top of page

Gedagte vir Vandag

24 Nov 2020

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)

JESUS SE VIERDE TOESPRAAK: VERHOUDINGS TUSSEN GELOWIGES

(Matt. 18:1-35)

DIE BELANGRIKSTE IN DIE KONINKRYK (1)

(Mark. 9:33-37; Luk. 9:46-48)

WEES NEDERIG TEENOOR MEKAAR!


Matt. 18:1-4 – “In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: ‘Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?’ Hy het ‘n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: ‘Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.”


Ter inleiding is dit nodig om te weet dat hoofstuk 18 van die “Evangelie volgens Matteus”, die vierde lang preek is waarin Jesus Sy dissipels meer wil leer oor die aard van die koninkryk van God en Sy kerk se rol daarin. Volgens verskeie Skrifverklaarders kan dit ook beskou word as die hoofstuk van “Christen-etiek,” want Jesus sit nie net Sy onderrig met Sy dissipels voort nie, maar rig ook sewe “voorskrifte” aan ons en hoe ons as Sy volgelinge, na mekaar moet omsien. Matteus 18:1-4 vorm die eerste van die sewe voorskrifte en dien ook as vertrekpunt en fondament vir die res van die hoofstuk. Wanneer die dissipels vra na wie die belangrikste sal wees in die koninkryk, is dit nie ‘n vraag uit ywer vir die koninkryk nie maar uit naywer onder mekaar.


Daar was verskeie rangordes onder die mense in die Joodse samelewing. Hulle was nougeset daarop dat die eerstes onder hulle geëer moes word. Die godsdiensleiers was veral bekend daarvoor dat daar ‘n duidelike onderskeid tussen belangrike en onbelangrike mense, tussen heiliges en onheiliges, is. Dit is dan ook hulle wat gewoonlik die voorste sitplekke in die samelewing, vir hulleself toegeëien het.


Aangesien Jesus nou 'n nuwe koninkryk daar wil stel, is dit nie vreemd dat die dissipels wil weet wie dan die belangrikste mense in hierdie koninkryk sal wees nie. Markus meld in sy Evangelie dat die dissipels daaroor geredeneer het terwyl hulle op pad na Kapernaüm was (Mark. 9:33), pas nadat Jesus die tweede keer Sy lyding, dood en opstanding aangekondig het. Ten spyte van die lydensaankondiging, het die dissipels tot die oortuiging gekom dat Jesus se aankoms in Jerusalem gepaard sou gaan met ’n grootse gebeurtenis, vermoedelik die stigting van ’n aardse Messiasryk. Hierdie vraag illustreer helaas dat hulle steeds verkeerde voorstellinge het van die koninkryk van God.


Volgens Markus, vra Jesus in die huis van Petrus hulle uit na hulle gesprek. (Die vraag is beslis ‘n retoriese vraag want Jesus weet in sy Godheid, waaroor die gesprek gegaan het.) Die vraag tref hulle as ’n verrassing en hulle stilswye openbaar ’n besef van skuld. Sou hulle dalk reeds bevoorregte posisies vir hulleself bedink het? Dalk was dit die rede waarom hulle Jesus begin volg het. Jesus het moontlik vir hulle gelyk na die Een wat hulle uit hulle sukkelbestaan as visvangers en belastinggaarders kon help as Hy eers koning in Jerusalem is. Hulle twis oor portefeuljes in Jesus se kabinet – wie gaan eerste minister wees, minister van finansies, minister van handel, en visserye, en …? Wie is die belangrikste onder hulle (Mark. 9:34), wie gaan die naaste aan die troon wees?


Dalk het hulle gewonder of hulle name ook bygevoeg gaan word onder die top twintig, saam met manne soos Abraham, Moses en Elia of selfs Dawid. Hulle was immers reeds in die bevoorregte posisie as die top twaalf gekeurde dissipels van niemand anders as Jesus self nie! Opvallend hoe hulle aanneem dat die prioritete van God se Seun dieselfde moet wees as hulle eie.


Vandag nog is dit ‘n probleem wat die getuienis van die evangelie lam lê. Ons wil graag dat God moet dink soos ons dink, wees soos ons wees, want God moet gaande wees oor dieselfde dinge as ons. Hy het ons dan só geskep! Elke gemeentelid in die kerk wil belangrik wees en dit gee soms aanleiding tot verdeeldheid waar ons nie langer na mekaar omsien nie.


Jesus antwoord nie hulle vraag direk nie, maar hul motiewe agter die vraag. God se prioriteite is anders as ons s’n – só anders dat sy Seun, terwyl hulle loop en stry oor wie die belangrikste in die aardse koninkryk gaan wees, nie op pad is na ‘n verhewe troon toe is nie, maar na ‘n koppie met ‘n kruis! Só anders dat hulle daar niks van verstaan nie. Jesus se antwoord op hulle vraag ‘wie die belangrikste in die koninkryk van die hemel is’, moes hulle soos ‘n beker koue water getref het: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander nie …” Hoe tref Jesus se antwoord ons?


Is ons nie dalk in ‘n verkeerde rigting nie? Beweeg ons nie miskien weg van die Koninkryk van God en nie daarheen nie. As julle nie julle houding teenoor mekaar verander nie”, daardie eie-ek houding van ek is die beste; ek besit die meeste; ek is nie so groot sondaar soos my buurman nie; ek is die belangrikste want ek beklee die beste posisie in die samelewing; ek … ek … alles ek! “As jy nie verander nie …”, is jou rug gedraai na die Koninkryk van God. Indien jy wil verander, moet jy omdraai en kyk ná die Koninkryk. Dit is dáár waar God nie besorg is oor wat ons van onsself maak of dink nie, maar besorg is oor wat Hy van ons kan maak! Dit is ook dáár waar God besorg is oor wat ons van mekaar wil maak: Wil ons oor mekaar heers, of wil ons mekaar in nederigheid dien?


“Deur die eeue lyk dit of Jesus, die Meester van ‘n nederige leefstyl, Sy waarheid die duidelikste openbaar in nederige mense; asof Hy Homself ‘n bietjie wegsteek vir dié wat so vol is van hulleself” (Julian van Norwich).


Gebed: Almagtige Vader, U is die begin en die einde van my lewe. Daarom vra ek dat U die trots uit my hart sal weer; dat U die illusie dat ek enigiets sonder U kan doen, sal wegneem. Herinner my asseblief gedurig daaraan dat U, en nie ek self nie, my gemaak het wat ek is. Skenk my daardie geestelike krag om nederig te wees, dan en dan alleen, sal dit vir my moontlik wees om in Jesus se nederige voetspore te volg, en dan is dit moontlik om ander hoër te ag as myself en in nederigheid te kan dien.Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page