is die kern van die gemeenskap van gelowiges wat onderlinge verhoudings bou en mekaar help. Ons het mekaar in tye van die diepste krisis, smart en twyfel, die meeste nodig. Maak my gewillig om my deel voluit te doen. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon