Gedagte vir Vandag

Woensdag, 4 Mei 2022

Koos Espach


Petrus se eerste toespraak op die pinksterdag (3)


Die Bybel sê ... ons is kinders van God


Hand. 2:17 – “Toe staan Petrus saam met die ander elf apostels op (en sê): ‘God het gesê: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom.”


Wanneer mense oor die Bybel praat, en veral predikante wanneer hulle preek, is die geliefkoosde woorde waarmee begin word: “Die Bybel sê ...” Wel, dit is niks nuuts nie. Petrus, vol van die Heilige Gees, het ook die Bybel aangehaal om te verduidelik dat dit wat die mense gesien en gehoor het, die vervulling was van die profeet Joël se profesie. (Terloops, profete van die Ou Testament was mense wat God se boodskap oorgedra het, nie mense wat die toekoms kon voorspel nie.)


Petrus beklemtoon, volgens Joël, dat God nie net Sy Gees uitstort op kerkleiers nie, maar ook kinders, jongmense en selfs bejaardes. Hulle almal sal geesdriftig wees oor die koninkryk van God. Charles Spurgeon het op ‘n keer met sy tuiskoms na ‘n kerkdiens, vir sy vrou gesê dat twee en ‘n half mense daardie aand die stem van die Heilige Gees gehoor, en hulle harte vir Hom gegee het – twee kinders en ‘n grootmens. “Jy bedoel seker twee grootmense en ‘n kind,” antwoord sy. “Nee, twee kinders en ‘n grootmens. Die helfte van die grootmens se lewe is al verby, maar die kinders s’n lê nog voor,” verduidelik hy.


Dit is nodig dat kinders so vroeg as moontlik by die Here moet uitkom, want hoe ouer mens word, hoe moeiliker word dit om tot bekering te kom. Jesus het immers aan die dissipels verduidelik dat kinders (en jongmense), baie vir ons grootmense kan leer hoe om die koninkryk van God te ontvang (Luk. 18:15-17). Die werk onder kinders en jongmense in elke gemeente is van uiterste belang. God se bedoeling is om goddelike kinders op te voed “na Sy beeld” (Gen. 1:26). Die Bybel sê: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God ... Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom. 8:14, 16).


“Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.” Dié leiding beteken dat die Gees die bestuur van mense se lewe oorneem en hulle God laat dien in die nuwe bedeling van die Gees, die Gees wat nie ‘n slawegees is nie, maar die Gees van kindskap. Hy skep in ons ‘n kindergesindheid wat ons tot God laat roep: “Abba!” Die feit dat ons God as “Abba” mag aanspreek, beklemtoon hoe naby Jesus, die Vader regtig aan ons gebring het. Wat ’n wonderlike voorreg! In Openbaring 5:10 lees ons: “U het (ons) ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en (ons) sal oor die aarde regeer.”


Hoe beleef ons vir God? Ons hoor gereeld van iemand wat ‘n besondere ervaring van God beleef het, ‘n droom, ‘n gesig of selfs dat God met hom/haar gepraat het!? Ander weer beleef dat God die “Grootbaas” is wat mens voortdurend met arendsoë dophou om te kyk of Hy jou nie kan uitvang nie – Hy is Baas en ons die slaaf wat net gehoorsaam en getrou vir Hom moet tevrede hou. Van kleins af word ons met die bangheid van ’n slaaf teenoor sy Baas grootgemaak – “as jy stout is gaan liewe Jesus ...!” Ons is bang ons stel Hom teleur, bang ons maak Hom kwaad. En wanneer dit moeilik gaan is ons gou om te sê: “Die ‘Oubaas’ praat weer hard met my!”


Verkeerd!!! Eerstens is God nie ‘n familiêre ‘Oubaas’ of ‘Grootbaas’ of selfs ‘Baas’ nie, óf die Outjie daarbo nie, Hy is die Almagtige God! God is die Bron van ons Gesag, Hy verdien respek! God het laaste by Golgota hard gepraat toe Hy sy Seun aan ‘n vloekhout laat vasspyker het omdat Hy ons sondaars lief het! God is ‘n God van liefde! Hy is nie Baas en ons slaaf nie! Slawe doen goed omdat hulle moet, nie omdat hulle wil nie. Daarom is daar baie kinders van die Here wat ’n klomp goed doen omdat hulle dit maar móét doen – ons móét maar kerk toe gaan; ons móét maar Bybelstories lees; ons móét maar bid as ons iets nodig het; ons móét maar ons kinders laat doop; ons móét maar belydenis van geloof aflê; ons móét maar ons dankoffer gee; ons móét maar gelowig wees; ons móét maar ...! – ‘n menigte dinge wat ons maar móét doen. Slawe móét, kinders wil.

Die Heilige Gees wil ons laat besef dat ons kinders van God is, wat dit beteken om God werklik soos ’n kindjie aan te spreek en lief te hê, klein genoeg te wees sodat ons God kan aanroep soos ‘n kindjie: ‘Abba, Vader!’ Die hartseer is dat ons deur die lewe kan gaan sonder om vir God ooit as Vader aan te spreek. Ons is in die Vaderhuis, ons is kinders van die Vader, maar ons loop nog steeds met slaweharte rond. Ons het nog nie daardie intimiteit met ons hemelse Vader ontgin nie. Om Hom te dien is baie keer ’n plig, nie ’n voorreg nie; ’n móét, nie ’n mag nie; ’n saak van vrees, en nie van blydskap en liefde nie. En dit terwyl ons ‘Abba, Vader,’ die intiemer sy van Homself wil kom wys, Sy arms uitsteek en ons op sy skoot kom tel, ons vashou en naby ons wil wees en sê: “My kind, Ek weet die lewe is soveel beter as jou Pappa naby is.”


“God is nie ‘n idee of ‘n definisie wat ons van buite geleer het nie: Hy is ‘n teenwoordigheid wat ons in ons hart ervaar” (Louis Evely).


Gebed: Hemelse Trooster, dankie vir U teenwoordigheid, ‘n teenwoordigheid wat anders is, soveel groter, soveel meer intiem en vertroostend. Dankie dat U my die versekering bied, die versekering wat alles oorskry: “Dat ek ‘n kind van God is!” verseker en herinner my elke dag daaraan. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon