Gedagte vir Vandag

Woensdag, 11 Mei 2022

Koos Espach


Die eerste bekeerdes (1)


Die volle evangelie


Hand. 2:37-39 – “By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: ‘Wat moet ons doen, broers?’ Toe antwoord Petrus hulle: ‘Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop

word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe, en sal julle die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”


Petrus se preek was in die krag van die Heilige Gees. Hy staan hier voor baie van die mense wat ‘n paar dae tevore uitgeroep het: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” ‘n Paar dae gelede was Hy doodbang en het met ‘n eed ontken dat hy vir Jesus ken. Nou staan hy vreesloos, nadat die Heilige Gees sy lewe oorgeneem het, en beskuldig hulle daarvan dat hulle Jesus onskuldig laat doodmaak het, sonder dat hulle besef wie Jesus werklik was. Hy was die Christus, die verwagte Messias wie hulle verwerp het. En dieselfde Gees, onder wie se leiding Petrus aan die woord was, verander sy hoorders se harte – hulle soek dadelik hulp! Die verwondering oor die gedrag van die apostels en die gelowiges, het letterlik hulle harte “deursteek.”


Met dieselfde aanspreekvorm vra hulle vir Petrus en die ander apostels: “Wat moet ons doen, broers?” Effens benoud sou ek sê, wou hulle weet hoe om die saak tussen hulle en God reg te stel. Petrus spel die roete vir hulle duidelik uit. In plaas daarvan om hulle skuld en aandeel in Jesus se lyding en dood in te vryf, verkondig hy op die Pinkster, die volle evangelie van bekering en vergifnis van sonde en die “gawe van die Heilige Gees.” Die hoorders moet hulle houding teenoor Jesus verander; hulle moet anders oor Hom dink. Hulle moet hulle bekeer en hulle laat doop op die grondslag van Jesus Christus en alles wat Hy gedoen het, met die belydenis van sy Naam, sodat hulle vergifnis van sondes kan ontvang. Hiermee word nie gesê dat die doop vergifnis van sondes bewerkstellig nie, maar dat dit die vergifnis bekragtig of verseël. Indien hulle dit doen, sal hulle ook die Heilige Gees as gawe ontvang, net soos die 120 gelowiges wat saam met die apostels was.


Petrus beaam die feit dat hulle die “gawe van die Heilige Gees” sal ontvang. Hoekom? Hy praat met Jode, God se beloftes is vir hulle as bondsvolk bedoel: “Hulle is tog Israeliete; vir hulle het God as sy kinders aangeneem en in sy heerlikheid laat deel; met hulle het Hy die verbonde gesluit en aan hulle die wet van Moses gegee, asook die tempeldiens en die beloftes; hulle stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore – Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! Amen.” (Rom. 9:4-5). Hier word slegs agt sigbare tekens van God se genade genoem – hulle het álles ontvang, hulle moes net in God se genade intree en vanuit Sy genade leef! En dit geld vir ons ook, “vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”


Waar bring dit ons as gelowiges, ons wat deel is van die verlossing deur God se genade? “Wat moet ons doen, broers (en susters)?” Is daar ‘n droefheid en hartseer oor ons kerke wat so leegloop, ons land en dorpe wat vol kerktorings is, maar wat Sondae feitlik leeg is? Ons volksgenote wat afdwaal, losbandig lewe, gesinsverbrokkeling, wêreldse wysheid aanhang, mense wat God se gebod en God se verbond nie meer nodig ag nie? Mense wat eerder met God ‘n verbond wil sluit, ‘n verbond wat hulle behoeftes pas? Verkeerd! God sluit ‘n verbond met mense, nie andersom nie!


Maar ... dit is die verstommende van die God wat ons aanbid, Hy verander mense se harte. Deur die “gawe van die Gees” te ontvang, wil God sy verhouding met ons vernuwe om soos absolute toegewyde Christene te leef. Dit kan ons doen deur ons intimiteit met God en die sigbare tekens van God se genade in ons lewens, aan ons gesinne, familie, gemeenskap en volksgenote, aan álmal rondom ons, te wys. Wanneer ons as Christen-gelowiges al ons voorregte uit God se genadekas nie as vanselfsprekend aanvaar nie, maar aan ander wys en toepas, sal hulle ook aangespoor word om hierdie wonderlike geleenthede aan te gryp.


Sal ons dit kan doen of laat sak jy ook jou kop soos ek, in skaamte? Ai, die proses om meer soos Jesus te wees, sukkel maar om spoed op te tel. Die wêreld het God se liefde só nodig. Alles val uitmekaar en ons sien nie eintlik die lig nie, want ons as Christene saai nie genoeg van God se liefde in die wêreld nie. Met die krag van die Gees kan ons ander na Jesus laat draai. Hy is die volmaakte voorbeeld van hoe ’n mens liefde saai. Dis ’n gee liefde, ’n liefde wat niks terug verwag nie. Jesus het nie met die mens geredeneer en gevra wat is ons bereid om te gee as Hy vir ons aan die kruis sterf nie. Hy het nie gegee om iets te ontvang nie, maar net onbaatsugtig Sy lewe, Sy álles gegee. Sal ons dit ook kan doen, of darem ‘n ietsie kan teruggee, al vra Hy nie?


“Die bewys dat ons God liefhet, is nie hoeveel mense ons na Hom gelei het, of hoeveel ons vir Hom gewerk het, of hoe pragtig ons Sy lof besing het nie, maar doodeenvoudig hoeveel ons ons naaste gedien het”

(Gayle Roper).


Gebed: Dankie Vader, vir U onbaatsugtige liefde. Dankie dat ek aan die ontvangkant daarvan is. Help my nou om ook daarvan uit te leef aan die geliefdes om my en teenoor my naaste. Dankie Jesus dat ek ‘n lewe saam met U kan hê, al is dit nie ‘n probleemlose aardse lewe nie, U maak die lewe vir my egter ‘n oorwinning oor my probleme. Dankie o Gees dat U by my is, nie om my van ‘n gemaklike lewe te verseker nie, maar juis om my in moeilike tye by te staan. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon