top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 6 Mei 2022

Koos Espach


Petrus se eerste toespraak op die pinksterdag (5)


Teenoor die dood staan Christus, en Hy is die Lewe


Hand. 2:24-28 – “Toe staan Petrus saam met die ander elf apostels op (en sê): ‘Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. Van Hom sê Dawid: Ek het die Here altyd voor oë. Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe, want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie. U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.”


Petrus se “intreepreek” was kort en kragtig. Hy het begin by die spottende opmerkings van die skare wat nuuskierig nader gestaan het om te kyk wat daar aangaan, en hulle daarop gewys dat hulle gissinge oor dronkenskap ongegrond is. Hy het hulle ook daarop gewys dat hulle eintlik verantwoordelik was vir die kruisiging van Jesus. Wat God egter met Jesus gedoen het deur die opstanding, staan lynreg teenoor wat die Jode met Hom gedoen het – “Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou.” God was nog die hele tyd in beheer. Deur Jesus op te wek uit die dood, is ‘n bewys daarvan!


Lukas maak dan deur Petrus, Psalm 16:8-11 op Jesus van toepassing. Omdat Dawid voortdurend in gemeenskap met God geleef en op Hom vertrou het, is daar vreugde in sy hart en jubel sy tong. Wat ’n mens normaalweg nie sou verwag nie, is ook moontlik en sal gebeur. Wanneer ons sterf en ons liggaam word aan die aarde toevertrou en in die gewone gang van sake bestem is om te vergaan, sal God wat goed is, ons nie in die doderyk verlaat nie. Vir die gelowige in Christus, is om te sterf nie die einde nie, want ook ná die dood vergesel God se bewarende guns hom of haar.

Teenoor die dood staan die Lewe. Hierdeur word die hoopvolle verwagting van elke gelowige beklemtoon. God het aan ons die weg van die lewe bekend gemaak, deur Jesus wat Sy plek aan die regterhand van God ingeneem het. Die kruis is kaal, die graf is leeg en die hemel is weer vol. Die raadsplan van God en die beheer van die ganse heelal is dus nou in Christus se hande. Dit is Hy wat sy Naam en sy Vader se Naam op alle verlostes skryf (Op. 14:1-2) en alle gelowiges se name in die boek van die lewe opteken (Op. 13). “Jesus het opgestaan, Hy is die verheerlikte Heer” (1 Kor. 15). Hy is die waarborg dat ek en jy ook met ‘n verheerlikte liggaam sal opstaan. Hóé, weet ek nie maar dat ek weet, is waar, want ek grond dit op ons geloof in die opgestane Jesus Christus.


Ons hou nie van pyn en van hartseer en van die dood nie. Ons wil lyding en hartseer en pyn soveel ons kan, liewer heeltemal vermy. Ons wil nie deur die vallei van die doodskaduwee loop soos Dawid in Psalm 23 sê nie, ons wil so vinnig as moontlik daardeur “sprint.” Ons wil so vinnig as moontlik oor alles wat hartseer veroorsaak hardloop sodat ons net weer kan aangaan met ons lewens.


Buitendien, Jesus hou ook nie daarvan dat ons heeltyd moet loop en dink aan die dood nie. Jesus se mense is positief. “Hy sal die arme red wat om hulp roep, die verdrukte en dié wat geen helper het nie; hy sal hom oor die swakke en die behoeftige ontferm, die lewens van die arm mense beskerm. Hy sal hulle van onderdrukking en geweld bevry; hulle lewens sal kosbaar wees in sy oë” (Ps. 72:12-14). Jesus se mense sien die wêreld se nood raak en praat met God daaroor. Hulle kla nie net en vind fout met alles nie, hulle bid om Sy ingryping, Sy hulp en Sy hemelse bystand. Hulle sien nie net ander se nood raak nie, maar help ook met uitgestrekte arms en hande waar hulle kan.


Wanneer daar gehuil word, is Jesus by ons, tussen ons, binne ons. Ons smart word Sy smart, ons hartseer Sy hartseer. Sy hartseer is gevul met heilige ongeduld, ongeduld dat daar so baie onnodige hartseer is, dit wat deur mense oor ander mense gebring word omdat mense nie mekaar wil respekteer nie. God huil want Hy het dit ánders bedoel met die mens, die mens wat Hy geskep het as Sy beeld om Sy verteenwoordiger op aarde te wees (Gen. 1:26). Maar, omdat Jesus op ‘n dag ja gesê het, is daar hoop vir elkeen wat in Hom glo as Here en Verlosser en kan ons vir seker weet, daar is ‘n ewige lewe anderkant die dood, “want Hy sal ons nie aan die doderyk oorlaat nie; Hy sal nie toelaat dat Sy troue dienaar vergaan nie.”


“Ek is nie bang vir die dood nie. Vir my is die dood klaar verby. Ek het mos al lank gelede saam met Christus aan die kruis gesterf” (Herman Kohlbrugge).


Gebed: Here Jesus, ek loof U dat U vir my die ewige lewe moontlik gemaak het. Ek dank U vir die feit dat U my posisie voor God verander het en dat ek nou kan lewe, al is dit nie altyd net in die lig nie, maar duisternis ook wat dreig om my te wil verswelg. Dankie Here dat U my dan vertroos met die feit dat ek “altyd moet onthou dat ek ook vir die sonde dood is maar vir God lewe, omdat ek een is met U.” Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page