top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 5 Mei 2022

Koos Espach


Petrus se eerste toespraak op die pinksterdag (4)


God sal voorsien


Hand. 2:22-23 – “Toe staan Petrus saam met die ander elf apostels op (en sê): ‘Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.”


Petrus, vol van die Heilige Gees, haal aan uit die Bybel om aan sy hoorders te verduidelik wat gebeur het en wat hulle gesien en gehoor het. In die tweede deel van sy toespraak wat nou volg, spreek hy sy hoorders op ’n nuwe manier aan deur hulle Israeliete te noem. Hy beklemtoon dat die uitstorting van die Heilige Gees bewys lewer dat Jesus die verwagte Messias is. Petrus konsentreer op Jesus; Jesus is die kern en inhoud van die Ou Testamentiese profesieë. Hy is die Gewer van die Gees, Hy is die Here, “en wie Hom aanroep, sal gered word.”


Hiermee word herinner aan die verbondsverhouding waarin die volk met God gestaan het en dat Hy nie ontrou aan Sy verbond is nie. Met groot klem wys Petrus daarop dat hulle juis dié Jesus moet aanvaar wat hulle verwerp het, “Jesus van Nasaret”, soos die opskrif aan die kruis ook gelui het: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode” (Joh. 19:19). Met nadruk herinner Petrus “die Israeliete”, dat hulle nie kan ontken dat Jesus kragtige dinge, wonderwerke en tekens, dinge wat meer krag vereis as waaroor ’n gewone mens beskik, gedoen het nie. Hierdie dinge is ’n bewys daarvan dat Hy deur God gestuur en gemagtig is om namens Hom op te tree, en het getoon dat “in Hom die koninkryk van God in die wêreld gekom het en werksaam was” (Luk. 11:20).


Dan bedien Petrus nou ‘n klagstaat aan die Israeliete. Hy sê dat God, Jesus aan hulle geopenbaar het deur wonderwerke en tekens en hulle moet erken dat hulle gesondig het deur Hom nie as die gemagtigde van God te aanvaar nie. Die raad of besluit van God staan vas en is onveranderlik, Hy weet en sien alle dinge vooruit. Indien dit Sy wil was, kon Hy voorkom het dat Jesus om die lewe gebring word. Dit is egter God sélf wat toegelaat het dat sy Seun oorgelewer word – “Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom skenk nie” (Rom. 8:32). Dit was eintlik die Jode wat Jesus “deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak het,” en hoewel dit alles volgens die raad en voorkennis van God geskied het, dra hulle volle verantwoordelikheid vir Jesus se dood.


“God het Sy eie Seun nie gespaar nie”, want Sy liefde is geen spaarsame liefde nie. Waar God bereid was om tot sulke uiterstes te gaan, spreek dit vanself dat Hy aan sy kinders ook “al die ander dinge saam met Christus” uit genade, sal skenk. Wie aan Christus verbind is, ontvang uiteindelik alles wat Hy verkry het. Alles is egter nie dieselfde as enigiets nie, dit sluit slegs alles in wat volgens God se raadsplan vir ons as Sy kinders bestem is.


As God bereid was om ons Sy Seun, hierdie grootste van alle geskenke, te gee, sal Hy nie ook volgens Sy raadsplan, in al ons behoeftes voorsien nie? Ons eerste reaksie is gewoonlik: “Ja, maar...” Ons bly steeds bekommerd – oor môre, ons toekoms, ons werk, ons kinders, alles. Daar is baie mense wat wonder oor die stukkie pad wat God vir hulle afgemeet het, mense met verpletterde drome, hartseer en moeilikhede, mense wat nie weet waar hulle volgende stukkie kos vandaan gaan kom nie. Werk afleggings is aan die orde van die dag. Gegradueerders sit by die huis, hulle toekomsdrome is aan flarde. Die werkloosheidsyfer in S.A. styg daagliks. Ons mooi land van weleer, is deur ‘n onbekwame regering in die grond in bestuur tot rommelstatus. Moet ons gevoelloos oor die lewe kyk? Met respek, weet Jesus wat werklike armoede beteken? As ons die huidige moeilike ekonomiese omstandighede in oënskou neem, kan ons nie anders as om bekommerd te wees nie.


Sal God sy Seun vir ons, aan ’n kruis laat spyker om dan maar net van ons te vergeet, om dan maar net ons gebede te verontagsaam? Soms dink ons tog so. En hoekom? Dalk omdat ons verstandjies werklik te klein is om God se liefde en genade te verstaan. Te verstaan dat die lewende God steeds “deur kragtige dade, wonders en tekens by ons doen. Hy het Jesus uit die dood laat opstaan.” Hy is getrou. Hy sorg nog elke dag en voorsien ons van genadebrood. Ja, daar is miskien nie elke dag botter op die brood nie maar God het immers gesorg dat ons vandag gehaal het. Hy het gesorg dat ek en jy vir vandag iets het om aan te trek, ‘n kombers vir die koue het en ietsie vir die maag. Wanneer ons God volkome vertrou, kan ons vry word van lewensangs, stres en bekommernisse. Stem jy saam?


“Dat God voorsien, beteken dat daar ‘n kreatiewe en reddende oplossing in elke situasie moontlik is. God se voorsiening beteken dat die bose magte wat ons wil oorweldig nie ‘n permanente greep op ons kan behou nie en die band waarmee Sy liefde aan ons bind, nie verbreek kan word nie” (Paul Tillich).


Gebed: God van my lewe, die laste van die lewe wat ek dra, skaaf my skouers stukkend. Die pad wat ek elke dag loop lyk maar vaal en eindeloos. Ek bekommer my siek oor die toekoms maar dit is omdat ek soos ‘n kleingelowige dink dat U rustig slaap terwyl my lewensbootjie sink. Dankie dat ek my bekommernis by U kan laat na elke dag se swoeg. Die lewe is vir sommige mense nie meer ‘n lied nie, daarom bid ek vir hulle wat moed verloor het en wie se hoop elke dag taan. Ek weet U sal ons red van die skadu’s om en binne ons. Dankie dat U ons veilig deur alles gedra het en steeds sal dra. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page