Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 3 Mei 2022

Koos Espach


Petrus se eerste toespraak op die pinksterdag (2)


Nie net aanroep nie, maar ook die genadewoord doen


Hand. 2:16-21 – “Toe staan Petrus saam met die ander elf apostels op (en sê): ‘Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het: Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom. Ja, op my dienaars en dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal as profete optree. Ek sal tekens bo in die lug en wonders onder op die aarde gee: bloed en vuur en rookwolke. Die son sal pikdonker word en die maan bloedrooi voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. So sal dit dan wees: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”


Petrus vertel nou wat werklik gebeur het. Wat sy hoorders gesien en gehoor het, was nie die optrede van dronk mense nie, maar die woorde van die profeet Joël wat pas waar geword het. Met hulle besondere eerbied en kennis van die Skrif, luister hulle na Petrus wat uit Joël 2:28-32 aanhaal. Wanneer Petrus van “die laaste dae” praat, is hy slegs besig om daardie profesie van toepassing te maak op die gebeure van Pinkster. In Joël gaan dit oor twee groot rampe: sprinkane en droogte. Elke keer wanneer die volk swaar gekry het, was “die laaste dae of die dag van die Here” altyd ter sprake. Op daardie dag, het die volk geglo, sal die Here alles weer regruk.


Petrus beroep hom op Joël se profesie om te bewys dat met die uitstorting van die Heilige Gees, die Messiaanse ryk aangebreek het. Net soos die reën uit die hemel die droogte op die aarde gebreek, en ‘n einde aan die sprinkaanplaag gebring het, net so stort die Here sy Gees op alle mense uit en verlig die dorheid in die mens se bestaan. Die “laaste dae” is die dae waarin die genade van God hom op ’n besondere wyse gaan openbaar. Dit is die nuwe tyd, die genadetyd waarin ons vandag leef, die tyd tussen die eerste koms van Christus (Joh. 1:14), tot met Sy wederkoms. Dit is die tyd waarin God se beloftes in vervulling gaan, ook die uitstorting van die Heilige Gees, soos dit pas plaasgevind het.


Volgens Joël se profesie, sal die hele menslike geslag die seën van die Heilige Gees ontvang, nie net Israel nie. Nie net profete en priesters nie, maar almal sal die voorreg geniet om die Gees deelagtig te word. Wat in Israel of in die Ou Testamentiese tyd slegs by uitsondering gebeur het, word nou algemene reël dat seuns en dogters ook die vermoë sal hê om God se wil aan ander bekend te maak, hulle op te bou in die geloof en te vertroos. Die sien van gesigte en droom van drome, d.w.s. God se besondere wyse van openbaring, sal nie ophou nie. Seuns en dogters, jong en ou mense, álmal kom in aanmerking vir die gawe van die Gees, en almal, sonder onderskeid, mag deel in hierdie genadegawe. “Dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep” (Rom. 10:12b).


Die tweede groep gebeurtenisse van die laaste dae is die tekens wat die wederkoms van Jesus en die oordeelsdag, sal voorafgaan. Die uitstorting van die Heilige Gees is die eerste, of voorteken van hierdie dinge wat gaan kom en met die einde van die wêreld saamval. Die “tekens aan die hemel of bo in die lug,” is van groot betekenis vir die aarde. As die son sy lig nie meer gee nie, word alle lewe op die aarde uitgewis. As die maan bloed word, is dit ’n teken van rampe en oorlog, waardeur die mensdom te gronde gaan. Maar “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” Om die Naam van die Here aan te roep, beteken om die God van die verbond in die gebed aan te roep, die Naam aan te roep van Christus, ons Verlosser.


Om God aan te roep, is iets méér as sommer net uit gewoonte uit want ons besef en wéét wie God is. Hy wil nie net dat ons na Hom luister en Hom aanroep nie. Hy verwag iets meer as net my en jou mond wat Hom bely. Hy verwag ons moet Hom aanroep en in ‘n persoonlike verhouding met Hom tree, iets aan ons verhouding met Hom dóén, en nie net luister nie. God het Hom aan ons bekend gemaak deur Jesus Christus as die Woord, die Woord wat mens geword het en onder ons op aarde kom woon het (Joh. 1:14). Op hierdie punt vra Paulus ‘n baie belangrike vraag: “Hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie?” (Rom. 10:14).


Hierdie geloof is dan om “met ons mond te bely dat Jesus die Here is en met ons harte glo dat God Hom uit die dood opgewek het” (Rom. 10:9). As ons dit nie van Jesus glo nie, gaan ons Hom nie aanroep nie, voor ons Jesus Christus kan aanroep en in ‘n persoonlike verhouding met Hom kan lewe, moet ons eers in Hom glo. En hoe kan ons in Hom glo? Dit is die goeie nuus van die Nuwe Testament, dit is die lewende God wat praat, Sy Woord het deur sy Gees tot by ons gekom, om die waarheid te sê, in ons mond en in ons hart, en “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” Glo dit! Vertrou dit!


“Onthou dat geloof nie net vertroue op Christus se beloftes beteken nie, maar ook verbondenheid aan Sy eise” (William Barclay).


Gebed: Jesus Christus ons Here, wys my asseblief opnuut weer waar en hoe my hart U moet soek wanneer ek soms voel dat U afwesig is. Ek wéét dit is nie nodig om op te klim na die hoogtes toe nie of af te daal na die dieptes nie, want U het opgestaan, U is deur U Gees by my. My begrip is maar beperk maar ek begryp U is die Waarheid, en dit is wat ek glo. Dankie Heilige Gees dat U die Een is wat geloof in my werk. Gebruik dit wat ek hoor om my geloof te kweek en ook te deel met ander mense wat nog nie die Waarheid wil aanvaar nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon